Regstreekse konsert Saterdag die hoogtepunt van verjaardagvieringe


RSG vier 85 Jaar van Afrikaanse Radio met ‘n hoogtepunt – ‘n regstreekse konsert van U Eie Keuse vanuit die SABC se M1-Ouditorium in Auckland Park.

Hierdie luisterryke en bykans twee uur lange konsert vind op Saterdag 29 Oktober plaas.

Die konsert, wat om 20:00 sal begin, word aangebied deur Willem Pelser en sal bestaan uit die gewildste versoeke van RSG se luisteraars. Luisteraars hul kan verkneuter in die tydlose deuntjies wat oor die dekades heen in hierdie program – die oudste op Afrikaanse radio – versoek is. Die geskiedkundige en majestueuse orrel in die M1-ouditorium gaan ook tydens die konsert gehoor word.

Eddie Clayton

Die Naledi-bekroonde dirigent Eddie Clayton sal op die podium wees en is ook verantwoordelik vir die musiekverwerkings. Hy is bekend as musiekregisseur, dirigent, komponis en musiekverwerker. Hy het met verloop van jare met meeste Suid- Afrikaanse orkeste asook  ballet- en operageselskappe gewerk.  Hy was ook dirigent van  Huisgenoot Skouspel, Classics is Groot en Disney se The Lion King Live. Sy groot liefde is egter om  met jong musici te werk en is hy tans dirigent van ses verskillende jeugorkeste in Gauteng.

 

Die soliste (sangers en instrumentaliste) vir die konsert is:

Bongani Kubheka

Bongani Kubheka (bariton) kom van Newcastle in KwaZulu-Natal en het aan die Universiteit van Kaapstad  se Skool vir Musiek in samewerking met Kaapstad  Opera sang- en opera-opleiding ontvang. Bongani het  onder andere  aan die Houston Grand Opera’s Young Artists Programme gestudeer sowel as  aan die Welsh International Academy of Voice in Cardiff, Wallis. Hy het ook  meestersklasse van onder andere Dame Kiri Te Kanawa en dirigent, Richard Bonynge ontvang en saam met die internasionaal bekende Bryn Terfel getoer. Bongani het aan  nasionale en internasionale sangkompetisies deelgeneem en was onder andere twee keer finalis  in Placido Domingo’s Operalia sangkompetisie, een van die grootste sangkompetisies in die wêreld. ‘n Opera-loopbaan wag op hom in 2023 in Europa.

Ockkie Vermeulen

Ockie Vermeulen (orrel) het eers grade in ekonometrie  en musiek aan die Universiteit van Pretoria voltooi, waarna hy sy meestersgraad in orrel aan die Universiteit van Noord- Texas aangepak het. Hy het later sy doktorsgraad in orrel  onder leiding van Wim Viljoen ontvang. Hy stel verskeie orrelopnames vry, en word benoem vir verskeie toekennings. Met verloop van jare het Ockie en komponis, Christa Steyn vriende geword en is hy steed ‘n groot bewonderaar van haar musiek.

Ockie is tans ‘n finale jaar mediese student aan die Universiteit van Pretoria.

Ian Siemers

Ian Siemers (doedelsak) is lid van die huidige Suid-Afrikaanse kampioen doedelsak-orkes, The Transvaal Scottish Pipes & Drums. Hy het deur die jare reeds baie toekennings vir sy solospel ontvang. Van sy komposisies word wêreldwyd gespeel.

Ian is ‘n sielkunde dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Magdalene Minnaar

Magdalene Minnaar (sopraan) is een van Suid-Afrika se  voorste soprane en is sedert 2001 in talle opera- asook musiekblyspele en ander konserte te sien. Sy is ook bekend vir haar grensverskuiwende werk  as  vervaardiger en regisseur deur Biblioteek Produksies, haar produksiehuis.

Sy is tans Artistieke Direkteur van Kaapstad Opera en is ook op die direksie van  Die Liedmakersgilde van Suid-Afrika.

Heinrich Sutton

Heinrich Sutton (pianis) is ‘n 15-jarige leerder aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria. Sedert hy ‘n student van Claudine van Breda geword het, het dié jong pianis verskeie nasionale musiekkompetisies gewen. Hy is ook lid van die Hoërskool Waterkloof se jazz-orkes, asook die Johannesburgse Jeugorkes. Hy is ook ‘n kranige kaskarryer en neem letterlik aan alles deel by die skool.

Leon Gropp

Leon Gropp (kitaar) is sedert 2005 deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en bekend as virtuosekitaarspeler. Hy was die ander helfte van die kitaarduo,  CH2. Leon is ook bekend vir sy unieke liedjieskryfstyl en sangstem. Hy het vele toekennings ontvang, waaronder drie SAMAS. Hy is lid van “Musiek soos Grond”, ‘n beweging wat ten doel het om  ‘n  platform  vir onafhanklike  kunstenaars wat nie in die hoofstroom van die bedryf funksioneer nie, te wees. Leon is tans ook aanbieder op die Afrikaanse  ontbytprogram, Ontbytsake.

Zanta Hofmeyr

Zanta Hofmeyr (viool) het op 17 jarige ouderdom aan die Juilliard Skool vir Musiek in New York gaan studeer. Vandag is sy een van Suid-Afrikaanse beste violiste. Sy is nie net bekend  vir haar werk as solis nie, maar is ook ‘n  kamermusikus en speel selfs jazz. Zanta het met verloop van jare verskeie opnames  vrygestel, en  is met verskeie toekennings bekroon. ‘n Roos is ook na haar vernoem.

Hlengiwe Mkhwanazi

Hlengiwe Mkhwanazi (sopraan) is ‘n boorling vanaf KwaZulu-Natal, maar woon deesdae in Kaapstad. Sy is lid van die alumni van die Skool vir Musiek, Universiteit van Kaapstad sowel  as die Ryan Opera Centre, Chicago in die VSA. Hlengiwe het menige plaaslike sangkompetisies gewen, maar  is ook aangewys as die naaswenner van die gesogte Hans Gabor Belvedere Internasionale Sangkompetisie, een van die grootste sangkompetisies op die planeet. Hlengiwe verskyn gereeld op Suid-Afrikaanse verhoë en is te siene in operas en ook in musiekkonsterte soos Starlight Classics onder leiding van Maestro Richard Cock.

Naas die eregaste sal van RSG se luisteraars ook die konsert kan bywoon. Bly dus ingeskakel om te hoor hoe jy die konsert gratis kan bywoon.

Die konsert sal regstreeks vanaf 20:00 tot 22:00 uitgesaai word en sal ook deur bekende en gewilde omroepers bygewoon word.