Student se universele gesinsdrama wen skryfkompetisie


Erica Harris

Die 26-jarige Erica Harris, ‘n voltydse meestersgraadstudent van Potchefstroom, het die 25ste jaarlikse RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie gewen met haar eg, menslike en universele gesinsdrama Kinders.

Harris ontvang R50 000 vir haar “volbloed-drama” wat uit bykans 170 inskrywings die botoon gevoer het.

Bella en Natasha se verhouding word onder geweldige druk geplaas wanneer Natasha se eksman skielik sterf. Sy het hom twaalf jaar gelede laas gesien en haar vervreemde, vyftienjarige seun, Tiaan, word haar verantwoordelikheid. Nie een van die karakters in hierdie eg, menslike gesinsdrama is hierop voorberei nie. Die beoordelaars beskryf dit as ‘n soort “slice of life”-verhaal met perfekte karakters, dialoog en intrige wat vanaf die eerste sekonde tot en met die laaste toneel sy luisteraar meesleur.

In 2015 en 2017 het Harris die prys vir Jong Skrywer ontvang en haar vorige radiodramas sluit in Die eksentriekes, Oorlewing: C-blok asook Boeretroos.

Albert Short (47), ‘n rekenaarprogrammeerder wat in Melbourne, Australië, woon en werk, ontvang die tweede prys vir Naand Josef. Sy prysgeld is R25 000.

Twee susters in hul negentigerjare wat alleen in ‘n afgeleë huisie woon, besluit om hul oorlede pa se raad te volg en een aand op ‘n leë wynbottel te blaas. Hul pa het geglo dat indien daar ‘n spook in die huis is, dié blasery hom of haar sal laat verskyn… Die beoordelaars beskryf hierdie makabere riller as “komies, briljant en uitstekend”. Dit is filmies geskryf en roep deur klank sterk, onthutsende beelde op.

Die ontvanger van die derde prys is Cecilia du Toit (69)’n afgetrede opvoedkundige van Centurion. Sy ontvang R15 000 vir Sterstof, ‘n baanbrekersdrama wat die grense van wetenskapsfiksie in Afrikaans gaan verskuif.

Dit is die jaar 2052 en twee mense word na Mars gestuur om daar te gaan woon en kos te verbou. Wanneer hulle egter teen die einde van hul ruimtereis wakker word, besef hulle met ‘n skok dat hulle na ‘n heel ander plek op pad is. Die beoordelaars sê die luisteraars se “tone gaan krul van pure lekkerluister” en loof die futuristiese drama met ‘n “bravo”.

Die 22-jarige Adriaan Havenga, ‘n vryskut-kunstenaar van Bloubergstrand, ontvang die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) vir Die dood van Bititi asook prysgeld van R10 000. Havenga het verlede jaar dieselfde prys ontvang vir sy radiodrama Hulle noem hom Mamba.

Die aankoms van ‘n leeu op ‘n gesogte wildplaas bring verbrokkelde familiebande na die oppervlak in ‘n knetterende tragedie propvol kragtige en later skokkende wendings. Die beoordelaars beskryf dit as ‘n “bevredigende vyfgang-maaltyd”.

Die merieteprys, ter waarde van R10 000, is toegeken aan Madeleen Welman, ‘n afgetrede joernalis en bemarker van Kleinemonde in die  Oos-Kaap, vir haar debuut-radiodrama Die vuurvliegdief. Dit is ‘n uitstekende drama en verhaal van hoop oor ‘n bejaarde vrou met Parkinson se siekte wat in ‘n hysbak vasgekeer word.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar uit twee afsonderlike rondes van beoordeling bestaan en altesame agttien finaliste is aangewys. Die finaliste kon meesterklasse bywoon, is met RSG Sanlam geskenkpakke bederf en het mentorskap ontvang voordat die tekste in die eindronde weer eens anoniem beoordeel is.

Die totale prysgeld was R115 000 en die wendramas sal van April 2022 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2022 gehoor word.

Volgens Kobus Burger, RSG se senior regisseur mandaat, was die beoordelaars dit vanjaar eens dat die inskrywings van ‘n besonder hoë standaard was. “Dat ‘n skrywer soos Erica Harris die algehele wenner is, bewys dan ook dat RSG en Sanlam se langtermyn-belegging in skrywers en hul loopbane vrugte afwerp. Soos die spreekwoord lui: aanhouer wen!

“Beide bekende name asook nuwelinge met debuutwerke het uitgeblink. En die verskeidenheid in tematiek en die verkenning van soveel verskillende genres bewys dat radiodrama – nou, meer as ooit – van krag tot krag gaan.”

Mariska Oosthuizen, Hoof van Handelsmerk by Sanlam, sê dat die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie, wat hul reeds van sy ontstaan die ontstaan borg, na aan die Sanlam-groep se hart lê.                                                                        
“Hierdie kompetisie is gelynrig met ons doelwit by Sanlam: om Suid Afrikaners te inspireer om met selfvertroue te leef. “Vanjaar se toename in inskrywings wys net hoeveel Suid-Afrikaners van skryf hou en met hul kreatiwiteit gewoeker het tydens hierdie ongekende jaar vol uitdagings. Hulle beplan versigtig aan hul karakters en storielyn om ‘n suksesvolle eindproduk te lewer. Soos ons met waardevolle finansiële raad en daad ons kliente bystaan, bied hierdie skrywers vir Afrikaanssprekende luisteraars die voordeel van uitmuntende Afrikaanse literatuur en die lekkerte om eg Afrikaanse stories te geniet. Dit spreek beslis ook tot Sanlam as n Pan-Afrikaanse handelsmerk wat almal steun om hul eie kultuur te omarm en te vier.”

