Nuwe aanbieders en programrooster vanaf 1 April 2023


Sommige van die radiostasie se gewildste programme gaan van Saterdag 01 April 2023 af weer in hul oorspronklike tydgleuwe uitgesaai word.

Eloïse Cupido

Boonop begin daar op Maandag 08 Mei 2023 ’n splinternuwe oggendprogram, Intussen met Eloise, wanneer die aanbieder en aktrise Eloise Cupido van 09:00 tot 12:00 agter die mikrofoon inskuif. Sy sal bygestaan word deur die nuusleser Mari Molefe van Heerden en Veronique van Heyningen as regisseur.

Reis sonder grense met Johan Rademan skuif terug na die 10:00 gleuf op ’n Saterdagoggend, gevolg deur die gewilde Saterdagresep net ná die 11:00-nuus. Carla Mackenzie sal tussen 13:00 en 14:00 die nuwe program, Top Treffers, aanbied. Dié musiekprogram sal die Top20 vervang en bestaan uit die week se grootste treffers van regoor die wêreld.

Willem Viljoen se Vastrap is weer tussen 14:00 en 15:00 op lug, waarna RSG Sport om 15:00 sal afskop. Eloise Cupido se Goue oues wat op Sondagaande uitgesaai is, sal vanaf 01 April 2023 op Saterdagaande om 18:10 gehoor kan word.

Reggie Philander

Die platejoggie Reggie Philander gaan Vrydagaande vanaf 21:20 tot 23:00 die voete laat jeuk met Skud dit, wanneer hy die dansvloer aan die brand gaan steek met sy keuse van danstreffers.

Musiek sonder Grense sal voortaan op Woensdagaande om 21:20 uitgesaai word, gevolg deur Jazz op RSG om 22:10. Laataandkuier (op Maandae), Geestesgesondheid (op Dinsdae) asook Islam in Fokus (op Donderdae) skuif ook na die 22:10-tydgleuf.

Tjil word dan die hele week van Maandag tot Sondag, elke aand om 23:10 uitgesaai.

Tharien Oosthuizen gaan luisteraars op Sondagoggende met ’n dubbeldoor wek. Sy sal 05:00 op Sondae die nuwe musiekprogram InstrumenTAAL aanbied, wat gevolg sal word deur Oggendstemming om 06:00. Binnekamer sal net na die 07:00-nuus volg en Loof die Here om 08:00.

RSG Landbou skuif ’n bietjie later en word van Maandag tot Vrydag, elke weeksoggend om 05:25 uitgesaai met die Vrydagoggendprogram wat nou ook na ’n halfuur verleng word.

Leon van Nierop se kitsverhaal, Hartebreker, wat die afgelope agt jaar in Alhoebekker uitgesaai is, kom op Vrydag 31 Maart 2023 tot ’n einde. Waar RSG se vervolgverhale gewoonlik vir net sowat drie maande lank op lug is, het hierdie gewilde verhaal luisteraars sedert 2015 vermaak.

Die res van die programskedule bly onveranderd, terwyl die eerste Radioteater-seisoen van 2023 ook in April sal afskop met al die wendramas van RSG se radiodrama-skryfkompetisie van verlede jaar.

Volgens Louise Jooste, RSG se Sakebestuurder, is die nuwe programskedule ’n weerspieëling van die musiek, programme en inhoud wat luisteraars in die verskillende tydgleuwe verkies.

“Ons is opgewonde oor nuwe stemme soos Reggie Philander wat Vrydagaande gaan opkikker, en Eloise Cupido wat met die splinternuwe Intussen met Eloise gaan begin. Boonop is Op en wakker ’n gewilde ontbytprogram met indrukwekkende potgooi-syfers en ons wil op hierdie suksesresep voortbou.” RSG se nuwe programskedule tree op Saterdag 01 April 2023 in werking.

Henco Kruger

Renaldo Schwarp

Julle gaan ook die stemme van vier nuwe kontinuïteitsaanbieders van April hoor: Veronique van Heyningen, Henco Kruger, Renaldo Schwarp en Elsje van Jaarsveld.

 

 

 

Tydgleuf Program Aanbieder/s
00:00-06:00 (Maandae-Sondae) Deurnag Verskeie: Herhaling, Landbou, Musiek
06:00-07:00 (Maandae-Vrydae) Monitor Nuus- en aktuele program
07:00-09:00 (Maandae-Vrydae) Op en wakker Ontbytprogram
09:00-12:00 (Maandae-Vrydae) Intussen* Eloise Cupido
12:00-13:00 (Maandae-Vrydae) Spektrum Nuus- en aktuele program
13:00-15:00 (Maandae-Vrydae) Driesestig Martelize Brink
15:00-17:45 (Maandae-Vrydae) Spitstyd Willem Pelser
17:45-18:00 (Maandae-Vrydae) Brandpunt Nuus- en aktuele program
18:00-19:00 (Maandae-Vrydae) Geldsake Ryk van Niekerk
19:00-00:00 (Maandae-Sondae) Aand op RSG Verskeie: spesialisprogramme
06:00-10:00 (Saterdae) Brekfis Derrich Gardner
10:00-12:00 (Saterdae) Verskeie Verskeie: reis, kos, landbou
12:00-13:00 (Saterdae) Naweekaktueel Nuus- en aktuele program
13:00-15:00 (Saterdae) Verskeie Verskeie: musiekprogramme
15:00-18:00 (Saterdae) RSG sport Verskeie aanbieders
06:00-10:00 (Sondae) Verskeie Verskeie: godsdiensprogramme
10:00-13:00 (Sondae) Verskeie Verskeie: spesialisprogramme
13:00-17:00 (Sondae) Verskeie Verskeie: musiek en opvoedkunde
17:00-20:00 (Sondae) Verskeie Verskeie: godsdiens en opvoedkunde
20:00-21:00 (Sondae) Kommentaar Nuus- en aktuele program
21:00-00:00 (Sondae) Verskeie Musiekprogramme

*Intussen begin op Maandag 8 Mei

Website: rsg.co.za   .   Twitter: @zarsg   .   Instagram: @rsg_100104fm