Sue Pyler Slabbert: Die bondel energie borrel agter ‘n mikrofoon


Sue Pyler-Slabbert, mede-aanbieder van Op en Wakker (weeksdae tussen 07:00 en 09:00 op RSG), is nie net ‘n veelsydige aktrise, onderhoudvoerder en omroeper nie. Sy is ook deesdae by oorklanking betrokke en begin haar dag met vier verskillende wekkers wat afgaan. Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het met haar gesels.

Wanneer het die radiogogga jou gebyt?

Ek het nooit geweet dat die stemme wat vanuit die luidspreker kom ‘n persoon se werk is nie. Iets waarvoor jy betaal word. So om stil te bly en voor die radio te sit, was my straf as kind en ek wil sê dis waar die gogga gebyt het.

Ek het direk na skool by ons plaaslike radiostasie aangeklop om bloot koerantopskrifte te lees soveel so dat ek later hoor ek is die mede-aanbieder van die ontbytprogram. Geen betaling, maar ek het elke oggend opgedaag vir werk en as dit nie sê dat jy lief is vir wat jy doen nie, dan weet ek nie.

Jy is ook ’n aktrise en was onder andere die karakter Vytjie in RSG se middag-vervolgverhaal, Die spoke van Duinebult deur Ronel Mostert. Hoe verskil jou werk as aktrise van dié as omroeper?

In die ateljee is wanneer ek middagvervolgverhaal opneem. Hier is sy saam met Jonny Klein.

Omroeper-wees en aktrise-wees is twee verskillende beroepe. Hier waar ons werk as omroepers moet jy sélf inhoud kry vir jou program, voorberei vir onderhoude, adminwerk afhandel, programme verpak en elke dag opdaag by die ateljee vir uitsending.

Jy moet tegnies ook sterk wees, want jy moet self die bank kan dryf (knoppies druk), jy is in beheer van die mikrofoon en jou teks of dit wat jy graag wil sê.

Aktrise-wees laat jou toe om ‘n karakter te skep met jou stem. Jy ontvang ‘n teks met dialoog, jy speel teenoor ander akteurs en jou doel is om ‘n storie uit te beeld met jou stem. Opnames van vyf episodes geskied op een dag, so dit wat ‘n luisteraar hoor van Maandag tot Vrydag is wat binne een dag gedoen is.

Wat was jou lekkerste radio-onderhoud tot nog toe en hoekom?

Sue saam met die sanggroep All-4-One.

Dis altyd moeilik om so vraag te beantwoord, maar ek gaan twee uitsonder. Die internasionale sanggroep All-4-One. Ek het grootgeword met hulle musiek, luister dit nou nog en hulle het Suid-Afrika al meer as een keer besoek en die feit dat hulle my onthou na daardie onderhoud waar hulle vir my gesing het… Wow!

Sue en Leanne Manas van Morning Live.

Plaaslik is dit Leanne Manas (Morning Live se anker). Sy is net… merkwaardig. Dit was vir Vrouemaand en sy het in die ateljee gesit en dit was asof ek nie ‘n woord kon uitkry nie tog het ek aan haar lippe gehang met elke antwoord.

Hoe hanteer jy kritiek?

Kritiek kom en kritiek gaan. Dis presies hoe ek dit hanteer. Ek kan nie toelaat dat dit my affekteer nie. Daar is te veel ander dinge waarmee ek moet voortgaan, so ek kan nie al my energie spandeer aan kritiek nie, tensy dit opbouend is.

Wat is vir jou die heerlikste bederf?

Slaap. Slaap is vir my die heerlikste bederf, want dan kan my brein afskakel. ‘n Ander groot bederf is om net langpad te ry met my honde en my man, Franco.

Hoe begin jy jou dag?

Miss Vicky wat altyd in haar man se arms lê.

Ek begin my dag met vier verskillende wekkers wat afgaan. ‘n Baklei met my Miss Vicky (haar hondjie) oor wie in Franco se arms lê.

My selfoon en skootrekenaar nie te ver nie en ‘n warm stort.

As die lewe te veel raak in die stad, wat is vir jou die beste wegbreek of manier om ’n blaaskans te vat?

Sue en Franco op ‘n idilliese eiland.

Om see toe te gaan. Leentjiesklip in Wildernis is my wegkruipplek. Ek sit vir ure op die rotse en staar net na die diep see.

Jy en jou eggenoot het albei druk skedules. Wat doen julle graag saam om gehalte-tyd te geniet?

Ek en my Man, Franco.

Ons steek kerse aan en sit aan tafel en vra: “Hoe gaan dit met jou hart?” Ons geniet die langpad met goeie musiek en om saam Spa toe te gaan.

Wie of wat is jou anker?

My Man, 100%.

Sue op die stel besig om ‘n vervolgverhaal op te neem.

Sue saam met die sanggroep All-4-One.

Sue besig met die onderhoud met die internasionale sanggroep All4One vir Op en Wakker.