Musiek op RSG: wat luisteraars sê


Gustav Greyling

Ons het halfpad deur verlede jaar besluit om te skaaf aan die speellys wat op weeksdae tussen 5vm en 6nm speel. Die musiekspeellys wat gedurende die dag speel is ‘n langtermynprojek wat stadig maar seker gestalte neem. Deel van die skaafwerk was die informele navorsing wat ons in die vorige nuusbrief gedoen het, skryf Gustav Greyling, wat aan die musiekspeellyste timmer. Hy gee terugvoer oor die luisteraars se menings.

Een ding wat ons oor die jare heen geleer het, is dat dit onmoontlik is om elke individuele luisteraar gelukkig te hou met die programme wat ons oor die radio uitsaai.

En dis nog meer die geval met die uiteenlopende musieksmake. Daardie lied, musiekstyl of kunstenaar wat vir jou so mooi en spesiaal is, word heel waarskynlik verpes deur iemand anders.

Maar ons probeer tog ons bes.

Skaaf aan die speellys

Ons het verlede jaar besluit om te skaaf aan die speellys wat op weeksdae tussen 5vm en 6nm speel. Baie van die werk was agter die skerms en het gefokus op ‘n behoorlike uitdun van snitte, en ‘n nuwe benadering tot hoe die musiek deur verskillende tye van die dag en week roteer. Ons doelwit is om musiek te speel waarvan die meeste mense sal hou, ongeag wie hulle is of van waar hulle luister.

As openbare diens-radiostasie het ons ‘n verpligting en mandaat om soveel as moontlik mense te bedien, en daarom kan ons bv. nie NET die musiek speel waarvan slegs ons ouer luisteraars hou nie.

RSG gebruik die musiekskedulering-sagteware, MusicMaster, wat deur ‘n maatskappy in Duitsland verskaf word aan honderde radiostasies in Europa en oor die wêreld heen. Hier is een van die skedules tydens Willem Pelser se middaggleuf, Spitstyd.

Dit beteken egter glad nie dat ons nie ook daardie musiek sal speel nie. Ons het steeds geleenthede vir musiekversoeke deur die loop van die dag, en ‘n hele paar spesialis-musiekprogramme wat ons saans en oor naweke hier op RSG uitsaai. Haidee se Wegtreknommertjies, Musiek Sonder Grense, U eie Keuse, Loof die Here en Nic se Goed is maar ‘n paar van die gunstelingprogramme wat ons met groot sorg en liefde vir ons luisteraars saamstel. Ons wil graag ‘n radiostasie wees waar almal vir so lank as moontlik kan tuis voel. Hier by RSG is ons ‘n groot en kleurvolle familie, en ons wil jou, jou kinders, jou ouers, jou bure en jou kollegas almal as deel van daardie familie laat tuis voel.

Ons peiling

Die musiekspeellys wat gedurende die dag speel is ‘n langtermynprojek wat stadig maar seker gestalte neem. Deel daarvan was die informele navorsing wat ons in die vorige nuusbrief gedoen het. Baie dankie vir jou deelname, die terugvoer was oorweldigend en het aan ons gewys dat ons bestaande en toekomstige luisteraars baie passievol is oor die stasie en sy musiek.

Verreweg die meeste deelnemers aan dié navorsing het die verandering van RSG se dagtyd-musiek agter gekom, en is baie positief daaroor. Ons is baie dankbaar daarvoor, en kan jou verseker dat ons voortdurend daaraan sal skaaf en werk om dit nog beter te maak.

Ons wou ook graag weet hoe jy voel oor Afrikaanse musiek. As een van die min radiostasies wat slegs in Afrikaans uitsaai en wat landwyd gehoor kan word, weet ons Afrikaanse musiek is deel van ons DNS. Maar dis ook een van die onderwerpe wat baie verdelend is en baie opinies en kritiek uitlok. Ons het voorheen baie klagtes gekry oor die soort en hoeveelheid Afrikaanse musiek wat op RSG gehoor is, en ons het hard daaraan gewerk om ‘n goue middeweg te probeer vind. Ons weet almal hou nie van Afrikaanse musiek nie, of dan minstens nie van dieselfde soort Afrikaanse musiek nie. Diegene wat aan die navorsing deelgeneem het, het vir ons ‘n baie duidelike boodskap gegee: hulle is gelukkig met die hoeveelheid Afrikaanse musiek wat ons deesdae speel, en wil nie noodwendig meer daarvan hoor nie. En die een ding waaroor almal saamstem wat die vraelys ingevul het, is dat ons asb. moet wegbly van musiek wat te vlak is, of om dit nou te stel soos meeste mense in die navorsing: moenie die doef-doef sokkie-bokkie-baby-musiek speel nie. Ons sal ons bes probeer, afhangend van die tyd van die dag en week, en met inagneming van ‘n wye spektrum luisteraars wat tans na ons luister, en ook die wat ons graag by ons groot familie wil verwelkom in die toekoms.

Baie dankie vir jou passie, betrokkenheid en terugvoer.

https://www.rsgplus.org/vermaak/musiek/jou-musiekkeuses/