‘n Ruiltransaksie wat lewens verander, in RSG Radioteater


Hoe beland ‘n professionele persoon met ‘n loopbaan en ‘n gesin op straat en word ‘n boemelaar?  Dit is die vraag wat ondersoek word in vandeesweek se Radioteater op RSG.

Luister Donderdagaand, 24 November om 20:00 na Onderhoud met ‘n boemelaar.

Die storie

Onderhoud met ‘n boemelaar, deur Karin Du Toit is die verhaal van Einstein, ‘n boemelaar wat saam met sy vriend Skerf in ‘n park woon.  Dis nie hulle regte name nie, en hulle leef soos alle haweloses van die hand na die mond, en deur die goedhartigheid van ander mense. Einstein is paranoïes, glo hy word dopgehou. Skerf is spraaksaam en altyd opsoek na ‘n “deal”.

En dan, een middag kom die joernalis Anel en haar vriend Liam, vir Skerf teë. Sy is op soek na materiaal vir haar artikel, want haar baas Lisa, is moeilik. Skerf lei hulle na Einstein. Anel bied ‘n ruiltransaksie aan: hulle stories vir kos. Sy kry haar storie, maar ontrafel ook die gebeure wat daartoe gelei het dat Einstein op straat beland het.

Luister hier na die  volledige drama:

Regisseursvisie

Die regisseur is Ina Strydom.

“’n Mens sien die hawelose mense, boemelaars, byna daagliks op straat, maar ‘n mens kyk ook half bo-oor hulle.  Hulle is byna ont-mens….en tog het elkeen ‘n storie, ‘n rede waarom hy daar is.  Misken is dit deur sommige se eie toedoen, maar partykeer val die spreekwoordelike dobbelsteen net verkeerd.  Verkeerde keuses, die noodlot, wie weet?

“In hierdie drama lewer Pietie Beyers ‘n skitterende vertoning as Einstein, die boemelaar wat nie verstaan of kan verklaar hoe hy op straat beland het nie; wat geen verklaring het vir hoe sy lewe so verkeerd geloop het nie.

“En dis wat ek wou uitlig: die verwarring en woede en ontnugtering. Soms gaan dit oor in ‘n gelatenheid, soms bly die baie menslike behoefte oor om te probeer wraak neem –  al weet jy nie juis op wie nie. Karin du Toit het ‘n interessante onderwerp getakel met haar teks,” sê die regisseur Ina Strydom.

Die spelers
Die spelers is Pietie Beyers (Einstein), Johny Klein (Skerf), Sue Pyler-Slabbert (Anel), Donovan Pietersen (Liam), Karen Wessels (Lisa) en Eloïse Cupido in die rol van Annette.

Agter: Bongi Thomas, Frik Wallis, Donovan Pietersen, Pietie Beyers, Sue Pyler-Slabbert. Voor: Karen Wessels, Eloise Cupido, Ina Strydom (regisseur).

Karen Wessels en Pietie Beyers