Ontmoet boeremusiek-man Willem Viljoen


Willem en sy Jack Russell Philippie op die strand by Kleinmond. Die Jack Russell volg hom soos ‘n skaduwee en Philippie het een keer Willem se lewe gered.

Vir die Vastrap-aanbieder Willem Viljoen, is boeremusiek nie net iets wat hom na aan die hart lê nie, dit is iets wat deur sy are bruis. En as jy op ’n Saterdagmiddag inskakel op RSG vir Vastrap, sal jy nie anders kan as om jou voete te roer en te begin skoffel nie. Dít is iets wat baie luisteraars al lankal weet, Willem se liefde vir boeremusiek is aansteeklik. Esté Gross het met hom gesels om uit te vind wie hy is en wat hy alles doen as hy nie agter die mikrofoon saam met luisteraars kuier nie.

Willem se grootwordjare

“Ek het ‘n baie lekker kinderlewe gehad en het die meeste van my tyd op my oupa se plaas by Piramid naby Hamanskraal  buite Pretoria spandeer.”

Willem sê as die seun van die bekende musikant Ollie Viljoen, was daar altyd klanke van boeremusiek en jazz in die huis: “Ek kan nie een oomblik onthou wat daar nie ’n radio aan was of daar nie plate gespeel is nie. My pa se vriendekring was maar ook almal musikante gewees en as hulle kom kuier het, was daar altyd musiek in die huis. Dit was vir my wonderlik om te sien hoe gelukkig hierdie mense is terwyl hulle musiek maak, die geluk het ook oorgespoel na die res van my gesin.”

Willem se ma, Estelle Viljoen was ‘n lektor in Afrikaans by die Universiteit van Johannesburg (destyds Rand Afrikaanse Universiteit, RAU). Hy vertel hoe hy en sy suster Enel, van jongs af blootgestel is aan gedigte en hy nou nog ’n groot liefde daarvoor het: “Waar ander kinders se ma’s vir hulle storieboeke vir hulle gelees het, het my ma vir ons uit die Groot Verseboek gedigte gelees.”

Kan jy self ’n musiekinstrument speel?

“Volgende keer, as jy mense op ’n Saterdagaand nooi vir n braai, en dit raak laat en die mense wil nie loop nie, dan vra jy my vir my om so bietjie kitaar te speel. Dan is hulle vinnig uit die huis uit.”

Willem lag en vertel verder: “Ek speel so bietjie kitaar, maar ek dink die talent het my oorgeslaan. Ek het dit regtig net nooit opgevat nie, en ek kon nooit die kop by die hande kry nie. My sussie is die kunssinnige een. Sy speel klavier en skilder en is vandag ’n TV regisseur. Om rugby te speel en op ’n trekker op die plaas die lande te ploeg, was meer my ding gewees.”

“My ouers het nooit druk op ons geplaas vir enige iets nie, hulle het ons vrye teuels gegee, maar my pa het darem baie moeite gedoen met my…”

Kitaarlesse

“Vir my tiende of elfde verjaarsdag het my pa vir my ’n pragtige splinternuwe Ibanez kitaar gekoop. Ek het klassieke kitaarlesse by Trevor Nasser geneem. Oom Trevor het toe eendag net vir my pa gesê, ‘jy mors sy geld.’ Daarna het my pa my kitaar laat neem by Ricardo Borman. Ek was altyd baie opgewonde om vir kitaarles te gaan want oom Ricci het ’n pragtige dogter gehad, dít was my motivering…”

Sy liefde vir musiek

“Die passie rondom musiek, is vir my baie aantreklik. My pa het altyd ’n hoë standaard gehandhaaf, veral wat musiek betref. Ek het altyd gesit en luister as my pa en sy vriende praat.”

“Ek het ‘n goeie oor vir musiek en kan hoor as ’n akkoord vals is of iets nie lekker is nie en het ’n ongelooflike passie vir veral boeremusiek. Dit is n tradisie en dit is iets wat bewaar moet word.”

