Hoogtepunte en foto’s van die Diana Ferrus konsert


Skaars ‘n jaar na Antjie Krog se 70ste lewensjaar op RSG met ‘n regstreekse uitsending uit die Seepunt-ateljee in Kaapstad gebeur het, is Diana Ferrus se 70ste ook met ‘n regstreekse uitsending op RSG gevier. AVBOB het beide uitsendings ondersteun en die ouditorium het weereens uit sy nate gebars, skryf Johan Rademan, aanbieder, samesteller en regisseur van die Dianna Ferrus aanbieding.

 

Antjie Krog was instrumenteel in die oorgangstydperk in Suid-Afrika in aanloop tot die eerste volwaardige demokratiese verkiesing in die RSA.

Diana Ferrus, ook skrywer, digter, filosoof en aktivis, is weer met ‘n gedig oor Sarah Baartman in die Franse senaat  aangehaal en dit het tot gevolg gehad dat die strekking van die gedig opgeneem is in Franse-wetgewing.

Die uitsending het voor ‘n genooide gehoor plaasgevind en die invloed van ouer Afrikaanse digters in Diana Ferrus lewe, soos C Louis Leipoltd en Eugene Marais het ook ‘n belangrike plek ingeneem in die uitsending.

 

Musici het verfrissende nuwe toonsettings van Petrus Kerwin, ‘n M-Student in komposisie aan die US Konserwatorium van Ferrus se werk voorgehou. Jason September (tenoor) en  Devon Gertse (bariton) is begelei deur Josh Pietersen – almal B.Mus studente van US. Die Ferrusgedigte, Komvandaan en Nalatenskap, sal nog lank by die gehoor en luisteraars resoneer. Kerwin het die program aangevul met dwarsfluitspel.

Nog ‘n hoogtepunt wat die mense en Diana Ferrus geroer het was die Suid-Afrikaanse sopraan Magdalene Minnaar se vertolking van die kultuurkleinood Mali die slaaf se lied van Leipoldt, wat deur S le Roux Marais getoonset is. Minnaar is die Artistieke Direkteur van Kaapstad Opera en is begelei deur José Dias.

Die verhaal van Sarah Baartman se terugkoms na Hankey in die Oos-Kaap is deur twee drama-uitreksels van Karien Polley oorgedra. Die krag van radio is tydens die vertoning onderstreep met, gesprek, drama, musiek en byklanke. Die akteurs June van Merch en Marcel van Heerden is met die inheemse klanke van musiekdosent, Garth Erasmus, aangevul.

 

Twee uitvloeisels van Diana Ferrus en C Louis Leipold wat beide “woorde laat tel het”  is die slawebewusmaking of ontsluimering deur woorde.

Eerstens: Leipoldt met Mali die slaaf en Ferrus met die  Ansela van de Caap-projek

TweedensLeipoldt sterf op 12 April 1947 in Kaapstad en sy as is in die bergwêreld van die Pakhuispas naby Clanwilliam weggelê. Die gestorwe Sarah Baartman word weer via Ferrus van Frankryk na Suid-Afrika gebring.

Beide skrywers is verruim met buitelandse besoeke; trouens Diana Ferrus se seminale gedig, Ek is hier om jou huis toe te neem  is onder Nederlandse sterre, terwyl sy aan die Utrecht Universiteit studeer het, geskryf. (Hier het sy ook na haar ma verlang en die gedig is ook aan haar opgedra). Leipoldt het weer in Londen studeer. Beide geïnspireer deur die Noordelike halfrond.

Die lewensverhaal van Diana Ferrus, verklank, uit ‘n skuiling in ‘n agterplaas in Worcester, met Slawe, Khoi en Ierse bloed, was ‘n reuse uitdaging, maar gering teen die uitdagings wat Ferrus die hoof moes bied. Armoede, getraumatiseerde ouers, ‘n liefdevolle ouma wat sterf toe sy 13 was. UWK ontgogeling toe die ‘Bosuniversiteit” gesluit het agv student-onluste en verset in die Tagtigerjare.

Die latere kontak met Adam Small, Jakes Gerwel, Tony Links en ander liefhebbers van Afrikaans en die letterkunde wat haar ‘n Meestersgraad laat voltooi het oor die bemagtiging van swart Suid-Afrikaanse Vroueskrywers en ‘n ere-Doktorsgraad in Filosofie van die Universiteit Stellenbosch, is ‘n toonbeeld  en inspirasie vir menigte opkomende skrywer.

Die gesellige aanloop met ‘n glasie Boplaaswyn en die afloop daarna sal baie RSG-luisteraars nog lank koester, maar oral in die land met Charles Louw voor die vleuel en gespreksgenoot en voorleser Diana Ferrus se Peace Song, het haar woorde getel en sal die stukkie goud, Diana Ferrus – 70 jaar se woorde wat tel in ons harte en die die RSG-argiewe bewaar bly.