Heruitsending van bekroonde Slang in die gras


Op Donderdag 8 Junie is daar weer ‘n geleentheid om na wyle Chris Madjiedt se bekroonde drama, Slang in die gras, te luister in Radioteater op RSG.  Die drama, Madjiedt se debuut vir die radio, was in 2013 die naaswenner in die radiodramaskryfkompetisie.  Dit is in 2014 vir die eerste keer uitgesaai, onder die spelleiding van Eben Cruywagen, met Madjiedt in die naamrol.

Madjiedt is in 2020 weens longkanker oorlede. Hy was bekend vir sy teater- en televisiewerk, en het onder meer in die rolprent Jakhalsdans verskyn.  Op RSG is hy onder meer gehoor in die middagvervolgverhaal Laat Vrugte, en in die radiodrama, Gert Garries, ‘n Baaisiekel Blues, deur Pieter Fourie.

Slang in die gras handel oor ‘n groep oudgevangenes wat op die stortingsterreine om Kaapstad woon.  Hulle sif deur die rommel vir goedere wat hulle kan smous, veral koper en aluminium.  In die rangorde op die stortingsterreine is Slang die “baas” en hy en sy groep kan eerste deur die rommel soek wat hulle wil hê, daarna kan die res voortgaan.   Slang en sy groepie vriende was in die tronk ook bendelede, lede van die sogenaamde “nommers”.  Slang is die leier van die groepie, en as dit goed gaan koop hy Vrydae vir hulle vis en skyfies, soms truie of iets om aan te trek.  Sy broer Ballie word uit die tronk vrygelaat, omdat hy baie siek is weens tering.  Vir sy groepie vriende vertel Slang egter dat hy glad nie vir Ballie ken nie. Hy is baie beskermend teenoor Ballie, want hy het hulle Ma op haar sterfbed belowe dat hy na Ballie sal kyk…en dié belofte wil hy tot elke prys nakom. Maar gierigheid steek kop-uit, en verraad word nie ongestraf gelaat nie…

Ander spelers wat gehoor kan word sluit in, Charlton George, Marlo Minnaar, Roysten Stoffels, en Andre Samuels.

Luister na die reeks op potgooi.