Vanaand: ‘Taco Kamstra – Op sy eie werf’


Taco Kamstra

Luister vanaand na ‘n dokumentêr oor Taco Kamstra en sy 27 veteraanmotors, deur Kobus Rudolph.

Agtergrond-inligting

Baie speel en hope pret met die opname van dié radioprogram Taco Kamstra – Op sy eie werf!  Ek het ook gewonder of mens nie die titel dalk moes maak Taco Kamstra – Moderne, rewolusionêre industrialis of Een-en-twintigste eeu se industriële, rewolusionêr!

BMW Eseta 1957

As daar nou ‘n man is wat hou van speel en baie hard speel en werk, is dit Taco Tjeerd Kamstra van Pretoria.

Ford GT40 Replika

Sewe-en-twintig veteraanmotors waarvan die oudste ‘n 1910 High Wheeler (Elektriese Perdekoets) is.  V 8’s, brullende enjins, Pontiacs, V 8 5.7 liter Ford Cobra, die beroemde Ford GT 40 van 1966 se sukses met die Le Mans 24 uur-uithouwedren wat in sy sitkamer pryk, die pragtige lyne van die 1933 Chevrolet Straight 6 en die 1976 Cadillac Eldorado Afslaankap – met sy pretttige maar dors 8.3 liter, monster van ‘n enjin.  Ernie Jacobson, oud-burgemeester van Pretoria en self ‘n versamelaar en motorrestoureerder vertel met ywer van Taco se groen, groot en gewilde Cadillac en hoe die mense die motor begeer.

High Wheeler

Die “petrol heads” en liefhebbers van voertuie sal die kleur en klank in die program baie geniet. Ander luisteraars sal die spesiaal-opgeneemde musiek, vertellings en byklanke netso interessant vind.

Chevrolter Fleetmaster 1948

Sy “huis/werkswinkel/vertoonkamer/museum/orrelkapel/voertuiguitstalling” is in Eben Swemmer straat, Gezina, Pretoria.  Dié Nederlandse Suid-Afrikaner hou van versamel en dinge herstel – maar soos hy sê hy doen dit altyd in die oortreffende trap.  Hulle gesin van 11 kinders verhuis van Friesland na Suid-Afrika. Hy het as tiener kaskarre begin bou.  Toe wil al wat leef en beef kaskarre by hom koop! Almal het ook geweet, as jy wiele in jou besit het, sal Taco dit by jou koop.  Teen Wonderboom in Pretoria se bult af het ‘n man met ‘n motor langs hom gery en gesê hy klok nou 70 km/uur met sy kaskar – sonder remme.

Chevrolet 1933

Nou woon Taco op sy eie werf – met ‘n kerktoring en kerkklok, wat uittroon bo sy vliegtuig in sy voorplaas! ‘n Model T-Ford 1919 wat nog met ‘n slinger aangedraai word en vele ander voertuie, begroet die mense wat verby sy huis/museum ry of besoek aflê.  Taco moes leer om die Miniatuur Sentinel stoomenjin te stook en te dryf – en in die proses het hy sy broer se woonwa beskadig.

Model A Ford 1929

Die musiek van ‘n vrolike “Westerse Cowboy” kroeg begroet jou as jy in die woonkamer stap, met Taco wat sy Steck Pianola Duo Art trap. Die honky-tonk klanke kom uit die eeue-oue1927 musiekrolle met liedere soos “Hawaiian Hearts” en “Rain”. ‘n Handgemaakte ghong uit Nepal en nog ander klokke is musiek in sy ore!

Model A Ford 1929

Indien jy dalk ‘n hele paar jaar gelede op Bethal groot geword het, mag jy dalk verras wees om die NG Kerk Bethal se orrel in Taco se huis te sien.  Hy het hierdie kerkpyporrel onlangs aangeskaf en deur Jan Zielman – orrelbouer en orrelpypmaker laat installeer.  Adrien Lubbe – pianis, orrelis en musiekonderwyseres van New Castle het die 200 pyporrel en pianola vir ons kom speel en haar indrukke gegee.

Citroen

Prof. Alex Duffy – voorheen hoof van die departement Kunsgeskiedenis aan Tukkies, het vir die orrelkapel, twee vensters kom brandskilder met pragtige Bybelse motiewe.  Hy is ook ‘n vername motorrestoureerder en versamelaar van veral Buick veteraanmotors.

Sedert RSG se opnames so paar weke gelede by Taco Kamstra, is hy besig om ‘n “para glider” se enjin en groot skroef te omskep in ‘n karretjie wat deur die skroef aangedryf word.  Hy poog om ook 70 km/uur met die “para-prop” karretjie wat ‘n Messerschmitt neus gaan kry, te probeer ry!

Camaron 1995

Cadillac Eldorado V8 8.3 liter Convertable 1976

Model T Ford 1919

High wheeler elektriese motor

Brandglas geskilder by sy orrel

https://www.facebook.com/taco.kamstra

Van dagga, geweld, arktiese ys, Maties rugby en Laurika Rauch in nuwe dokumentêre reeks