Luister weer na dié aangrypende drama “En sorg tog mooi vir Buks”


Luister op 18 Mei om 8 nm na En sorg tog mooi vir Buks.
Moenie die aangrypende drama misloop nie.

SKRYWER: William Oosthuizen, ’n finalis in die RSG Radiodrama Skryfkompetisie van 2019.

Susan Erasmus lewer ’n roerende vertolking van die sentrale karakter, THÉRÈSE

MET:  Susan Erasmus (THÉRÈSE), Rudolph Torlage (BERTUS), Micke Hannay (LISA), Henko de Goede (HARDUS), Helmi White (MARTI), Anita Torlage (MEJUFFROU SNYMAN), Barry Tolmay (DOKTER NEL) en Annemarie van Dyk (DIE AANKONDIGER BY PADWEDLOPE)

REGISSEUR: Eben Cruywagen

Die storie

Thérèse Terblanche se gesin is disfunksioneel. Haar man, Bertus, ervaar stres by sy werkplek en gevolglik drink hy heeltemal te veel. Die sestienjarige tweeling, Lisa en Hardus, is ook nie model tieners nie: Lisa ly aan ’n eetversteuring en behalwe dat Hardus rook, glo Thérèse ook dat hy skelm begin drink het. Asof dit nie genoeg is nie, word hy gearresteer vir winkeldiefstal. Thérèse se onverwagte besluit om te begin draf, laat haar gesin glo sy wil probeer gewig verloor. Sy oorreed eers Lisa en daarna Hardus om saam te draf en selfs aan georganiseerde padwedlope deel te neem. Maar die wáre rede vir haar skielike besluit is glad nie wat Thérèse se gesin verwag het nie…

’n Woord van die regisseur

’n Kwalik-waarneembare persentasie belangstellendes word die geleentheid gegun om vir RSG radiodramaregie te doen. Nog ’n kleiner persentasie word aktief betrek by die identifisering en vorming van nuweling skrywers. Daarom beskou ek myself dubbelbevoorreg om in die kapasiteit van skrywer, regisseur, keurder én mentor by RSG se radiodrama-uitset betrokke te mag wees.

In 2019, toe William Oosthuizen sy drama, En sorg tog mooi vir Buks, ingeskryf het vir RSG se jaarlikse radiodrama-skryfkompetisie, is ek aan die wêreldwye fenomeen, bekend as Parkrun, blootgestel. Op skool was ek ’n naelloper en vyf kilometer het danig ver geklink (en aanvanklik gevoel ook!). Maar die baie spesiale band en kameraderie onder padatlete het my aangegryp. Ná ’n onderhoud wat ek vir RSG met lede van die plaaslike atletiekklub oor Meestersatletiek gevoer het, was die koeël deur die kerk. Ek het aan my eerste tien kilometer padwedloop deelgeneem en kon my gevolglik ten volle met William Oosthuizen se drama identifiseer. Juis daarom was dit ’n besondere voorreg om sy aangrypende drama vir RSG Radioteater te verklank.

In 2022 is die eerste volledigplek-spesifieke drama-opname, Oom Willem se bankie, suksesvol in Durban langs ’n strand en in ’n woonhuis opgeneem. En sorg tog mooi vir Buks is ideaal geskik vir plek-spesifieke (on location) opname, veral met die tonele waar karakters draf en aan padwedlope deelneem. Dat dit ’n reuse uitdaging was, lei geen twyfel nie, maar die outentieke klank van drafskoene op teer kan in geen ateljee só doeltreffend nageboots word nie! Selfs lede van die publiek het kom help om die stemme van toeskouers en ondersteuners by padwedlope te wees op ’n snikhete, bedompige dag.

Maak dus gerus ’n afspraak met RSG, Donderdagaand, 18 Mei om 8-uur in Radioteater, om te luister na En sorg tog mooi vir Buks, deur William Oosthuizen.

Susan Erasmus lewer ’n roerende vertolking van die sentrale karakter, THÉRÈSE, en word knap bygestaan deur Rudolph Torlage (BERTUS), Micke Hannay (LISA), Henko de Goede (HARDUS), Helmi White (MARTI), Anita Torlage (MEJUFFROU SNYMAN), Barry Tolmay (DOKTER NEL) en Annemarie van Dyk (DIE AANKONDIGER BY PADWEDLOPE). Die regisseur is Eben Cruywagen.

Die geselskap

Rudolph Torlage (BERTUS) en Susan Erasmus

Micke Hannay (LISA) en Henko de Goede (HARDUS)

Helmi White (MARTI)

Barry Tolmay (DOKTER NEL)

Anita Torlage (MEJUFFROU SNYMAN)

 

Annemarie van Dyk (DIE AANKONDIGER BY PADWEDLOPE)

 

Annemarie van Dyk (DIE AANKONDIGER BY PADWEDLOPE)

Gary Price (klankopnames), Barbara McArthur (preproduksie spelleiding) en Eben Cruywagen (regisseur)

Lede van die publiek het selfs kom help met die stemme van toeskouers en ondersteuners. Instruksies vir ‘n volgende toneel.

Lede van die publiek help met stemme

BERTUS laat in ’n stadium ’n stootkar vir Thérèse bou. Kuswag Skool het een van hulle stootkarre tot RSG se beskikking gestel

Video’s

 

Die opname van die toneel van THÉRÈSE se eerste pretdraf saam met LISA en HARDUS

Om ’n geloofwaardige opname van verskeie hardlopers te kry, moet ’n mens maar ’n paar druppels sweet opoffer…

 

HERUITSENDING: 22 Mei 2023 om 02:00