Nuwe middagvervolgverhaal: My naam is Vincent


My naam is Vincent, deur Lee Doubell, begin op 18 Augustus – weeksmiddae net na die 15:00 nuus.

Kom soek saam na Vincent van Gogh se verlore skilderye

Agtergrond

Theo van Gogh, geskilder deur sy broer Vincent

Vincent van Gogh se broer Theo, het in 1877 in Suid Afrika gewoon. Hy het as klerk vir die Thiessen Houtmaatskappy in Knysna gewerk. Gedurende hierdie tyd het die broers, soos dit hulle gewoonte was, amper daagliks briewe aan mekaar geskryf. In die briewe praat Vincent van vier skilderye wat hy na Theo stuur. Die skilderye word noukeurig beskryf.

Theo is skielik en sonder waarskuwing van Knysna af weg. Geen rede vir sy terugkeer na Europa is ooit gegee nie. Die vier skilderye wat deur Vincent na sy broer in Knysna gestuur is, het verdwyn. Geen mens het hulle ooit weer gesien nie. Niemand weet hoekom Theo so vinnig padgegee het nie, en wat van die vier skilderye geword het nie.

Nou die storie van die nuwe vervolgverhaal: My naam is Vincent, deur Lee Doubell

Lee Doubell

ʼn Oujongnooi (Matilda van De Venter) erf ʼn huis by haar oujongkêrel oom (Dieter). Kort voor sy afsterwe ,wys hy aan haar ʼn geheime kamer in die huis, waar daar vier oorspronklike Van Gogh skilderye teen die mure hang. Hy weet sy sal die skilderye en die geheim van hulle oorsprong, nes hy, vir die res van haar lewe bewaar.

As Matilda haar intrek in die huis neem, kom sy tot haar skok agter dat die skilderye verdwyn het. Wie weet van hulle bestaan en waarom het daardie persoon die kunswerke gesteel?

Matilda stel ʼn privaat speurder, (Vincent), aan om die saak te kom ondersoek. Hy vertel vir Mollie, sy ontvangsdame (sy is ook sy verloofde), wat hy gaan doen, net voordat hy met die ondersoek begin. Dan verdwyn Vincent…..

Ander karakters sluit in:

Ben, ‘n modeontwerper;

Stefaan, ‘n kunsprofessor;

Louis ‘n Vrystaatse boer;

Max, ‘n skurk wat by verskeie soorte misdaad betrokke is; en

Pietie, sy handlanger.

My naam is Vincent word in Kaapstad opgevoer onder spelleiding van Bettie Kemp.

Van die stemme wat gehoor kan word sluit in: Simone Benjamin, Isadora Verwey, Anrich Herbst, June van Merch, Chris van Niekerk, Wilhelm van der Walt, Andre Samuels en Wessel Pretroius.

MY NAAM IS VINCENT deur Lee Doubell – Episode 1

Die privaatspeurder, Vincent Daniels, word na Matilda van De Venter se huis ontbied om ʼn saak van diefstal te ondersoek. Twee skurke, Max en Pietie, stel belang in wat Vincent reeds weet oor die vier vermiste skilderye.

MY NAAM IS VINCENT deur Lee Doubell – Episode 2

Vincent vind meer uit oor die skilderye. Hy besef dat om dit terug te kry, ʼn moeilike saak sal wees. Max, ʼn misterieuse kennis uit Vincent se verlede, nooi hom vir ʼn drankie.

MY NAAM IS VINCENT deur Lee Doubell – Episode 3

Twee goeie vriende, Ben en Mollie, beplan Mollie en Vincent se troue. Vincent laat weet dat hy laat tuis sal wees. Max probeer om Vincent te oorreed om nie na die vermiste skilderye te soek nie. Kort nadat hy ʼn whiskey gedrink het, verloor Vincent sy bewussyn.