RSG gaan Kersvader speel en geskenke weggee


Kersvader se kerskous bult behoorlik.

Kersvader gaan RSG se luisteraars reeds vroeg in Desember besoek! Vanjaar kan luisteraars – jonk en oud – ’n reeks opwindende en duur geskenke wen.

In die gees van die Barbie-lokettreffer wat vanjaar wêreldwyd opslae gemaak het, is daar ’n Barbie DreamHouse (met drie verdiepings, hysbak, flikkerende ligte en ’n swembad) wat vanaf Vrydag 1 Desember in Intussen met Eloise (weeksdae tussen 09:00 en 12:00) weggee gaan word. Hierdie geskenk is sowat R6 500 werd en kan deur ’n gelukkige seuntjie of dogtertjie gewen word. Skryf net ’n briefie aan Kersvader en stuur aan RSG.

Op die koop toe, gaan RSG se Intussen-span ook twee Barbie-poppe weggee.

Maak seker dat jy inskakel, die kinders en kleinkinders nooi om in te skryf. En sorg net dat daardie briefies Kersvader RSG betyds  bereik.

Willem Pelser en die Spitstyd-span gaan ’n Hot Wheels City Ultimate Garage (ter waarde van R3 500) weggee. Hierdie avontuurlike speelding is bykans 1 meter hoog en bestaan uit talle vlakke en sluit twee Hot Wheels-motors in. Dit is veral geskik vir seuntjies van vyf jaar of ouer, maar kan ook deur enigiemand van enige ouderdom geniet word.

Die heel boonste vlak spog met ’n draak wat lief is vir motors en hulle sommer heel insluk!

Luister na Spitstyd, weeksdae tussen 15:00 en 18:00, vanaf 1 Desember om te hoor hoe jy hierdie prys kan wen.

Die Op en Wakker-span is lief daarvoor om luisteraars se kennis te toets – van taal tot musiek. In Desember gaan hulle ’n spesiale vasvra bestaande uit vyf vrae aanbied waarna luisteraars vyf geskenkpakke met speletjies sal kan wen.

Elke geskenkpak sal uit ’n Scrabble-stel en Uno-kaarte bestaan – die ideale speletjiespret vir die hele gesin!

Die eerste vyf luisteraars wat al vyf vrae korrek beantwoord het, sal so ’n geskenkpak wen.

Luister na Op en Wakker, weeksdae tussen 07:00 en 09:00, om aan die vasvra deel te neem en staan ‘n kans om ‘n geskenkpak met speletjies te wen.