Sondagaande: Só glo ek – die verhaal van godsdiens


Susan Booyens

Op 7 April begin daar ’n nuwe reeks op RSG om sewe-uur op ’n Sondagaand. In die reeks So glo ek – Die verhaal van Godsdiens gaan Susan Booyens ondersoek instel na die ontstaan en ontwikkeling van Godsdienste.

In program een kyk sy saam met prof. Anton van Niekerk, emeritus professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, na die vraag waarom mense sedert die vroegste tye gode en Godsdienste aangehang het, wat die verskil is tussen Godsdiens en geloof en hoe dit oor tyd gegroei en verander het.

Susan Booyens is benewens haar werk as vryskutjoernalis ook die aanbieder van die vrolike paneelvasvrareeks Slimkoppe op VIA en luisteraars sal haar herken van die kykNET-program Wie word ’n miljoenêr, waar sy verlede jaar ’n halfmiljoen rand met haar algemene kennis losgeslaan het. Sy het ook in 2020 die TV-reeks Pelgrims oor Afrikaanse mense se persoonlike geloofsreise vir kykNET aangebied. “Dit is vir my ’n groot voorreg om terug te wees op RSG waar my uitsaailoopbaan begin het en om te kan gesels oor ’n interessante onderwerp soos godsdiens, dis hopelik ’n reeks waaruit ons almal kan leer en ’n tema wat mense nog altyd fassineer.”

So glo ek – Die verhaal van Godsdiens sal onderwerpe insluit soos die ontstaan en geskiedenis van Ou Israel en die wortels van Christendom, Antieke Egiptiese Godsdiens, en die ontwikkeling van die Joodse godsdiens deur die eeue. Daar word ondersoek ingestel na Antieke Oosterse Godsdienste en die ontwikkeling van Islam, Baha’i, en die Rastafariese geloof onder andere. Eko-teologie kom ook onder die loep.

Die reeks neem geen standpunt in vir of teen enige Godsdiens nie, en sal fokus op die geskiedenis en feite oor die ontwikkeling van verskeie geloofsisteme wêreldwyd en vorm deel van RSG se trotse verbintenis tot kennisbouprogramme.