Luister Donderdagaand na ‘Die wegraping van Tannie Kleintjie du Preez’


Luister Donderdagaand om 20:00 na Die Wegraping van tannie Kleintjie du Preez deur Fanie Viljoen.

Op ‘n plaas iewers in Suid Afrika, kry tannie Kleintjie du Preez ‘n visioen van grootse dinge wat gaan gebeur, en vind sy uit dat dit baie maal die eenvoudigste mense is wat die naaste aan die bonatuurlike beweeg.

Die akteurs is Joanie Combrinck, Dirk Stoltz, Barbara-Marie Immelman, Zenobia Kloppers, Chloe van Rooyen en Anton Treurnich.

Die regie word behartig deur Anrich Herbst en die klank deur Cassi Lowers.

Die skrywer

Fanie Viljoen

Fanie Viljoen is ’n voltydse skrywer, skilder en illustreerder van Bloemfontein.

Sy werk is bekroon met verskeie toekennings soos die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur, M.E.R-prys vir jeuglektuur, M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke, naaswenner in die Lapa-jeugromankompetisie en talle ATKV-kinderboektoekennings.

Viljoen skryf veral kinder- en jeugboeke omdat daar nie grense is aan kinders se verbeelding nie. Hy woon in Bloemfontein en skilder en skryf voltyds.

Hierdie is nie sy eerste radiodrama vir RSG nie.

Fanie skryf:
“’n Vriendin het my vertel hoe haar ma angstig na haar op die plaas gesoek het. Sy het oral rondgevra, maar kon haar nie kry nie. Na ’n lang gesoek spoor sy haar dogter toe op. Baie benoud sê sy sy was bang dit was die wegraping en dat die dogter sonder haar vort is.

Tannie Kleintjie du Preez, die matriarg van die plaas Galilea, kry ’n onverwagse oorvalling by die hoenderhokke. Sy is met die helm gebore en jaag nou almal op die plaas op hol want vandag, glo tannie Kleintjie, is dit die wegraping. Selfs die diere op die plaas is onrustig en kan dit aanvoel.

Maar hoe maak mens gereed vir die wegraping? Sal dit werklik gebeur? Wie is gereed daarvoor en wie nie? En hoe gaan die persoonlike onderstrominge op die plaas die gebeure na ’n spits dryf?

Anrich Herbst, die regisseur skryf:

Wat ‘n gedagte! Die WEGRAPING! Die naaste wat ek aan die gedagte kan kom was toe ons gedink het die rekenaar-wêreld gaan inmekaarval met die oorgang van die eeu. Daardie gevoel van onsekerheid.

Tannie Kleintjie du Preez verwag die wegraping. Vandag.

Fanie Viljoen is ‘n bekende, bekroonde skrywer uit die Vrystaat. Ek het dus onmiddelike respek gehad vir sy teks. Na baie dink en baie lees kon ek uiteindelik sin maak van Die Wegraping (dit gebeur ook gereeld dat “die liggies” eers in die ateljee “aangaan” – wanneer daar vleis op die bene is). Fanie het ‘n besonderse karakter geskep vir hierdie verhaal. Simon. Simon kan nie praat nie. Net geluidjies maak. Simon is eenvoudig teenoor die hoogdrawendheid van Tannie Kleintjie. En dis waarin die wonder van die verhaal lê. Ek wil dit nie weggee nie, jy moet maar self luister.

Die akteurs het die opvoering baie geniet, en ek en Cassi het hard gewerk om die Dvorak-New-world-oorgange en agtergrond-klanke so geloofbaar moontlik te maak. Ek hoop jy geniet dit.

Agter van links na regs: Dirk Stoltz, Barbara-Marie Immelman, Anton Treurnich, Joanie Combrinck en Anrich Herbst. Middel: Chloe van Rooyen, Zenobia Kloppers. Voor: Cassi Lowers

Aksie:

 

 

Joanie Combrinck en Zenobia Kloppers

Dirk Stoltz en Barbara-Marie Immelman

Chloe van Rooyen