Só maak RSG ‘n verskil in mededingende radiolandskap binne sy uitsaailisensie-voorwaardes


RSG se bestuurspan sit na aanleiding van onlangse kommentaar en mediaberigte, uiteen hoe ‘n Openbare Uitsaaier werk, wat OKOSA se bepalings vir RSG se uitsaailisensie is en gee inligting oor dié stasie se omvattende mandaat.

Te midde van toenemende belangstelling van die publiek in die rol en funksionering van die Openbare Uitsaaier, is dit van kardinale belang om te besef dat die SAUK en spesifiek sy Afrikaanse radiodiens RSG die maatskaplike verantwoordelikheid het, en daartoe verbind is, om inhoud in verskeie genres uit te saai wat die Suid-Afrikaanse samelewing in al sy verskeidenheid op lug sal reflekteer.

Plaaslike inhoud
Ons visie as Openbare Uitsaaier is om ons aanbod van plaaslike inhoud te verbreed, terwyl ons ook ’n fyn balans handhaaf tussen internasionale en gewilde of vermaaklike inhoud.

Ons leef egter in ’n wêreld waar mense se belewenisse nie altyd net tot Suid-Afrika beperk is nie en van ons programme bied gereeld insette van internasionale kenners en akademici. Binne dié konteks sal plaaslike inhoud (insluitend musiek) altyd koning kraai. Dit is daarom vir RSG belangrik om Suid-Afrikaanse stories, ervarings en mense in die kollig te stel.

Omvattende mandaat
In die lig van RSG se omvattende mandaat is dit belangrik om te onthou dat al die SAUK se radiostasies wetlik verplig word om verskeie statute en regulasies in sy daaglikse uitsendings na te kom.

Al die radiostasies moet spesifieke plaaslike kwotas nakom wat deur die reguleringsowerheid die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKOSA) in uitsaailisensies vervat word.

RSG se lisensievoorwaardes bepaal dat die stasie aan spesifieke vereistes moet voldoen wat sy nuus, aktualiteit, drama, kinderprogramme, sport, godsdiens, opvoedkunde en inligtingsprogramme betref.

Die stasie het ook ’n kwota van 70% vir Suid-Afrikaanse musiek, waaraan maandeliks voldoen moet word.

RSG voldoen voortdurend aan al die mandaatvereistes en in sommige gevalle lewer die stasie selfs meer was wat vereis word, soos in die totale drama-aanbod.

Spesifieke OKOSA-vereistes in RSG se uitsaailisensie
Die OKOSA-vereistes, soos wat dit in RSG se uitsaailisensie uiteengesit is, verwag van die stasie om weekliks

  • altesaam 300 minute van opvoedkundige programme,
  • 60 minute van kinderprogramme,
  • 180 minute van godsdiens en informele kennisbouprogramme
  • asook 180 minute van dramaprogramme uit te saai.
  • Die nuus en programme met aktualiteit het verskillende vereistes vir weekdae en naweke.

RSG bied ‘n verskeidenheid inhoud en musiek wat relevant, interessant en vermaaklik is vir die teikengehoor en hul kultuurbelewenis, terwyl daar deurentyd aan die mandaatvereistes voldoen word.

RSG was nog altyd innoverend in sy inhoud en aanbieding om sodoende relevant te bly in ‘n moderne era waar luisteraars ‘n wye keuse van media-aanbiedings het.  Die stasie streef altyd daarna om inhoud van hoogstaande en wêreldklas-gehalte in ‘n hoogs mededingende uitsaaibedryf te bied.

Lojale luisteraars
RSG se luisteraars is van die mees lojale en passievolle mediaverbruikers wat hul stemme daagliks laat hoor. Dit is daarom ’n delikate balanseertoertjie om vir almal van 8 tot 80 jaar uit diverse agtergronde iets betekenisvols en selfs vermaaklik te lewer.

Die RSG-gehoor wissel van tradisioneles en utopiërs tot materialiste en middelmatiges of onsimpatiekes. Luisteraars is die hele tyd in kontak met die stasie en gesels saam deur die SMS-lyn, WhatsApp-stemnota’s, oproepe na die ateljee, die stasie se amptelike e-posadres sowel as deur die digitale- en sosialemediaplatforms.

Dit bly ’n uitdaging om aldag aan ’n gehoor van 1,287 miljoen individuele luisteraars se behoeftes en smake te voldoen. Met sy wye programaanbod, bied RSG se boeket iets vir almal en sal luisteraars wel iewers iets vind om by aanklank te vind.

RSG is nie ‘n godsdiens-stasie nie
RSG is nie ’n godsdienstige stasie nie, maar ’n sekulêre uitsaaier wat geloofsprogramme uitsaai as deel van die gehoor se kultuurbelewenis, in ooreenkoms met die weeklikse OKOSA-lisensievereistes.

Deur sy programme stel RSG sy luisteraars bloot aan inspirerende verhale, stories van groei en veerkragtigheid, asook ’n magdom sienings wat op ’n smaakvolle en sensitiewe manier aangebied word.

Markleier
In talle van sy programme is RSG die markleier, soos sy veelbekroonde dramaspyskaart.

Tydens die onlangs Suid-Afrikaanse Radiopryse, het RSG weer eens die prys vir beste radiodrama ingeoes. Vroeëre dramaproduksies het die grense verskuif met omstrede stukke soos Pous Johanna en die Jeanne Goosen-kabaret Elders aan diens. Selfs met En toe kom Eva, met die veteraanakteur Louis van Niekerk in die rol van God, het die stasie klagtes ontvang oor die inhoud.

RSG koester egter die reg op vryheid van spraak en die kreatiewe vryheid om intelligente en soms uitdagende inhoud vir ’n diverse gehoor te bied.

As ’n betroubare Afrikaanse radiohandelsmerk sal RSG die belangstellings van sy luisteraars weerspieël, maar as Openbare Uitsaaier het die stasie ook die rol om op ’n verantwoordelike manier op te voed en te bemagtig. RSG maak ’n verskil en sal voortgaan om ’n verskil in Suid-Afrikaners se lewens te maak as getroue klankmetgesel.

RSG is verbind tot die lewering van sy mandaat en vra sy luisteraars om die stasie en sy omroepers verantwoordbaar te hou, maar ook om erkenning te bied as die stasie sukses behaal en ’n positiewe impak op lewens het.

Deur in die kleurvolle luisterpubliek se behoeftes te voorsien, verseker RSG sy voortbestaan as klankgenoot.