SA se Lippizaners woon nou in die Paarl


Die Lipizzaner-perde, alombekend vir hul betowerende danspassies, het onlangs van Kyalami in Gauteng, Kaap toe getrek. Hulle nuwe blyplek is op die plaas Mistico in die Agter-Paarl en Haidee het daar by hul stalle gaan kuier en gesels met ‘n afrigter Jhan-Mari van den Berg.

Die Lipizzaner perd-ras het sowat 800 v C ontstaan nadat Moorse invallers met Barb-perde na Spanje is. Toe kruis die perde met plaaslike perderasse en Andalusiese en Iberiese perd-rasse word gebore.  Maar nadat Spanje ingeval is, is die perde na Europa geneem waar hulle eers in Oostenryk en toe later in Lipica, Slowenië gevestig is.

Die Tweede Wêreldoorlog speel ‘n vername rol in die geskiedenis van die Lipizzaners. ‘n Teler genaamd Jankowitz Besan wat ‘n stoetplaas in Hongarye gehad het, het glo desjare ses van sy merries en twee hingste met terpentyn swart geverf, bloot sodat hulle onaansieklik moes lyk. Dit was oorlogstyd, mense het swaargekry en daar was hongersnood. Jankowitz was bekommerd dat die uitgehongerde plaaslike inwonders dalk sy perde sou eet. Hy het toe met hulle op vlug geslaan en in 1946 in Engeland aankom. Einde 1948 is hy daar weg waarna die perde in Mooirivier, Natal gevestig is. Jankowitz het later een van sy hingste genaamd Maestoso Erdem aan ‘n Poolse kavallerie-offisier verkoop. Dié het ‘n stoetplaas in Gauteng gehad, en dis ook daar (Kyalami) waar ons land se heel eerste Spaanse ry-skool ontstaan het.