Skrik wakker: Slaap-apnee beskadig jou hart só


Wat het slaap-apnee en snork met jou hart te doen?
Baie meer as wat jy ooit kon droom.

As jy of jou maat aan snags ophou asemhaal en dan weer skielik na asem snak, MOET jy eenvoudig na dié program luister.

Onbehandelde slaap-apnee met hartprobleme kan jou lewe met 20 jaar verkort.

  • Sowat 1 uit 15 mense lei aan obstruktiewe slaap-apnee.
  • Sowat 50% van mense met slaap-apnee is ogediagnoseerd.
  • Tussen 15% en 50% van mense met Atriale Fibrillasie (‘n hartritme-defek wat tot beroerte kan lei) het slaap-apnee.
  • Daar is meer as een vorm van slaap-apnee naamlik sentrale slaap-apnee tydens hartversaking en obstruktiewe slaap-apnee.
  • Slaap-apnee speel net so groot rol in hartprobleme, skielike hartstilstand en hartversaking/beroerte as onbeheerde glukosevlakke van ongekontrolleeerde diabete en verhoogde LDL-cholesterolvlakke.

Marí Hudson gesels met Dr Razeen Gopal, ’n hartspesialis wat gespesialiseer het in hartritme-defekte. Hy vertel meer oor die jongste feite oor slaap-apnee en hartprobleme en hoe die vurk in die hef steek. Die bevindings van die jongste navorsing kan jou dalk slapelose nagte besorg.

Gesondheid

Die meganisme hoe slaap-apnee jou hart beskadig

Die kaskade van gebeure wat volg as jy aan slaap-apnee ly (en later ‘n lewe van sy eie kry), is as volg:

Van slaap-apnee tot hartskade

Stap 1: As jy snags in jou slaap vir sowat 10 sekondes ophou asemhaal, en dan weer met ‘n snak of groot asemteug begin asemhaal, beteken dit dat die suurstofvlakke in jou bloed daal (bekend as hipoksie) en die koolstofdioksiedvlakke in jou bloed styg (bekend as hiperkarbie)

In sommige gevalle kan jou suurstofvlakke so laag daal dat dit slegs 10% van jou normale suurstofvlakke is.

Stap 1 lei tot Stap 2:

Die lae suurstofvlakke en hoë koolstofdioksied-vlakke in jou bloed veroorsaak ‘n staat van skadelike oksidatiewe stress en inflammasie in jou liggaamselle.

Hierdie oksidatiewe stress en inflammasie in ook die endoteel (voeringlagie) van die koronêre vate wat die hart van bloed voorsien, asook die binnevoeringlagie van die hart, veroorsaak skade aan die binnekant van dié bloedvate en die hart.

Stap 2 lei tot groter risiko vir hartaanvalle

Stap 1 lei ook tot Stap 3:
Terselfdertyd veroorsaak die lae suurstofvlakke en hoë koolstofdioksiedvlakke dat die ribbekas se spiere wat jou help om asem te haal, abnormaal begin beweeg.

Stap 3 lei tot Stap 4:
Die abnormale asemhalingsbewegings lei tot verhoogde druk binne-in die borskas. Dit staan bekend as verhoogde intra-torakale druk.

Stap 4 lei tot stap 5:
Verhoogde druk binne-in die borskas lei tot aktivering van die simpatiese senuweesisteem – dit is jou veg-en-vlug reaksie en gaan gepaard met verhoogde noradrenalien (in die brein) en verhoogde adrenalien (wat deur die byniere afgeskei word), want jou liggaam besef jy is in die nood.

Stap 5 lei tot Stap 6:
Die oor-aktivering van jou veg-en-vlug reaksie lei tot skielike stygings in jou bloeddruk en in jou polsspoed (veral in die stadium wat jy ná asem-ophoud weer begin asemhaal) ventrikulêre hartritme-stoornisse, veral tussen 6 vm en 12 vm. Dit gebeur

Stap 6 lei tot stap 7:
Die verhoogde bloeddruk en binne-borskasdruk lei daartoe dat die hart se regterventrikel harder moet pomp om die bloed in die longe te kry. Dit kan lei to regterhartversaking.

Stap 7 lei tot stap 8:
Meer bloed keer terug na die linker-atria (linker vulkamer).

Stap 8 lei na stap 9:
Meer bloed in die linker vulkamer veroorsaak wat dat nog meer bloed na die linker pompkamer vloei. Die linker pompkamer kan ook rek en vergroot en hulle wande verdik.

Stap 2 en 9 lei tot ook tot stap 10:
Die rekking van die pompkamers beskadig die geleidingsweefsel en veroorsaak ook littekenweefsel in die pompkamers.

Dis ‘n giftige kombinasie vir die hart.

Hart met atriale fibrillasie. Sleutels: SN= SINUS NODE, AVN = ATRIOVENTRIKULêR NODE, BB = BONDELTAKKE

Stap 8 en 9 lei tot stap 11:
Die bloedvloei in die vulkamers vloei nou nie meer in ‘n netjiese stroom nie, maar begin te warrel, weens veral skade aan die geleidingsweefsel in die linker-atrium. Die skade lei ook tot onreelmatige en ongesinchroneerde hartklop, bekend as Atriale Fibrillasie. Tydens AF veroorsaak dié turbulente vloei veroorsaak dat die bloed stadiger aan die buitekant van die turbulensie vloei, en dan begin stolsels vorm. Atriale Fibrillasie is die algemeenste hartritme-defek onder mense ouer as 60 jaar, en een van die oorsake van beroerte.

Stap 11 lei tot stap 12:
Die stolsels kan deur die liggaam gepomp word en in die brein beland (beroerte) of in ledemate of in jou oog.

Stap 12 lei tot stap 13:
‘n Beroerte kan noodlottig wees.

Stap 9 lei ook tot stap 14:
Die risiko vir Skielike hartstilstand, ‘n hartaanval, hartversaking en dood is beslis verhoog.

Diagnose van slaap-apnee

‘n Slaapstudie is nodig waar verskeie dinge soos bloeddruk, suurstofvlakke en veel meer gemeet word. Die asemophoud moet ook minstens 10 sekondes duur.

Die behandeling

As die begenoemde kaskade van gebeure eers aangeskakel is, is dit moeilik om af te skakel en om te keer. Maar dit kan omgekeer word as al die aspekte van die kaskade behandel word.

  • As die slaap-apnee die gevolg is van ‘n anatomiese obstruksie in die neus of keel, moet dit reggestel word.
  • ‘n C-Pap masker is nodig om te verseker dat jou suurstofvlakke nooit te laag daal nie.
  • Jou AF kan behandel word deur ‘n Krioballon-ablasie
  • Gewigsverlies en gereelde oefening is ook kardinaal.

Wie het ‘n verhoogde risiko vir Slaap-apnee en hartprobleme en skielike dood?

  • Mense met hoë bloeddruk en/of diabetes
  • Mense met bestaande hartprobleme
  • Oorgewig mense
  • Mense wat min oefening doen
  • Mense met ‘n dik nek en ‘n groot nek-omtrek.
  • Snork/maklik verstik
  • Slaap maklik in dag weens moegheid