Luister Donderdag na ons radiodrama met ‘n Moedersdag tema


Screenshot

Jakarta Mamma is ‘n hartroerende verhaal oor die krag van ‘n ma (in hierdie geval ‘n paar ma’s) se liefde, so gepas vir die viering van Moedersdag hierdie week op 12 Mei.

Skakel in om die intrige en menswees van hierdie verhaal mee te maak.

Luister Donderdag, 9 Mei om 20:00 op RSG.

Akteurs en rolle

‘n Paar van ons land se voorste akteurs kan gehoor word in die rolverdeling: die alombekende “ou hande” wat aanhou raakvat – Joanie Combrink en June van Merch in die hoofrolle; die nuweling waarvan ons nog baie gaan hoor – Miché van Wyk en dan (in die rol van die newekarakters van kelner en wag) De Klerk Oelofse.

Mens sou seker enigiemand kon vra daarvoor, maar juis daarom kon ek dan ook vir De Klerk kies suiwer as gevolg van die energie wat hy bring na die ateljee en sy spesiale talent met byklanke, en as hy klaar hierdie “piepklein” rolle vertolk het, besef ek weer: “There are no small roles. Only small actors, ” skryf die regisseur Sophia van Taak.

Agter van links: Sophia van Taak, Joanie Combrink, De Klerk Oelofse. Voor is Frieda van den Heever, Miche van Wyk en Junie van Merch.jpg

Lee Doubell is die skrywer van die aangrypende teks.

Die skrywer, Lee Doubell:

Met die opdrag om ʼn drama te skryf wat in die week voor moedersdag uitgesaai sal word, het ek aanvanklik geglo RSG moet liewers iemand anders vra. Ek voel meer gemaklik met drama wat vol van aksie en intrige is, maar die muse het een oggend vroeg kom kuier en die storie vir Jakarta Mamma is vir ʼn koppie tee en ʼn paar koekies verruil.

Ek het onthou van die talle jong meisies wat in vreemde lande agter tralies sit. Meeste van hulle het in die kriminele wêreld van dwelmsmokkel beland omdat hulle op iemand verlief geraak het. Wat as daar so ʼn Suid-Afrikaner is, wat reeds swanger was toe sy in Indonesië met ʼn tas vol dwelms gevang en gevonnis is? Wat word nou van haar, en haar kind? Kan haar eie moeder enigiets doen om te help?  Hierdie vrae vorm die basis van ons storie.

Alle moeders is nie altyd op moedersdag tuis, of selfs in Suid Afrika nie.

Jakarta Mamma vertel die storie van ʼn  jong moeder en haar familie en vriende, wat desperaat probeer om ten minste haar baba terug te bring huis toe. Sal hulle dit regkry, en sal almal weer veilig tuis wees hierdie moedersdag?