Meer oor die wenners en die wendramas

MERIETEPRYS – Die vuurvliegdief deur Madeleen Welman

Madeleen Welman

Prysgeld – R10 000

‘n Uitstekende drama en verhaal van hoop oor ‘n bejaarde vrou met Parkinson se siekte wat in ‘n hysbak vasgekeer word. Die dialoog is briljant en die stuk verken temas soos verdraagsaamheid, ouderdom, medemenslikheid en selfs politieke skeidslyne. Die beeldryke storie bevat tonele wat die luisteraar lank sal bybly.

Madeleen Welman is ‘n 68-jarige afgetrede joernalis en bemarker wat in ‘n klein dorpie aan die Oos-Kaapse kus afgetree het. Die vuurvliegdief is haar debuut-radiodrama en geskoei op die keer toe haar tagtigjarige ma in ‘n hysbak vasgekeer was – iets wat by haar ma tot ‘n fobie ontwikkel het. Sy reis graag en sy hoop om – as die pandemie dit toelaat – met haar prysgeld weer haar vlerke te sprei.

JONG SKRYWER (jonger as 30 jaar) – Die dood van Bititi deur Adriaan Havenga

Adriaan Havenga

Prysgeld – R15 000

Die aankoms van ‘n leeu op ‘n gesogte wildplaas bring die verbrokkelde familiebande na die oppervlak in ‘n boeiende tragedie propvol kragtige en later skokkende wendings. Die beoordelaars het dit beskryf as ‘n “hoogs bevredigende vyfgang-maaltyd”.

Adriaan Havenga is ‘n 22-jarige vryskut-kunstenaar, akteur, skrywer, amateur-regisseur en vertaler wat tans in Bloubergstrand buite Kaapstad woon. Hy het al verskeie toneelstukke geskryf, maar debuteer op RSG met die radiodrama Hulle noem hom Mamba wat verlede jaar met die prys vir Jong Skrywer bekroon is. Hy sê hy gaan sy prysgeld belê.

DERDE PLEK – Sterstof deur Cecilia du Toit

Prysgeld – R15 000

Hier is nou ‘n baanbrekersdrama wat die grense van wetenskapsfiksie gaan verskuif. Dit is die 2052 en twee mense word na Mars gestuur om daar kos te verbou. Wanneer hulle egter tydens die sending wakker word, kom hulle met ‘n skok agter dat hulle na ‘n heel ander plek op pad is. Die beoordelaars sê dit sal die luisteraars se “tone laat krul van pure lekkerluister” en het dit met ‘n “bravo” geprys.

Cecilia du Toit is ‘n 69-jarige, afgetrede opvoedkundige van Centurion en het al vier keer aan die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie deelgeneem asook die slypskool bygewoon. Haar meer onlangse radiodramas wat op RSG uitgesaai is, sluit in Die sneeuman en Klippekloof. Met haar prysgeld wil sy ‘n paar gate toestop en dalk ook vir rekenaarklasse gaan om MS Word se Makro onder die knie te kry.

TWEEDE PLEK – Naand Josef deur Albert Short

Albert Short

Prysgeld – R25 000

Twee susters van in hul negentigerjare wat alleen in ‘n afgeleë huisie woon, besluit om hul pa se raad te volg en een aand op ‘n wynbottel te blaas. Hul pa het geglo dat as daar ‘n spook in die huis is, dié sy verskyning dan sal maak… Die beoordelaars beskryf hierdie makabere riller as “komies, briljant, uitstekend en ‘n waardige wenner”. Dit is filmies geskryf en roep deur klank sterk, dog onthutsende beelde op.

Albert Short is ‘n 47-jarige rekenaarprogrammeerder wat sedert 2019 in Melbourne, Australië, woon en werk. Hy was al medewenner van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie met ‘n Voorlopige begrafnis en later volg ook Ontydige tydings en Spooktrein. Hy het al ses keer aan die kompetisie deelgeneem, asook die slypskool bygewoon. Met sy prysgeld wil hy sy tuisstad verder verken.

ALGEHELE WENNER – Kinders deur Erica Harris

Prysgeld – R50 000

Bella en Natasha se verhouding word onder geweldige druk geplaas wanneer Natasha se eksman skielik sterf. Sy het hom twaalf jaar laas gesien en haar vervreemde vyftienjarige seun, Tiaan, word haar verantwoordelikheid. Nie een van die karakters in hierdie eg, menslike gesinsdrama is hierop voorberei nie. Die beoordelaars beskryf dit as modern, realisties en radiomatig en ‘n soort “slice of life”-verhaal deur ‘n skrywer wat perfekte en sterk karakters, dialoog en intrige skep. ‘n Volbloed-drama wat vanaf die eerste paar sekondes tot en met die laaste toneel boei.

Erica Harris is ‘n 26-jarige voltydse meestersgraadstudent in mediastudies aan die Universiteit van die Noordwes in Potchefstroom. Sy het al ses keer aan die kompetisie deelgeneem, die slypskool bygewoon en in 2015 en 2017 die prys vir Jong Skrywer ontvang. Haar vorige radiodramas wat uitgesaai is, is Die eksentriekes, Oorlewing: C-blok en Boeretroos. Oorlewing: C-blok is deur Deon Opperman as ‘n TV-rolprent verwerk. Sy sê sy gaan die helfte van haar prysgeld spaar en die res op skoene, ‘n tatoeërmerk en “highlighters” blaas.