‘n Storie uit Namakwaland, deur Richard van der Westhuizen


Die liedjieskrywer, sanger en akteur Richard van der Westhuizen se radiodrama ‘n Warm wind oor die vlaktes, is die eersta drama van RSG se tweede radioteaterseisoen.

‘n Warm wind oor die vlaktes, wat ‘n finalis in vanjaar se radiodramaskryfkompetisie was, word op 6 Oktober om 20:00 op RSG uitgesaai.

Dit speel af in ‘n klein dorpie in Namakwaland, Van der Westhuizen se grootwordwêreld.

Luister na die volledige drama:

Die storie 

‘n Man stop eendag by die hotel en betaal kontant vir ‘n kamer vir vyf aande. Hy is hier met ‘n doel. In die warm, stowwerige windverwaaide wêreld ontmoet ons die garage-eienaar met sy werkswinkel waar allerhande dinge reggemaak word, die windmaker dwelmhandelaar en sy pêl wat misbruik maak van die jongmense se ledigheid, die behulpsame hotelbestuurder, en die vriendelike Rosie wat werk by die hotel, maar tot baie meer in staat is. As Dirk Beeslaar (Chris van Niekerk) vyf aande later stil-stil vertrek, is die dorpie nooit weer dieselfde nie.

Die regissseur sê

Die regisseur, Anrich Herbst sê: “ Soos met baie van Richard se musiek, gee die titel van sy  radiodrama ‘n mens die gevoel van die uitgestrektheid en verlatenheid van die wêreld waar hy grootgeword het.

Met opname-dag (waar Richard teenwoordig was) het hy vir ons ‘n foto gewys van ‘n dorpie waar die verhaal sou kon afspeel, kompleet met ‘n hotel, pomphuis en garage. Die wind is ‘n belangrike karakter in die teks.

Ek en Cassi (Lowers, die produksieregisseur) het dit baie geniet om telkens “die regte wind vir die regte toneel” te vind, en dit verleen ekstra tekstuur wat bydrae tot ‘n “voller” klank en verhaal. Dis ook lekker om ‘n tipe van ‘n “held” se storie te vertel. Dit laat mens sommer glo dat die goeie sal oorwin en dat daar hoop is vir ons almal. Dis seker hoekom die “Westerns” so gewild was en steeds is, en dis ook hoekom die luisteraars ‘n Warm Wind oor die Vlaktes baie gaan geniet!”

Die spelers is Chris van Niekerk, Simone Benjamin, Charlton George, Dean Balie, Andre Samuels, Chloe van Rooyen en Pieter van Zyl.

Cassi Lowers, die tegniese regisseur, het op die dag van opname 10 jaar diens by die SAUK gevier.

Agter: Richard van der Westhuizen (skrywer), Charlton George, Dean Balie, Chris van Niekerk, Andre Samuels, Pieter van Zyl.  Middel, Simone Benjamin, Chloe van Rooyen, Anrich Herbst (regisseur),  Voor: Cassi Lowers (tegniese regisseur).

 

Video 1:  Dean Balie & Andre Samuels

Video 3: Simone Benjamin & Pieter van Zyl.