Nuwe Kompas-aanbieder is geesdriftig


Chrislynn Sias

Chrislynn Sias is die nuwe aanbieder van Kompas op ’n Vrydagaand.

Chrislynn is ’n joernalis in murg en been en dit was altyd deel van haar plan om ook die uitsaaibedryf te betree. Sy het ná matriek aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) studeer, waar sy ’n nasionale diploma voltooi het.

Sy het al by van die land se grootste Afrikaanse publikasies gewerk, waaronder Son koerant, Huisgenoot en Kuier tydskrif waar sy tans ’n joernalis is.

Chrislynn is ’n lewenslustige en leergierige mens wie se hartsbegeerte is om nuwe lewe in mense se stories en harte te blaas. “Om mense se stories te vertel is deel van my DNA. Soms is al wat mense nodig het ’n luisterende oor en iemand wie hul emosies en lewensverhaal kan neerpen. Daai kyk in hul oë en opregte dankbaarheid is een wat my hart warm laat klop.”

Sy is baie opgewonde oor die nuwe geleentheid by RSG. “Afrikaans is my taal – die taal waarin ek leef, droom en werk. Dit is my brood en botter, my hartstaal en een waarin ek nou ’n opwindende geleentheid kry om met luisteraars te kommunikeer. Ek kan nie wag om aan die werk te spring nie!”