Vet pryse vir verbeeldingryke radiodramas


“Radiodrama bly maar nog die beste roete om ‘n storie van jou toetsbord na die luisteraar se verbeelding te kry.” Só sê die bekroonde radiodramaturg Lee Doubell, voormalige wenner van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie.

Dié kompetisie is vanjaar 26 jaar oud en bied weer eens aan skrywers die geleentheid om klankdrama te omarm. Buiten ‘n handleiding en skryfwenke, sal skrywers ook mentorskap ontvang.

Die prysgeld is vanjaar R115 000.  Die algehele wenner ontvang R50 000, die naaswenner R25 000 en die drama wat die derde plek beklee kry R15 000.  Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang.  ‘n Bykomende merieteprys van R10 000 word toegeken aan ‘n drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die vier topposisies kwalifiseer nie.

Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2023 op RSG uitgesaai.

“Daar is niks so lekker as om voor die radio te gaan sit en die minute af te tel totdat jou drama uitgesaai word nie,” sê Albert Short, ook ‘n voormalige wenner. “En om dit dan oor en oor te luister in die jare wat voorlê.”

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Maandag 1 Augustus 2022.  Inskrywings kan per e-pos gestuur word na radiodrama@rsg.co.za.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie. Inskrywings  moet nuwe en oorspronklike radiodramas wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.  Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.  Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.  ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ‘n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag aan hulle skryftalent wil skaaf.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en twintig tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan daarna hulle tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Volgens Kobus Burger, RSG se Senior Regisseur: Mandaat, het die koms van potgooie en aanlyn-klankdramas die goue era van radiodrama ingelui. “Soveel uitsaaiers besef die waarde van radiodrama en die bedryf groei jaarliks met nuwe stemme en skeppers. Dit is daarom bemoedigend dat Sanlam aanhou belê in Afrikaanse skrywers en die meesleurende medium van radiodrama.

“Die 2021-wenners wat tans op Donderdagaande om 20:00 op RSG uitgesaai word, is ‘n bewys van hoe die medium en skrywers die grense van radiodrama verskuif. En die oorweldigend positiewe terugvoer van luisteraars bevestig die gewildheid van klankstories. Ons sien uit na ‘n nuwe gerf radiodramas en stemme.”

Besoek RSG se webblad by rsg.co.za vir besonderhede oor die kompetisie, en om die kompetisie se handleiding af te laai.