Kobus Burger, RSG se nuwe programbestuurder, gesels oor uitdagings


Só het Beeld oor Kobus se aanstelling berig

Kobus Burger is aangestel as RSG se nuwe Programbestuurder. Hy het op 1 Oktober in dié pos begin.

Wie is die man wat nou in dié warm stoel sit? Wat dink hy van die uitdagings?

Kobus se radioloopbaan het op Stellenbosch begin. Hy  was by Radio Matie (later MFM) betrokke toe hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. In sy finale jaar van Honneurs Joernalistiek aan Maties het hy inderdaad ’n SABC-beurs gekry en kon toe by die SABC in Seepunt gaan werk, maar hy het dit van die hand gewys om eerder by Beeld se Kalender as kabaretresensent te gaan werk. “Dit was maar van kleins af ’n droom om by die radio te werk. Ek was gek oor Wolwedans in die Skemer en het in my staptogte na die see altyd my eie radioprogram (vir myself) aangebied,” skryf hy.

“Ek het by RSG betrokke geraak toe Suzaan Steyn my genooi het om teaterresensies vir haar Vermaak op ’n Donderdagaand te lewer. Dit was opwindende tye met al die adrenalien van regstreekse radio. Vandaar is ek gevra om Rand en Sent (op Sondae) aan te bied. En toe is ek op 1 Mei 2012 voltyds aangestel as RSG se uitvoerende regisseur: drama.”

Sy pad tot by RSG

Kobus het ’n BA-graad in Sielkunde en Afrikaans van die Universiteit van Stellenbosch, asook ’n Hons. B. Joernalistiekgraad (cum laude) ook aan die US verwerf.

Hy was voorheen by Beeld en was onder andere resensent en redakteur van Plus. Hy is in 2009 weg toe hy as die KKNK se programbestuurder aangestel is.

Hy was ook M-Net en Multichoice se interne kommunikasiebestuurder, deeltydse lektor in die joernalistiek aan die Universiteit van Johannesburg en Universiteit van Pretoria en ook vryskutjoernalis in die musiekbedryf en vir talle tydskrifte.

‘n Groot Uitdaging

“Dis ’n reuse-uitdaging om programbestuurder vir ’n nasionale radiostasie te wees met ’n mandaat, streng lisensievoorwaardes, uiteenlopende programme, omroepers en luisteraars. Maar dit maak dit opwindend en dan natuurlik ’n avontuur omdat ek graag op ’n kreatiewe maniere nuwe insette wil lewer.

“Daar is heelwat mededinging in die wêreld van klank en tradisionele radio sal moet aanhou vernuwe en relevant bly.

“Dan moet die SABC en RSG finansieel volhoubaar bly en ek glo daar is nog ’n paar horisonne wat radio en klank nog nie binnegevaar het nie. Ek wil so graag deel wees daarvan.

“Ek wil graag ’n verskil wil maak in mense se lewens. Dit was nog altyd my passie met byvoorbeeld drama, RSG se radiodrama-kompetisie en ander drama-verwante inhoud. Die bekroonde RSG Kunstefees, deur talle mense beskryf as ‘n “eerste in die wêreld”, was my geesteskind en ek het nog altyd gewonder waar en hoe kan ek daardie vernuwing voortsit.

“Ek glo dat hierdie pos sal skitter van die geleenthede. Ek is nie een vir die kalklig nie en wil eerder in ’n span werk, die stasie, sy inhoud, sy luisteraars en personeel dien.

“Die medialandskap in Suid-Afrika verander voortdurend. En alle radiostasies kondig in ’n nuwe jaar veranderinge aan. RSG sal dalk weer veranderinge aan programme en inhoud aanbring en nuwe omroepers bekend stel of  bekende stemme terugverwelkom.

“Dit bly egter belangrik om in voeling te bly met luisteraars. Ek beantwoord daagliks die klagtes van luisteraars en dikwels gee ek net die feite en luisteraars waardeer dit. Hulle verstaan nie aldag waarom sekere dinge so werk of wat die mandaat van ’n openbare diens uitsaaier is nie. Ek het al klaers gehad wat om verskoning gevra het vir hul klagtes. Die korrespondensie is vir my ’n goeie barometer.

“Dan moet ’n mens egter ook onthou dat RSG meer as 1,3 miljoen luisteraars het, landwyd uitsaai en dat ’n stasie is wat inklusief is. Op die koop toe moet die stasie volgens die lisensievoorwaardes 70% Suid-Afrikaanse musiek uitsaai. So al verkies byvoorbeeld ’n groot gros luisteraars goue oues uit die buiteland, kan ons nie net aan die versoek voldoen en die lisensievoorwaardes verbreek nie.

Het jy geweet?

  • Hy beskou homself as ’n kreatiewe mens, wat heimlik optimisties is en daarvan hou om te leer.
  • Hy skryf gereeld in vir nuwe kursusse om iets nuuts te leer. “Ek glo ’n mens moet nooit ophou om in jouself te belê nie.”
  • Kobus is ’n kreatiwiteitsafrigter wat deur dr. Eric Maisel (Amerika se voorste kreatiwiteitsafrigter) op gelei is.
  • Hy het ’n diploma in kulkuns, maar het nog nie ’n manier gevind om te verdwyn nie.
  • In sy vrye tyd is hy ook ’n asemhalingsterapeut en geniet dit om te ontspan met chi kung (’n meer aktiewe vorm van tai chi).