RSG en NATi wil land laat lag


Luisteraars van RSG kan nou inskryf vir ’n nuwe kompetisie wat Afrikaanse komedie gaan bevorder.

RSG en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) het die heel eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie vir komiese radiodramas aangekondig. Dié nuwe kompetisie met ‘n totale prysgeld van R40,000 is vir kort, komiese radiodramas van ‘n kwartier lank.

Enige genre van komedie – van klug tot skerpskerts – is welkom, solank dit ‘n nuwe en oorspronklike radiodrama is en in die voorgeskrewe radiodrama-formaat geskryf is.

Geen verwerkings van bestaande materiaal, verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie. Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een radiodrama per persoon. Geen prosa, kortverhale of verhalende werk sal kwalifiseer nie.

Die duur van die drama moet slegs 15 minute wees – sowat 12 tot 13 A4-bladsye maksimum. Net ‘n maksimum van vier karakters word toegelaat.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Die sluitingsdatum is Dinsdag 30 November 2021.

Die algehele wenner ontvang R20,000. Die tweede prys is R10,000. Dan sal daar ook twee aansporingspryse van R5,000 elk toegeken word. Die vier wendramas sal in 2022 op RSG uitgesaai word.

“In hierdie moeilike tyd vir die kunste en die mensdom, is dit so verfrissend dat RSG die dapper stap neem om ’n komedie-kompetisie aan te bied en NATi is besonder trots op hierdie venootskap,” het Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, gesê.

“RSG is ’n bron van lig, van troos, van inligting en bowenal is dit ’n onontbeerlike tuiste vir Afrikaans in al haar vorme.  Ons hoop van harte ons skrywers neem die uitdaging aan en kom vier saam met ons een van die belangrikste funksies van die kunste:  om mekaar te vermaak en mekaar te leer ken.  Niemand moet die rol van die komedie in die samelewing vlak kyk nie!  Dankie aan Kobus Burger vir hierdie ongelooflike inisiatief.”

Die wenners sal teen die middel van Januarie 2022 regstreeks op RSG aangekondig word.

Navrae oor die kompetisie kan aan Kobus Burger, RSG se Senior Regisseur: Mandaat, gerig word by kburger@rsg.co.za.