Willem Pelser se 600e ‘U eie Keuse’


Willem Pelser

“Ek ontvang ongeveer 50 tot 150 versoeke per week. En elke week kan ek net tien tot dertien kies om ingesluit te word.”

So gesels Willem Pelser, aanbieder van ‘U Eie Keuse’ oor die oudste program op Suid-Afrikaanse radio. Vir die program van 4 September 2021, het hy vir die 600ste keer so gemaak!

“In April 2010 het ek by Wouter de Wet oorgeneem en meer as tien jaar later is dit steeds ‘n plesier en voorreg om elke Saterdagaand saam met die getroue aanhangers van ‘U Eie Keuse’ te kuier.”

Alhoewel 600 aflewerings ‘n merkwaardige mylpaal is, is Willem vinning om ons te herinner dat hy nog baie vêr van die rekord is.

“Dit behoort aan Frikkie Oosthuizen wat die program van 1963 tot 1991 aangebied het. ‘n Volle 28 jaar!”

Die Jooste broers

Die heel eerste aflewering van ‘U Eie Keuse’ was op Saterdag 20 Oktober 1945. Kosie Jooste was die aanbieder. Dit was sy jongste broer, Willie – toe slegs 17 jaar oud – se voorstel dat die “Baltoneel” van Joseph Hellmesberger as temalied gebruik moet word. Byna 76 jaar later en die tradisie word nog al die pad voortgesit.

Sederdien het baie verskillende aanbieders die gewilde musiekversoekprogram onder hande gehad – Andre Brink, Pieter de Bruyn, Vincent Hesse, Daniel Kirstein, Henk Bierman en latere jare aanbieders soos Retief Uys, Robert Young, Wouter de Wet en Mariëtta Kruger.

Vele CD’s het ook al uit die program gespruit waarvan “65 Jaar van U Eie Keuse” selfs goue status behaal het – uiters ongewoon vir ‘n klassiekemusiek-CD in Suid-Afrika.

“As die bestuur en luisteraars dit sou wou, sal ek graag die program vir nog baie jare wil aanbied”, sê Willem. “Dit is ‘n sielsverrykende ervaring en ek het al so baie geleer!”

So skakel in vir ‘U Eie Keuse’ Saterdagaande om 8-uur.