Klein Karoo Klassique was ene hoogtepunte


So is ek die gelukkige ou wat die RSG-prys gewen het om die Klein Karoo Klassique van 4 tot 6 Augustus in Oudtshoorn by te woon, skryf Jasper Coetzee.

Baie dankie RSG, Klein Karoo Klassique, Queen’s Hotel en die beste olyfolie in die wêreld, De Rustica, vir ’n wonderlike naweek!

Die Klein Karoo Klassique is die plek waar klank, ritme en harmonie in ’n ruimte bymekaar gebring word en weergalm om ‘n onvergeetlike ervaring te maak.

Ek kon vyf uitvoerings bywoon wat deur Suid-Afrikaanse wêreld-klas musikante aangebied is. Na elkeen het die legendariese Coenie de Villiers en Lynelle Kenned met die musikante gesels het om hul insig oor die musiek te deel.

Maar die fees bied veel meer as musiek. Daar is gesprekke oor boeke, ’n kunsuitstalling, historiese wandeltoere deur die dorp en geleenthede om bier en kaas te proe.

Die hoogtepunt vir my was ongetwyfeld die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera. Dit gebeur min dat die gehoor binne minute die dak lig, maar die vier wêreld-klas soliste en begeleier het dit reg gekry! Die immergroen hoogtepunte uit die bekendste operas en musiekblyspele was besonders. Bravo aan Brittany Smith (sopraan), Alida Scheepers (sopraan), Lukhanyo Moyake (tenoor), Conroy Scott (bariton) en begeleier, José Dias.

Nog ‘n hoogtepunt was KAROONAG met die multi-bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart en gaskunstenaars Coenie de Villiers en soprane Alida Scheepers en Brittany Smith. Dit is verstommend om te dink dat die koorlede afkomstig is van dorpe soos George, Knysna, Oudtshoorn en selfs so ver as Stilbaai. Die ouers van die kinders verdien ‘n klop op die skouer om gereeld hul kinders by konserte en oefensessies te kry.

Benewens die musikante het ek ook ‘n paar bekendes gesien. Skrywer Deon Meyer was daar, maar ek het nie vir kaptein Bennie Griesel gesien nie. Hy was seker besig is om ‘n misdaadtoneel iewers te ondersoek.

Bekendes uit die sakewêreld, Dr Franklin Sonn en die aanbieder van Kletsrym Sonder Grense op RSG, Frazer Barry, was ook daar.

Hier is ‘n paar foto’s wat deur Hans van der Veen geneem is en wat ons met vergunning van die Klein Karoo Klassique mag plaas.

Ek verkies om self foto’s te neem, maar kon nie die geleentheid verby laat gaan om ‘n foto saam met Nic Barrow (regs), die vader van die KKNK en die Klein Karoo Klassique, te neem nie. Hy het die Grahamstadfees in 1992 bygewoon en besef dat daar ’n geleentheid was om ’n kunstefees in Afrikaans in Oudtshoorn aan te bied. Daar word vertel dat Nic knorrig was toe hy en sy vrou, Nicolene, nie ‘n tafel by ‘n restaurant in Grahamstad kon kry nie. Dit het hom finaal oortuig en die eerste KKNK is in 1995 aangebied. Die res is geskiedenis. Jasper Coetzee staan links.

 

Sopraan, Brittany Smith, saam met die Suid-Kaap Kinderkoor.

 

Karoonag met die multi-bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart en gaskunstenaars Coenie de Villiers en soprane Alida Scheepers (foto) en Brittany Smith.

 

Die ATKV-Galakonsert deur Kaapstad Opera se wêreld-klas soliste en begeleier. Vlnr: José Dias (klavier), Lukhanyo Moyoka (tenoor), Brittany Smith (sopraan), Alida Scheepers (sopraan en Conroy Scott (bariton).

 

Die ATKV-Galakonsert deur Kaapstad Opera met sopraan, Alida Scheepers, en begeleier, José Dias (klavier).

 

Megan-Geoffrey Prins (klavier) speel die tydlose musiek van Arvo Pärt.

 

Die uitvoering van vriendskap en die opbouende krag van musiek deur jarelange boesemvriendinne en uiters bekwame klassieke musikante Zanta Hofmeyr (viool), Elna van der Merwe (klavier), Jeanne-Louise Moolman (viool) en Susan Mouton (tjello).

Vir meer inligting oor die KKNK en die Klein Karoo Klassique, besoek www.kknk.co.za en www.klasique.co.za