Meer ‘goud’, musiek en van Fritz se treffers op RSG


Eloïse Cupido

RSG kondig enkele programveranderings op Saterdae en Sondae aan.

Luister hier na die onderhoud met Louise Jooste, sakebestuurder van RSG, Kobus Burger, programbestuurder, en Amore Swanepoel, bemarkingsbestuurder, wat die veranderings verduidelik.

Musiekliefhebbers en aanhangers van Goue oues, aangebied deur Eloise Cupido, sal in hul noppies wees om te hoor dat dit nou langer én vroeër uitgesaai gaan word.

Goue oues (en soortgelyke musiekreekse) sal vanaf April elke Satermiddag tussen 15:00 en 16:00 net na Vastrap op RSG uitgesaai word.

RSG Sport volg dan elke Saterdag van 16:00 tot 19:00, waarna die gewone Saterdagskedule volg.

Ina Strydom

Lise Swart

Sondae

Taaldinge met Ina Strydom sal voortaan op Sondagoggende om 10:00 uitgesaai word, waarna Hoe verklaar jy dit? met Lise Swart en haar paneel kenners om 10:30 volg.

Jacqui January

Jacqui January en Fanie du Toit skuif om 11:00 agter die mikrofoon in vir Leefwêreld van die gestremde, waarna Rand en sent met Jody Hendricks om 11:30 volg.

Nic de Jager

Die veteraanomroeper Nic de Jager, wat tydens vanjaar se SA Radiopryse ’n lewensprestasieprys ontvang het, is steeds op sy pos en sal net na 12:00 regskuif vir Nic se goed.

Net ná Nic se goed is Jacqui January terug met Dis gospel net na die 13:00-nuusbulletin.

Die gewone en gewilde Sondag-musiekreeks (wat voorheen soggens om 10:00 uitgesaai is) kan nou om 14:00 gehoor word. Dié reekse sal elke kwartaal verander.

Derrich Gardner

In April begin Derrich se Jam, ’n dertien weke lange musiekreeks aangebied deur Derrich Gardner. Derrich se Jam sit musiek in jou ore, ryk, romerig en sommer net lekker. Liedjies uit genres wat strek so wyd soos die kleurspektrum op ‘n satynserp tot die skadu van jou droomboom in die somer en winter. Solank dit net mooi is en sag op die oor val vir jou beste Sondagrustigheid, sakke vol nostalgie en soms ‘n saamsing sal uitlok. Maar wees gewaarsku: goeie musiek is verslawend!

Fritz Klaaste

Johan van Lill

Om 15:00 volg Sondag met Fritz wat vanaf April langer sal wees en tot 18:00 sal duur. Fritz beplan om van sy heel beste musiek vir drie ure lank met luisteraars te deel, interessante feite te deel en ’n bietjie die luisteraars se musiekkennis te toets. Net na die 18:00 nuusbulletin volg die program Ons en die onderwys met Johan van Lill en die Aanddiens daarna.

Vanaf 19:00 bly die Sondagskedule dieselfde.

Jody Hendricks

Die nuwe programskedule vir Sondae tussen 10:00 en 19:00 lyk dus as volg:

10:00  Taaldinge
10:30  Hoe verklaar jy dit?
11:00  Leefwêreld van die gestremde
11:30 Rand en sent
12:00 Nic se goed
13:00 Dis gospel
14:00 Derrich se Jam
15:00 Sondag met Fritz
18:00 Ons en die onderwys net ná die nuusbulletin.