Ons nuwe vervolgverhaal het pas begin


Op Maandag 11 Desember kan luisteraars inskakel vir ‘n splinternuwe middagvervolgverhaal, Kom tyd, kom moeilikheid, waar geraamtes op ongeleë tye uit die kas tuimel. Die skrywer is Joe Kleinhans.

Welkom op Seebult. Die naaste dorp is Dolfynbaai. Almal ken almal op die dorp. Soms is dit goed, maar merendeels nie. Feit van die saak is privaatheid is die skaarste kommoditeit op die dorp. En natuurlik het almal op die dorp goeie en minder goeie eienskappe. Die minder goeie eienskappe kry spoedig stertjies by wat dit nie altyd maklik maak om te weet wat presies die waarheid is nie. Maar die inwoners van Seebult het oor die algemeen maar ‘n geraamte in die kas. En geraamtes het die neiging op die onmoontlikste tyd uit die kas te val.

Die geboorte van ‘n storie

Joe Kleinhans

Die storie is gebore toe die skrywer die volgende berig lees:

Die skip Johanna het op haar sesde reis op 8 Junie 1682 naby Kaap Agulhas gesink. Kaptein Robert Brown was in bevel. Tien mense het omgekom maar 104 het die Kaap gehaal. Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie Goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel het van die goud van die wrak laat afhaal.

In 1982 haal ses man onder leiding van Charles Shapiro, Gavin Clackworthy, Erik Lombard, Bert Kutzer, André Hartman en Tommy Botha 23000 muntstukke van die skip en tonne silwer, maar vind geen goud nie.

In Kom Tyd, kom Moeilikheid, kom luisteraars agter daar was egter iemand voor Charles Shapiro en kie by die Johanna. Diegene se besoek het met verloop van tyd ‘n toenemende en dramatiese uitwerking op die lewens van ‘n handvol inwoners van Seebult.

Die giftige Gertrude Germishuizen (Susanne Beyers) verloor eers haar man Karel toe hy aan ‘n oordosis pille sterf. Maar sy steur haar nie aan die giftonge wat wonder hoe Karel regtig gesterf het nie, want Karel laat vir haar miljoene na. Kort daarna sterf haar enigste kind en dogter Magteld tragies. Sy is destyds tot Gertrude se skok en afgryse, met die myner Louis Lategan (Anrich Herbst) getroud. Louis kom vestig hom in Seebult met behulp van die miljoene rande se polisgeld wat uitbetaal.

“Kruie-oase” is ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid op Seebult. Ná Sarel van Wyk se afsterwe staan die plek vir twee maande toe. Sy erfgenaam en dogter, Johanna van Wyk daag saam met Chanel de Villiers op om die plek se deure weer oop te maak. Hulle kry oud-sersant Lappies Grobler om die kruie-tuin te bewerk en somtyds in die winkel te help as Johanna en Chanel besig is om kliënte in kruie-olie te bad of met kruie-olies te masseer. “Kruie-oase” se opgehoopte skuld is voor Sarel se afsterwe betaal met ‘n polis wat oorlede Karel Germishuizen aan Sarel nagelaat het. Daaroor spuug Gertrude vuur. Chanel de Villiers kom met haar ma se dagboek onder ‘n donker wolk op Seebult aan. Lappies en Gertrude is vir redes uit die verlede, soos olie en water, hulle meng nie.

Gertrude se groot vertroueling is die suksesvolle en geslepe Neville Nomis (Waldemar Schultz), eienaar van die eiendomsagentskap Nomis Eiendomsagentskap. Neville is verloof aan die uroloog, dr Janice Jennings (Frieda van den Heever). Dokters Jennings en Celeste Celliers (Zenobia Kloppers) bedryf die Jancel Laboratorium waar hulle mediese navorsing doen. Dr Celeste hou haar voltyds daarmee besig. Fondse bly ‘n kopseer en Neville Nomis wil altyd help. Dr Janice vertrou egter nie Neville se sakekonneksies nie.

‘n Moord op Seebult krap ‘n nes van obskure sakeverbintenisse oop en geraamtes tuimel met reëlmaat uit verskillende kaste.

JOE KLEINHANS

Regisseursnota

Amor Tredoux

Kom Tyd, kom Moeilikheid is Joe Kleynhans se nuwe middagvervolgverhaal wat in Seebult, ‘n welvarende kusdorp afspeel. Die dorp is gevestig deur die bouers en boesemvriende, Karel Germishuizen en Sarel van Wyk, wat albei, ten tyde van die verhaal, reeds oorlede is.

Het Karel se weduwee hom in die ewigheid ingehelp?  Waar het Karel se skatte vandaan gekom?  Hoekom is Sarel se vervreemde dogter sy enigste erfgenaam? Hierdie is ‘n verhaal vol tergende geheime, en soos die waarheid mettertyd onthul word, blyk dit dat almal maar ‘n paar geraamtes in die kas het.

