Pretorianer se rillerdebuut maak skoonskip in skryfkompetisie


Lena Nel (42), ’n Pretorianer wat bladuitleg vir ’n farmaseutiese maatskappy doen, is die wenner van RSG se radiodramaskryfkompetisie met haar debuut-radiodrama, Tweegesig.

Die skryfkompetisie in samewerking met die ATKV is in 2023 vir die 27ste keer aangebied.

Nel ontvang R50 000 vir haar spioenasieriller wat handel oor die hoof van ‘n tegnologiemaatskappy wat tydens ‘n fietsrit geskiet en beroof word. Die twee mense wat hom te hulp snel, word saam met hom meegesleur in ‘n wipwaentjierit propvol kinkels.

“My grootste droom was nog altyd om te kan skryf,” sê Nel. “Ek lees minimum vier boeke ‘n maand en nadat ek die kortlys gehaal het, beplan ek om aan te hou skryf.”

Sy sê sy gaan met haar prysgeld vir haar ‘n “ordentlike rekenaar en honderde notaboekies” koop.

Haar wendrama Tweegesig
Tweegesig is ‘n spioenasieriller wat handel oor die hoof van ‘n tegnologiemaatskappy wat tydens ‘n fietsrit geskiet en beroof word. Die twee mense wat hom te hulp snel, word saam met hom meegesleur in ‘n wipwaentjierit propvol kinkels. Die beoordelaars het gesê dis ‘n puik spanningsdrama met slim en weldeurdagte dialoog. Dit is beskryf as “heerlike radioteater van die boonste rak”.

Die naaswenner is Anneli du Preez (35), ‘n voltydse skrywer van Johannesburg, wat R25 000 ontvang vir Verraad.

Meer oor Verraad
Hierdie debuutdrama handel oor ‘n gay getroude paar wat na sewe jaar ‘n slaggat in hul huwelik tref. Jaco wil skei, want hy reken hy is nie gay nie. Of altans, hy was nooit gay nie. Terwyl die twee koppe stamp kom die ware feite aan die lig…

Madeleine Venter (46), ‘n gekwalifiseerde grondslagfase-onderwyseres van Krugersdorp, ontvang die derde prys en prysgeld van R15 000 vir Taaispul. Venter was in 2022 ‘n finalis in die RSG radiodrama-skryfkompetisie met haar teks, Tyd vir ‘n wonderwerk.

Meer oor Taaispul
Haar drama handel oor ‘n bejaarde man, Dirk, wat vir Katrien van Help-‘n-Senior vra om hom met “sleurwerkies” te help. Sy eintlike doel is om sy eerste liefde, wat deesdae getroud is, se hart te wen. En Katrien moet nie net kos bedien nie, maar die liefdesvure aanblaas.

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is deur Almé Swart (29) ingepalm met haar tweede radiodrama, Blommekroon vir Belinda. Swart het voorheen die Jong Skrywersprys gewen vir haar debuut-radiodrama, Mot, wat ook op RSG uitgesaai is. Sy ontvang ook R15 000.

Meer oor Blommerkoon vir Belinda
Belinda Gouws kom sit elke middag in haar seun, Barend, se koffiehuis. ‘n Nuwe kelnerin, Nadia, vermoed dat daar ‘n groot skroef los is en dat Belinda nooit herstel het na ‘n groot traumatiese gebeurtenis in haar verlede nie. Wanneer sy een middag ‘n blommekroon vir Belinda vleg, hoor Nadia wat werklik lank, lank gelede gebeur het.

Die merieteprys, gekies deur die beoordelaars uit die finaliste wat nie die vier topposisies beklee het nie, gaan aan Anene Loots (64), ‘n onderwyseres wat ‘n aflospos by Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad beklee. Loots wen R10 000 vir haar debuut-radiodrama, Shirley se skuld.

Meer oor Shirley se skuld
Dit is ‘n prettige komedie wat in ‘n aftree-oord afspeel waar Rina en Ella die vonke laat spat. Rina wen ‘n reis na Griekeland, maar Ella reken dis ‘n verneukspul. Intussen het Ella ‘n afspraak met ‘n man wat sy op Tinder ontmoet het, gemaak. Dalk is hulle albei besig om in ‘n slenterstrik te trap. Die uiteinde is vol komiese draaie!

Al die wendramas word vanaf April in RSG se eerste Radioteater-seisoen van 2024 uitgesaai.

RSG en die ATKV het verlede jaar altesame 141 inskrywings ontvang. Na die eerste ronde van beoordeling is 22 finalistekste gekies wat mentorskap ontvang het, voordat die laaste ronde van beoordeling plaasgevind het.

Kobus Burger, RSG se programbestuurder, sê die toename in inskrywings toon dat al hoe meer en veral jonger skrywers die krag en kreatiwiteit van radiodrama omarm. “Radiodrama is so ‘n opwindende medium en die genres en temas wat die skrywers in hul tekste oopgeskryf het, bevestig dat radiodrama steeds nie grense het nie. En die hoeveelheid debute is ook ‘n aanduiding dat radiodrama ‘n toeganklike medium is wat skrywers van alle ouderdomme aangryp. Dit gaan ‘n fees wees om na die wendramas te luister.”

Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV toon grenslose kreatiwiteit van die deelnemers ‘n wengees. “Om deel te wees van die RSG/ATKV Radiodrama-skryfkompetisie gaan nie net oor die erkenning nie, dit gaan oor die reis. Elke inskrywing was ons ontvang het, is ʼn bewys van die deelnemers se vasberadenheid en harde werk. Dankie aan RSG vir die wonderlike geleentheid om aspirantskrywers se talente te ontdek en te bevorder. Die ATKV is trots op dié vennootskap. Baie geluk aan die wenners!”