RSG se ‘Loof die Here’ word halfeeu oud 


Op Sondag 6 Februarie vier RSG ‘n besonderse mylpaal wanneer die musiekprogram Loof die Here (elke Sondag net na die 08:00-nuusbulletin) vyftig jaar oud is. Dit is ‘n spesiale viering in dieselfde jaar wat die radiostasie 85 jaar (op 27 Oktober) oud word.

Alle volke loof die Here, soos die program met gewyde musiek aanvanklik bekend gestaan het, het op Sondag 6 Februarie 1972 op die Afrikaanse diens gedebuteer. Die aanbieder en samesteller was Fanie Smit.

Daar was ‘n kort onderbreking van 15 maande iewers in hierdie 50 jaar, maar die program is weer hervat danksy luisteraarsdruk en nou nog op lug, met die naam Loof die Here.

Magdaleen vertel meer oor die spesiale programme:

 

Hoe het Alle volke loof die Here die lig gesien?

Destyds was die SAUK se hoofkantoor en ateljees in Commissionerstraat, Johannesburg. Robert Schmidt was die hooforganiseerder van godsdiensprogramme en Fanie Smit was ‘n programmaker.

Fanie het destyds baie rondgereis in die wêreld tydens die maak van programme. Vanweë sy belangstelling in musiek, veral geestelike en gewyde musiek van die groot katedrale, het hy heelwat plate aangekoop met gewyde musiek van verskeie lande.

Terug by die SAUK in Commissionerstraat, gesels Fanie en Robert Schmidt eendag oor programme. En Fanie noem dat hy dink daar ‘n program moet wees met gewyde musiek. Die soort wat in groot kerke en katedrale gehoor word. Robert Schmidt is in sy skik met die gedagte en stel sommer voor dat die program dan Alle volke loof die Here genoem word.

Fanie Smit is in 1972 met 5 plate onder die arm na die ateljee om die eerste program op te neem. Een van die plate was van Rudi Neitz en ‘n ander een van die Stellenbosse Universiteitskoor.

Die eerste program was 20 minute, later is dit verleng na 45 minute en heelwat later na die huidige 50 minute; steeds al die jare Sondagoggende net na die 8-uur nuus.

Die kenwysie

Die kenwysie is reeds sedert dag een J.S. Bach se Kerkkantate BWV 129 Gelobet sei der Herr, mein Gott (Praised be the Lord, my God). Al sal die puris ‘n effense distorsie hoor, is dit die tradisionele kenwysie en daar is besluit om dit al die jare net so te gebruik.

Slegs drie aanbieders

Die afgelope halfeeu was daar slegs drie aanbieders en samestellers:

Wouter de Wet

Magdaleen Kruger

Fanie Smit

Fanie Smit (Februarie 1972  tot Maart 2016);  Wouter de Wet (April 2016 tot Desember 2019) en tans Magdaleen Kruger, voormalige stasiebestuurder van RSG.

Kruger was ook deel van die verandering van die programtitel van Alle volke loof die Here na Loof die Here.

Fanie Smit is op Maart 2016 in die ouderdom van 80 jaar oorlede en Wouter de Wet, wat ook Dis opera aangebied het, is in Maart 2020 in die ouderdom van 79 jaar oorlede.

Die vieringe op 6 en 13 Februarie

Loof die Here se vyftigste verjaardag word vir twee weke lank gevier.

Op Sondag 6 Februarie net na 08:00 kan luisteraars inskakel vir ‘n prograam waarin Kruger onder andere argiefmateriaal uit Smit en De Wet se programme sal insluit.

‘n Week later, op Sondag 13 Februarie, sal luisteraars se heel gewildste snitte van die afgelope vyf dekades gehoor kan word. RSG-luisteraars het reeds hul keuses aangestuur.

 Interessanthede

‘n Goue draad wat regdeur die afgelope vyftig jaar se programme loop, is ‘n “outydse Halleluja-lied of twee” wat altyd vir “durende vrede tussen die samesteller en aanbieder asook die program se aanhangers” gesorg het. Aldus Kruger.

Rudi Neitz

Die ander versoek wat ook nog nie stoom verloor het nie, is vir Rudi Neitz se “Hoe groot is U”.

Highland Cathedral se gewildheid oor die jare bly ‘n raaisel. Dis nie naastenby ‘n geestelike of gewyde kerklied nie, en tog een van dié gewildste versoeke. Die lied is in 1982 spesiaal deur twee Duitse komponiste vir die Highland-spele gekomponeer wat daardie jaar in Duitsland aangebied is. “Ek dink dis die doedelsakke wat die ding doen,” glo Kruger.

Uit luisteraars-terugvoere oor al die jare lyk dit of Loof die Here een van daardie programme is wat van geslag tot geslag geluister word. Dit begin dikwels met kinders wat dit in hul ouerhuis oor die radio gehoor het en later ook hulle kinders daarna laat luister het, en so gaan die siklus aan.

‘n Onlangse tipiese e-pos bevestig dit opnuut: “Ai hoe goed onthou ek Sondae se Loof die Here. Ons gesin het op 1 Januarie 1972 na Albertinia verhuis. Ek, as oudste van 5, was 13. Die radio het `n PM9-battery gebruik, want daar was nie Eskomkrag of n kragopwekker op Lentelus, die plasie se naam, nie! Behoede my as ek Top 20 geluister het en die battery is pap Sondag!!! Pa en Ma en ons 5 het met eerbied om die tafel laat sit en luister soos na ‘n kerkdiens!”

Van die klagtes oor al die jare heen is insiggewend: ‘Daar is te veel kore in die program”, “Daar is te min koormusiek in die program”. “Daar is te veel orrelmusiek”, “daar is hopeloos te min orrelmusiek.” “Die musiek is te gewyd”, “die musiek is te jollie.” En die kersie op die koek van klagtes…”daar is te veel kerkmusiek in Loof die Here, speel meer gewone musiek van sangers soos Kurt Darren.”

‘n Getroue luisteraar

Paul Styger

Paul Styger van Somerset Wes luister al van die heel eerste program af na Loof die Here (voorheen Alle volke loof die Here). Paul is nou 67 jaar oud. Toe Alle volke loof die Here in  Februarie 1972 begin het, was hy in Matriek aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein. Paul sê dit is dus ook vanjaar hulle matrieks se 50-jaar reunie.
Hy het vir Magdaleen Kruger 2 kort stukkies klank gestuur:

Begin van Fanie Smit se laaste program wat hy opgeneem het en wat uitgesaai is op 27 Maart 2016.

Begin van Wouter se eerste program 3 April 2016, na hy by Fanie oorneem.