“’n Strand van hoop word een van wanhoop; optelgoed word bittergoed” sê Joe van sy verhaal. En wanneer die wrokke uit die verlede na vore kom begin die poppe dans…

Ek het hier ‘n geleentheid gesien om die spanning te onderstreep met lekker ‘vibey’ musiek-brûe tussen tonele. As die spelers in die ateljee wag vir die rooi lig om weg te val met ‘n toneel en hulle  dans, moet jy weet jy’t reg gekies!

Ek hoop julle geniet Joe se storie soveel soos ons dit geniet het om daaraan te werk.

Lekker luister!

Amor Tredoux

Ons het ‘n vraag aan die akteurs in die onderskeie rolle gestel

Hannah Borthwick

Hannah, wat is ‘n heilsame kruiebad vir jou, en waarom?

Ek is baie lief vir ‘n letterlike kruiebad! Saam met Joni Mitchell se musiekalbum “Blue”, en ‘n glas goeie rooiwyn, is dit vir my ‘n heerlike “treat”. My Ma is baie lief om te ontspan deur te bad, so ek en my sussie vind altyd troos in ‘n lekker warm bad!

 

Simoné Benjamin

Simoné, wat beteken ‘oase’ vir jou?

Die betekenis van “oase” vir my is dat daar wel lig is aan die einde van die donker tonnel. Al gaan jy deur moeilike tye en struikelblokke, moet ʼn mens moed hou en aanhou, maak nie saak hoe “droog” dit raak nie, want deur dit sal jy aan die einde jou “oase” bereik. Jy sal ʼn plek van vreugde, vrede en kalmte bereik. En wanneer ek deur daardie donker tonnel kom en die lig aan die einde bereik, my “oase”, sien ek myself lekker agteroor lê met ʼn glasie bubbly en ek sal sê “Cheers op myself! I made it!”

Zenobia Kloppers

Zenobia Kloppers = Celeste Cilliers
Zenobia, sien jy aspekte van jouself in die karakter wat jy speel? Wat? Wat nie?

Daar is seker maar altyd iets van ‘n karakter in elke akteur, want jy vorm immers die karakter vanuit jouself. So, ja, die karakter is passievol oor haar werk en baie gedrewe om die beste te wees in wat sy doen. Ek sien aspekte van myself daarin raak. Maar waar die karakter enigiets sal doen om haar drome te bewaarheid, neem ek die gevolge van my besluite baie versigtig in ag.

Frieda van den Heever

Frieda van den Heever = Dr Janice Jennings
Frieda, watse mediese navorsing sou jy befonds en hoekom?

Navorsing oor Alzheimers. Dis in my gene en ek doen alles in my vermoë om dit so lank as moontlik uit te stel. Ek is soms effe obsessief daaroor: ek draf en oefen gereeld en doen daagliks sonder uitsondering my Wordle en Wortel oefeninge soos ek opstaan in die oggend. Ek probeer feite memoriseer en word dikwels op die skouer geklop oor my fantastiese geheue, maar skrik soms as ek die karsleutel in die yskas kry of my tekkies in die oond …

Richard van der Westhuizen

Richard, wat is ‘n skat wat jy al ontdek het? Brei bietjie uit?

Watse skat het ek al ontdek?

Onlangs loop ek in die reën daar naby Nigramoep. Ek hardloop al onder ‘n reënboog tot by sy punt en daar op die grond lê ‘n bol beesmis. Ek tel dit op en by die huis plant ek ‘n jong boom daarin. Die boompie groei nou nog, baie stadig. Ek trek toe Kaap toe. Nou ontdek ek elke 5 uur of so ‘n nuwe skat.

Susanne Beyers

Susanne Beyers = Gertrude Germishuizen
Susanne, wat sou jy doen met jou geërfde miljoene?

Ek sal ‘n betroubare adviseur kry om my te help om dit te bestuur. En nooit anders as besigheidsklas te vlieg nie! En baie geld gee vir die diere.

Charlton George

Charlton: Wat is jou idee van ‘n goeie joernalis? Hoekom?

ʼn Goeie joernalis is nie bevrees om die dominante storielyn te bevraagteken nie. Dit kan ʼn mens met magtige state en korporasies in konflik bring. Waar leuens die waarheid is, is goeie joernaliste leuenaars.

Lochner de Kock

Lochner, dink jy sou ‘n goeie skattejagter wees? Hoekom/ hoekom nie?

Al die skatjies wat oor my lewenspad geloop het kan maar weer kom loop.

Ek is ʼn losjagter…

Anrich Herbst

Waldi Schultz

Waldemar Schultz = Neville Nomis

Anrich Herbst = Louis Lategan

Luisteraars kan ook uitsien na die volgende boekvoorlesings in die nabye toekoms:

Reën vir Stofvlei deur Katherine Graham, voorgelees deur Ruda Landma.
Vlug deur Wilna Adriaanse, gelees deur Joanie Combrink.