Verwag woema op 5 Junie by Royal Show konsert met RSG op Pietermaritzburg


Verwag ‘n heerlike konsert vanjaar by die Royal Show.

Een van RSG se musiek hoogtepunte is die jaarlikse RSG en Royal Show konsert.

Ons is al meer as ‘n dekade deel van die jaarlikse byeenkoms en al die groot name was al op ons verhoog, van Robbie Wessels, Refentse, Steve Hofmeyr, Lianie May, Snotkop, Anton Goosen, Sonja Herholdt, Saarkie, Brendan Peyper, Emo Adams, en so kan ek aangaan. Dis regtig die room van Afrikaanse musiek wat op Pietermaritzburg toesak en bewonderaars ‘n hele middag vermaak.

Die tussen 3000 en 7000 besoekers by die konsert kom van tot so vêr as Johannesburg, Newcastle, KZN Midlands, Port Shepstone, Margate, Ballito, Durban en elke uithoek waar daar Afrikaanse vermaak gesoek word. Covid het die afgelope twee jaar ‘n wiel in die speek gesteek maar die jaar gaan ons met ekstra woema die konsert aanbied.

Sondagmiddag 5 Junie 2022 is Elvis Blue, Demi Lee Moore, Pietman Geldenhuys (aka Peter Mitchell) en Die Coffee Snobs op die RSG verhoog. Gewoonlik skop ons so 2uur af en as die gejuig en terugroep goed is kan ons aangaan tot na donker. Dis op die laaste dag van die skou en het nou al ‘n instelling geword in KZN, so ons partytjie tot baie laat.

Meeste van die gehoor maak dit ‘n dagbesoek. Jy betaal net jou toegangskaartjie tot die skougronde, loop die hele oggend rond en besoek elke saal en stalletjie en kry dan koers na die groot hoof-arena. En teen die tyd wat jou komberse en kussings en eetgoed uitgepak is, is die eerste kunstenaar op die verhoog om 2-uur.

Ek (Derrich Gardner) is al van die eerste konsert die gasheer/seremoniemeester en dis wonderlik om van ons luisteraars beter te leer ken so aan die kant van die enorme verhoog. En alhoewel jy orals Afrikaans hoor is daar groot Engelse ondersteuning want RSG word wyd geluister en almal kom vir goeie musiek. Daar is ook altyd foto-geleenthede saam met die kunstenaars.  My tasse is gepak vir die RSG en Royal Show konsert 2022!.