Lizelle de Bruin is een van bekroondes van vanjaar se Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse en toekennings


Die wenners van vanjaar se Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse en toekennings is pas aangekondig en RSG se Lizelle de Bruin is een van die bekroondes.

Die CLF-Elise Tempelhoff-Toekenning vir Omgewingsbewaring en -geregtigheid, geborg deur die Christelike Lektuurfonds, word vanjaar aan Lizelle de Bruin gemaak. Lizelle is aanbieder van Binnekamer op RSG, ‘n ervare radioregisseur, omroeper en direkteur van Wordwise Media.

Hier is al die wenners:

Die Andrew Murrayprys vir Christelike publikasies in Afrikaans

Daniel Louw

Die wenner is Daniël J Louw vir sy groot werk, Daar is méér: Mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid.

Dié boek word bestempel as ‘n “outobiografiese reisverhaal deur Amper Stamperland en Metaversum” en is uitgegee deur Naledi. Die beoordelaars meen die skrywer waag om moeilike terreine te verken, insluitend die konsep van God se teenwoordigheid in die kuberruimte (metaversum), God in lyding, die lewe na die dood, asook ‘n unieke en sagter Godsbeeld wat ontwikkel deur gesprekke met Ou-Testamentiese wysheid en selfs Egiptiese godsbeelde.

“Hierdie werk is uniek en magistraal in sy omvang. In ‘n tyd waar mense al hoe meer soek na sin en betekenis en dit soms op vreemde plekke kry, word hier ‘n ryk verstaan en heelwat moontlikhede om sin en betekenis te vind, aan die leser gebied. Dit impliseer egter nie dat alles net goed en reg moet loop nie, maar dat die mooie en skone ook in die chaos van die lewe raakgesien moet word. Die skrywer praat uit die hart, maar vertoef deurentyd op die snelweë en ook agterpaaie van die denke, die menslike brein. Die uitgebreide navorsing vir die boek is duidelik. Die resultaat is 699 bladsye pure bederf vir die leser.”

Die beoordelaars is Nelus Niemandt, Maatje van der Westhuizen en Julian Jansen.

Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir teologiese publikasies in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans

Reluctant Prophet: Tributes to Albert Nolan onder redaksie van Mike Deeb, Philippe Denis en Mark James en uitgegee deur University of Johannesburg Press, is die wenner. Die beoordelaars skryf dat hierdie indrukwekkende boek met 72 artikels deur verskillende skrywers, lig werp op die lewe, geloof en skryfwerk van Albert Nolan as pastor, priester, profeet en politieke aktivis.”Die verskillende perspektiewe van die skrywers bied uiteindelik ‘n samehangende beeld van ‘n lewensreis vir ons tyd, en dui op die bevrydende boodskap van Christus om regverdig op te tree in die wêreld van vandag.

Dit is die verbintenis van teologiese insig met konkrete kwessies van geregtigheid in die gemeenskap, met ‘n oproep tot aksie, wat hierdie boek en die lewe van Albert Nolan relevant vir elke konteks maak. Hierdie werk het die potensiaal om gesprekke te inisieer oor die beeld van God wat Christene het – nie net in Suid-Afrika nie, gegewe die wêreldwye ‘inwaartse’ beweging na voms van nasionalisme.”

Die beoordelaars is Miranda Pillay, Nontando Hadebe en Fanie Snyman.

 Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk

Sandy Schoeman

Sandy Schoeman se Rooiletterkind (Naledi) is die wenner van die debuutprys. Die boek bied ‘n blik op die proses en gevolge van aanneming en werp lig op die dinamika van ma-wees en familieverhoudings.”Die skrywer kry dit reg om deernis en empatie by die leser te wek, jou saam met haar op ‘n reis te neem wat begin by haar hunkering om haar eie kinders te hê, haar gebedsversoek, en haar geloof wat uiteindelik gelei het tot vervulling, maar nie op die wyse wat sy aanvanklik gehoop het nie. Hier vind ons ‘n eerlike, deernisvolle vertelling sonder tierlantyntjies en sonder pretensie.”

Die beoordelaars is Anzel Kulsen, Lizelle de Bruin en Lisel Joubert.

Toekennings

Die CLF-Elise Tempelhoff-Toekenning vir Omgewingsbewaring en -geregtigheid

Lizelle de Bruin

Hierdie toekenning, geborg deur die Christelike Lektuurfonds, word vanjaar aan Lizelle de Bruin gemaak. In die motivering vir die toekenning, word gesê dat sy as ervare radioregisseur, omroeper en direkteur van Wordwise Media al jare lank ‘n uitsonderlike toewyding toon om omgewingsbewustheid te bevorder.

Een van haar merkwaardige bydraes is haar rol as aanbieder van die program ‘Binnekamer’ op RSG, ‘n Christen-leefstylprogram wat aktuele temas ondersoek, insluitend groen teologie, praktiese herwinning-wenke, groentetuine, staproetes, die balans van die natuur en plante in die Bybel. Oor die afgelope dekade het sy deurgaans ekologiese temas in haar onderhoude ingesluit, om sodoende te verseker dat ekologie en omgewingsensitiwiteit op die voorpunt van die publiek se bewussyn bly.”
Luister hieronder na die onderhoud met haar op Op en Wakker:

Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid

Dié toekenning gaan aan die organisasie Betereinders. Die Betereinders beveg enersyds armoede, veral onder swartmense, en andersyds wil hulle Afrikaners help om deel te wees van die groter, inklusiewe Suid-Afrika. Betereinders is ‘n onafhanklike nie-winsgewende organisasie en dit staan “langs” die Fontainebleau-gemeenskapskerk, maar handhaaf duidelike grense. Dit help met dissipelskap, reis in Suid-Afrika om te dien en probeer ook mense betrek wat “moeg” is vir die kerk.

Die voorsitter van Betereinders, Schalk van Heerden, se boek Betereinder (Lux Verbi) is vanjaar deur die beoordelaars van die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk met groot waardering op die kortlys vir die prys geplaas.