Luister na bekroonde ‘Iewers in die grys’


Luister vanaand om 8 nm gerus na hierdie radiodrama wat ‘n verwerking is van die teaterteks wat by die 2023 kykNET Fiëstas bekroon is met die toekennings vir Beste Nuutgeskepte Teks en Beste Opkomende Kunstenaar.

Dié Fiesta-bekroonde toneelstuk is vir die radio verwerk en onder spelleiding van Frieda van den Heever.

 

Die storie
Iewers in die grys is ‘n drama wat die vriendskap van twee plattelandse hoërskoolleerders, Heather en Gideon, ondersoek oor ‘n tydperk van 16 jaar.

Heather haat pouse, want al is sy die uitbundige dux-leerder, is sy bruin. En dis ’n wit, plattelandse skool.

Dinge verander egter gou wanneer Gideon in die skool kom. Nie net het Heather nou iemand om pouses by te staan nie, maar ’n kameraad met ’n gemeenskaplike doel: om eendag ’n dokter te word.

Skoolkinders het groot drome, maar hoe word ’n lugkasteel bo gehou in ’n land waar onregverdigheid en regverdigheid so eenders lyk? En wat gebeur as ons grootword en vergeet om na die sterre te kyk? Temas wat ondersoek word, is ras, vriendskap, geestesgesondheid en jaloesie. Die toneelstuk spreek belangrike kwessies aan wat manifesteer in sosio-politiek en verskeie ander fasette.

In ‘n moderne wêreld waar almal hulle opinies uitbulder, voel dit soms asof daar nie ruimte is vir onsekerheid of vir die individu om self te dink nie.

Die geselskap

Adriaan, Frieda en René

René Cloete (in die rol van Heather) is ‘n aktrise en hoewel sy jonk is, het sy al haar stempel afgedruk in verskeie professionele teaterproduksies. In 2020 word sy aangewys deur die Woordtrofees as Beste Opkomende Kunstenaar. Sy was onlangs in die suksesvolle Marthinus Basson-produksie Ek, Anna van Wyk te sien waarvoor sy ‘n Kanna-nominasie vir Beste Ondersteunende Akteur (Vroulik) gekry het en was ook te sien in die roerende drama Agulhasvlakte. By die 2022 Woordtrofees ontvang sy ook ‘n nominasie vir Beste Vroulike Speler vir haar vertolking van Heather in Iewers in die grys, die teaterproduksie. Sy het ‘n Drama-graad wat sy in 2020 aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het en is ‘n bekroonde aktrise.

Die skrywer
Adriaan Havenga (skrywer en ook in die rol van Gideon) is ‘n opkomende skrywer en kunstenaar wat al twee maal die RSG Sanlam Radiodrama Skryfkompetisie vir Beste Jongskrywer gewen het.

René en Adriaan agter die mikrofoon

Mees onlangs het hy die 2023 kykNET Fiëstas Toekennings gewen vir Beste Nuutgeskepte Teks asook Beste Opkomende Kunstenaar.

Hy het ook met ‘n toneelstuk by die 2022 KKNK ‘n Kanna-toekenning verwerf. Hy is ook vir Beste Teks en Beste Opkomende Kunstenaar by die 2022 Woordtrofees genomineer.

Hy het ‘n Drama-graad in 2020 aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en doen tans sy NOS (Nagraadse Onderwyssertifikaat).

Regisseursnota
Dit is tegelykertyd senutergend en uiters opwindend om ‘n bestaande produksie – en boonop ‘n bekroonde een! – vir die radio te verwerk en die regie daarvan te behartig. Ek het geweet al die bestanddele vir ‘n wenresep is reeds daar. Die mates en mengproses moes net so bietjie aangepas word vir die “teater van die verbeelding” waarmee ons omgaan in die radio-ateljee.

“Enter”: Adriaan Havenga en René Cloete. Twee jong, bitter talentvolle akteurs wat wíl leer, wat kan transformeer en mekaar genoeg respekteer om opnuut te kyk na die ander en om na mekaar te luister asof jy die woorde die eerste keer hoor (dié belangrikste vaardigheid in ons ruimte). Ek en Cassi het soms hoendervleis gekry ten aanskoue (en aanhore!) van die fyn aanvoeling en sin vir ritme wat die duo saam vind. Hierdie teks en vertolkings het nie verniet al opspraak gemaak nie. Dis werklik besonders en dit was ‘n voorreg om daarmee te kon omgaan en daardeur aangeraak te word.