NUUT: Hoe verklaar jy musiek?


RSG se nuwe musiekreeks, HOE VERKLAAR JY MUSIEK begin op 3 April om 10:05.

Ons eie Terrance April het sy lyf vlieënier gehou. Dié slag is hy aan die stuur van die nuwe musiekreeks Hoe verklaar jy musiek?

In die reeks word musiekterme wat dikwels gehoor word, aan die hand van musieksnitte verduidelik.

In die eerste episode gesels aanbieder Terrance April bietjie meer oor een van die items wat as openingswerk gebruik word by ‘n OPERA  en ‘n SUITE, die OVERTURE. Die werk het destyds uit verskillende dele bestaan en kan ook as die voorloper van die SIMFONIE gesien word.

Michelle Breedt

Van die ander terme wat ook in die eerste episode aan die beurt kom, is die stemtipe, ‘n MEZZO-SOPRAAN, wat tussen die SOPRAAN en die ALT geleë is. Ons eie Michelle Breedt, wat dikwels op verhoë oorsee gesien kan word, en as een van die beste mezzo’s ter wêreld beskou word, sal ‘n tradisionele Engelse liedjie sing om die stemtipe te illustreer.

Jy kan ook meer hoor oor die ontstaan van die TANGO, ‘n Suid-Amerikaanse dans wat deesdae baie gewild is en stêrstatus het in daardie dele van die wêreld. ‘n Werk deur die Argentynse komponis, Angel Villoldo sal as illustrasie dien.

Ander interessante feite en verduidelikings, is dat Teleman, nes Handel, ook ‘n WATERMUSIEK SUITE gekomponeer het, dat die COR ANGLAIS ‘n soort HOBO is en dat Mozart se eerste werk wat gepubliseer is, ‘n MINUET, die lig gesien het toe hy maar net 5 jaar oud was.

Die reeks sal uit 13 episodes bestaan. Daar sal meer besonderhede op die webblad van rsg wees, asook ‘n glossarium met al hierdie terme.

Hier is die eerste deel van die Glossarium vir die nuwe reeks.

ARPEGGIONE – Dit is ‘n ou 19de eeuse snaarinstrument wat byna soos die kitaar lyk. Dit bevat 6 snare  wat, soos die tjello, met ‘n strykstok gespeel word. Dit herinner sterk aan die viola da gamba, wat as die voorloper van die modern tjello gesien word. Schubert se ARPEGGIONE SONATA is seker die bekendste voorbeeld van ‘n werk wat uitsluitlik vir die instrument gekomponeer is.

 

BOUREE – Dit is ‘n ou Franse dans. Die hoof eienskap is dat dit ‘n vinnige dans is met ‘n soort huppel beweging.  Dit kom veral voor in die Barok en Klassieke Musiek Periode Danse Suites. Maar dit is ook ‘n term wat in ballet voorkom. Daar verwys die BOUREE na die skielike verplasing van die danser se gewig van een voet na die volgende. 

 

COR ANGLAIS – Dit is die “alt” van die hobo instrumente familie.  Die instrument het ‘n bol aan die onderpunt wat dit kenmerkend maak. Die Franse woord beteken “engelse horing”, maar dit is eintlik gegrond op ‘n mistasting. In Duits het die “engellisches horn” verwys na ‘n “engele horing” wat in skilderye van die Middel Eeue as sodanig uitgebeeld word: engele wat ‘n blaasinstrument bespeel.    

 

FALSETTO – Dit is die tegniek wat deur hoofsaaklik manlike sangers gebruik word om bo hul normale stemregister  te sing. Die begrip het sy ontstaan in die betekenis van die woord “falsetto” wat “vals” is. Die stem gebruik slegs ‘n deel van die stemapperaat om klank te maak. 

 

  1. – Die letter word dikwels gebruik by musiek van Dominico Scarlatti. Dit verwys na Ralph Kirkpatrick wat jare na Scarlatti se dood sy musiek georden het. Hy is die tweede person van 4 wat Scarlatti se musiek gekatalogiseer het. Die K. by Scarlatti moenie verwar met die K. wat by Mozart se werk voorkom nie. Daardie K. staan vir Ludwig Kögel wat op sy beurt Mozart se werk volgens datum van uitgawe en komponering georden het.

 

MEZZO-SOPRAAN – Dit is die sangtipe tussen die sopraan en die alt/kontratenoor. Die term kom van die woord wat “middel” of “medium/half” beteken. Die register van die MEZZO, soos daar soms na die stemtipe verwys word, strek oor ongeveer 2 oktawe. Daar word dikwels verwys na verskillende soorte MEZZO’S, naamlik coloratura, liries en dramaties.

 

MINSTREL – Dit was destyds die lied wat minnesangers  gesing het. Die sangers is ook troebadoers genoem.  In die Skadinawiese lande is dit die ”skalds” genoem, en in Ierland en Engeland, “bards” en” scops” onderskeidelik. Maar die tweede stroom van betekenis het wortels in die slawegesiekdenis. Die tipe lied was veral gewild in Amerika en ook in Suid-Afrika, waar dit tot vandag toe nog uitgevoer word tydens die Nuwejaar feesvieringe.  

 

OSCAR STRAUS – Dit is opvallend dat hierdie komponis se van met een s aan die einde gespel word. Hy wou hom onderskei het van die meer bekende Strauss komponiste van vroeër en het doelbewus self sy van met een s begin spel. Hy het meer as 500 kabaret liedjies gekomponeer asook heelwat kamermusiek en koormusiek.  

 

OVERTURE –  Die woord kom uit Frans en beteken opening. In musiek is dit dan ook die eerste of openingswerk tot ‘n groter werk, bv. die opera. Dit is ook gebruik by die  dans suite asook van die ouer vorms van die simfonie.

 

PANFLUIT – Dit is ‘n instrument met verskeie vertikale buise (hoofsaaklik van hout gemaak). Die buise of pype is volgens lengte georden – van langste tot by die kortste. Talle komponiste het musiek vir die instrument gekomponeer en ‘n aantal bekende panfluitspelers, soos George Zamphir was verantwoordelik vir die gewildheid van die instrument. Die panfluit is ook ‘n tradisionele instrument uit die streek langs die Andes gebergte.  

 

PRELUDE – Dit is ‘n voorspel tot ‘n groter werk, bv. die dans suite. Maar daar is talle voorbeelde waar komponiste dit as ‘n losstaande werk gekomponeer het, bv. Chopin en Rachmaninoff. Bach het die PRELUDE weer saam met ‘n FUGA gekombineer. 

 

TANGO – Dis ‘n Latyns-Amerikaanse tweepas dans wat sy ontstaan in die laat 19de eeu in Argentinië  en Uruguay gehad het. Dit was hoofsaaklik in bordele gedans. Aan die begin was dit slegs deur twee mans uitgevoer, maar later het dit uitgebrei tot die formaat wat ons vandag ken. Talle komponiste het musiek vir die dansvorm gelewer. 

 

WUNDERKIND – Dit is ‘n woord wat gebruik word by die beskrywing van ‘n uitstaande jongeling wat ‘n instrument bespeel. Dit was veral gebruik toe Wolfgang Mozart op die toneel verskyn het. Maar talle ander komponiste/instrumentaliste het later ook hul slag as jong musikante getoon en dit sou die word ook by hulle van toepassing kon wees. Die woord beteken letterlik “wonder kind”.