Luister weeksoggende na voorlesing van ‘n roman deur Hans du Plessis


Die bekende en geliefde skrywer, Hans du Plessis se roman,  Drie vroue en ‘n meisie, is RSG se nuwe oggendboekvoorlesing wat op 22 Februarie begin.

Dit is die verhaal van die Murray-vroue:  Amleth, Cathy, Katrina en Katryn.

Amleth, die vrou van die Skot wat na die delwerye op die Wes-Transvaalse Hoëveld gekom het op soek na die diamant so groot soos ‘n skaap se kop.  Hulle dogter Cathy wat ná Amleth se dood en Angus se verdwyning by die Minnaars grootgeword het, en later met die sieklike seun van die ryk Deysels getroud is.  Hulle dogter Katrina wat deur die welsyn weggeneem is.  En dan die jonge Katryn Coetzee, wat wil hê haar voorgeslagte se storie moet vertel word.

Die verhaal speel af teen die agtergrond van die armblankevraagstuk, in die nadraai van die Anglo-Boereoorlog.  Verstedeliking en skreiende armoede, vooroordeel en onreg, maar ook liefde en lojaliteit, is van die temas wat aangeraak word.  Dit is ook die verhaal van die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde, en die luisteraar met die fyn oor sal die verwysings opmerk.

Hans du Plessis se stories gryp ‘n mens aan die hart en hou jou vasgenael; en sy meesterlike taalgebruik (synde ‘n taalkundige!) verseker ‘n onvergeetlike storie-ervaring. Dit word voorgelees deur ‘n veteraan van die radio, rolprent en verhoog, en stemkunstenaar van formaat, Elma Potgieter.  ‘n Kombinasie wat luisteraars sal bekoor en betower!

Drie vroue en ‘n meisie word vanaf Dinsdag 22 Februarie op weeksoggende in Alhoebekker op RSG voorgelees.

*** Intussen geniet die aandboekvoorlesing, Die uurwerk kantel deur Mari Heese, groot aanhang by luisteraars.  Dit word saans net na die seweuurnuus voorgelees deur nóg ‘n meesterlike vertolker en stemkunstenaar, Susanne Beyers.

Luister van vanaand na voorlesing van ‘Die uurwerk kantel’ op RSG