Skape in Patagonië

Van Polisieman tot Patagonië

“Ek was tussen 1989-1996 ‘n polisieman gewees in Johannesburg. Ek was in Brixton en later in Hillbrow gestationeer. Na die polisie het ek vir n paar jaar die wêreld gaan verken.”

“Ek het vir twee jaar by die Afrikaanse boere in Patagonië in die suide van Argentinië gebly en daar plaaswerk gedoen en gehelp met die skaapboerdery. Daarna het ek deur Brasilië getoer. Ek het daar ’n Amerikaanse meisie ontmoet en is saam met haar na Amerika. In Amerika het ek elke liewe job onder die son gedoen.

Die lekkerste vir my was die jaar toe ek in Florida gewerk het vir ’n organisasie waar ons die haainette langs die kus gepatrolleer het.”

Willem in sy boerewors winkel met sy twee werkers Natacha en Patience, wat al 12 jaar saam met hom werk.

Wat doen jy vandag om die pot aan die kook te hou?

“As stokperdjie het ek jare terug begin jag, en is vandag steeds verskriklik lief daarvoor. Ek hou van die hele proses, die jag, die vleis, die verwerking en die eet daarvan.”

“Ek maak tradisionele resepte, soos wors, salami’s en koue vleise. Ek het ook later begin eksperimenteer en snaakse goed begin aanvang met die vleis. Ek het byvoorbeeld begin om vrugte, dadels en pruime in die wors te sit. En skielik het ’n stokperdjie ’n werk geword.”

“Ek het nou al vir twaalf jaar ‘n vleisbesigheid, ‘n klein fabriek waar ek daagliks self betrokke is by die hele proses. Ek verkoop die produkte op organiese kosmarkte in die Kaap en verskaf ook produkte aan ’n paar restaurante.”

Die berg uitsig vanaf Willem se agterstoep

Buitelug-mens

Kleinmond

“Ek woon in Kleinmond, dis ‘n pragtige plekkie, ‘n paradys! Dit is ’n klein kusdorpie geleë tussen die Strand en Hermanus.”

“Ek is ’n buite-mens en hou daarvan om op ongerepte plekke te gaan stap bo by die berg of onder by die see. Ek het altyd ‘n klein roostertjie by my en soek dan ‘n braaiplek as ek ver kuslangs met my Jack Russel hondjie Phillipie loop. Ek hou ook van visvang, en my gunsteling plek is die bosveld.”

Willem se braaiplek en kombuis, ‘n baie belangrike vertrek in sy huis.

Die renaissance in boeremusiek

“Die afgelope vier jaar het ek ’n absolute herlewing in boeremusiek beleef en gesien. Jy kan nie glo hoeveel boeremusiekdanse daar deesdae is nie! Ek dink mense het wakker geskrik en besef, as hulle nie iets gaan doen om die skat te bewaar nie, gaan dit verlore gaan. Boeremusiek het ook sy bagasie van die verlede afgegooi. Die jongmense besef jy hoef nie skaam te wees daarvoor om boeremusiek te luister nie, dit is deel van jou. Die stigma is weg.”

Wat is jou gunsteling boeremusiekliedjie?

“Sjoe dit is moeilik, dit is soos om my te vra wie is my gunsteling konsertina-speler, maar as ek móét sê, dan is dit die Soutpansbergpolka, wie dit okal speel, dit maak nie saak nie. Dit is so omskrywend van boeremusiek – van sy onstaan en oorsprong in Suid-Afrika in die agtiende eeu tot hoe boeremusiek vandag klink.”

Willem,Phillippie en ‘n maatjie

Luister

Phillipie, Willem se Jack Russel, is nou al elf jaar oud en is sy absolute skaduwee. Willem sê: “Sy het my lewe gered en ek sal dit vir altyd onthou.”
Luister na die klangreep om uit te vind hoe Phillipie Willem se lewe gered het: