Pinkstermusiek eersdaags op Sondagaande


Elwira Standili

Vanaf 2 Januarie 2022 begin ‘n nuwe reeks op Sondagaande net ná die seweuur nuusflitse: PINKSTER IN MY HART.

Die aanbieder, Idols-deelnemer, Elwira Standili, ontvang gospelsangers in die atlejee, in wie se harte dit daagliks pinkster is, brandende vir die Here. Sy gesels met sangers soos Carlo Abrahams, Cheswyn Ray, David Jantjies, Jessie Lottering, Kevin Booysen en vele ander oor hulle sangloopbane. Van hulle sang word ook voorgespeel.

Moenie hierdie seilsverrykende halfuur elke Sondagaand misloop nie!

Elwira Standili, die aanbieder van die nuwe Sondagprogram Pinkster in my hart, stel haarsellf só voor:

“My naam is Elwira Standili, en ek is ‘n 29-jarige boorling van Worcester in die pragtige Boland.

“Toe ek ‘n paar jaar gelede as skoonmaker gewerk het, het ek graag na RSG geluister en dit het my behoorlik aan die gang gehou. Sedertdien wou ek graag radiowerk doen; moontlik omdat ek eintlik baie praat.

“Ek knyp myself nog omdat ek die aanbieder gaan wees van die splinternuwe program Pinkster in my hart, waar ons hoop wil bring vir die luisteraar, stories gaan deel, gaste beter leer ken, hoor wat pinkster vir hulle beteken en dan natuurlik na lekker pinkstermusiek luister. As jy lief is vir die Here, lief is vir mense en van musiek hou, moet jy nie dié program misloop nie.

“Baie mense het my leer ken as sangeres op die SA-Idols verhoog in 2015. Ek het aan die elfde seisoen deelgeneem. My sangloopbaan het daarna van krag tot krag gegaan en ek is baie trots dat ek in 2019 ons Volkslied kon sing met die openingswedstryd van die Drienasies-toernooi op Emirates Airline Park. In 2020 het ek besluit om voltyds gospelmusiek te maak. Dit was ‘n hartsbesluit. Ek het in die kerk grootgeword en oral waar ek gaan, n stukkie van die kerk saam met my gedra. Ek het ook nou twee Afrikaanse gospel enkelsnitte opgeneem: Sy Hand en Emmanuèl – God Met Ons.”