Luister weer na ‘Die Belofte’


Luister Donderdagaand net ná agtuur na Die Belofte deur Paula Hartzenberg. Dit vertel die storie van twee sussies wat hul ma se geheime ontrafel.

Die regisseur is Anrich Herbst, met tegniese versorging deur Cassi Lowers.

Karakters Akteur
Jana Maria Vos
Alet Mia van der Merwe
Jong Elsa Emma Nelson
Rien Karleine Herbst
Gideon André Weideman
Mara Tinarie van Wyk Loots
Volwasse Elsa Gelees deur Mara

Die storie

Alet ly aan ’n traumatiese toestand wat klaarblyklik onbewustelik van haar ma af op haar oorgedra is.  Met haar ma se heengaan, is dit Alet se ouer suster, Jana, wat haarself met ’n belofte verbind tot die taak om uit te vind wat presies in  hul ma se lewe gebeur het wat tot haar toestand kon gelei het.

Toe iemand eendag by hulle deur kom aanklop, kry die soektog momentum, maar onverwagse hindernisse kom terselfdertyd oor haar pad. Uiteindelik beland Jana by ’n punt waar sy ’n riskante besluit oor haar eie lewe moet neem voordat die waarheid moontlik tydens ’n bonatuurlike reis aan die lig kan kom.

Vanwaar die inspirasie vir drama – die skrywer, Paula Hartzenberg, vertel

Ek stel belang in mense en hulle diepste gevoelens, wense en begeertes, die dryfvere wat die kern vorm van ’n drama. Die regte inspirasie om ’n teks te skryf is egter nie altyd so voor die hand liggend nie.

’n Mens moet tyd maak om te gaan sit en dink en soms ’n paar ure tyd verloor in die proses.  Ek kry dan ’n vae idee van ’n karakter saam met wie ek ’n pad kan loop.

Iets onverwags sit ’n reeks gebeurtenisse aan die gang, en so kom die sterktes en swakhede van die karakter in spel.

Vir my kom inspirasie uit die hutspot van my herinneringe, gesigte van mense, leeswerk en aandoeninge wat met verloop van tyd inmekaar versmelt geraak het.

Die akteurs en regisseur

Die akteurs en Cassi Lowers, wat verantwoordelik is vir die tegniese versorging.