Vrystater wen Kwartkomedie prys met veearts-komedie 


Ilné Fourie saam met “Hendrik die Hamster” – een van die karakters in haar kwartkomedie waarmee sy die eerste prys gewen het.

Die Bloemfonteinse aktrise, skrywer en regisseur Ilné Fourie het die eerste prys gewen in RSG en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) se Kwartkomedie-skryfkompetisie met haar lekkerlag-radiodrama, Hendrik se histerektomie

Die Kwartkomedie-kompetisie is verlede jaar vir die eerste keer aangebied vir kort radiodrams van sowat ‘n kwartier lank. Tekste moes tussen 12 en 13 bladsye lank wees. 

 Fourie wen R20 000 met haar stuk wat in die spreekkamer van ‘n veeartspraktyk, Woef Kardoes, afspeel met ‘n nuwe ontvangsdame wat nie kop of stert kan uitmaak van alles wat rondom haar gebeur nie. 

 Volgens Fourie moes sy haar kat veearts toe vat en dis toe wat die idee van haar komiese klankdrama oor onder andere ‘n hamster genaamd Hendrik met agt babatjies gebore is. 

 Fourie is buiten haar verhoogwerk bekend om die radiodramas Halleluja, Amen asook Sjarrap en eet jou kos. Green Room, wat verlede jaar met Cobus Rossouw en Antoinette Kellerman in die rolle uitgesaai is, was ‘n finalis in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie. 

Meer oor die wendrama Hendrik se histerektomie deur Ilné Fourie

Dr. Marais is ’n veearts op ’n klein dorpie wat ’n tydelike ontvangsdame/sekretaresse, Marietjie, in diens geneem het. Haar eerste dag verloopminder geslaagd om die minste te sê. Koos se hond, Buffel, het sy nuwe bakke se sleutels ingesluk en Dorette se hamster het oornag 8 kleintjies gekry. Dit, terwyl dr. Marais ’n besige dag in die teater het en nie kans het om aandag aan enige diere, behalwe noodgevalle, te gee nie. Marietjie gebruik haar inisiatief, maar slaag slegs daarin om die veearts, Koos én Dorette lelik om te krap! Prettig met al die elemente van goeie komedie.

 Tweede prys

Melt Sieberhagen

Die tweede prys is opgeraap deur die komediant, akteur, regisseur en stemkunstenaar Melt Sieberhagen met Die rare Jacobs. Hy ontvang R10 000 vir sy komedie oor ‘n jong paartjie wat by die verkeerde huis opdaag. Die gasheer reken dan die jong man op sy stoep is sy nuwe baas… 

Meer oor die drama Die rare Jacobs deur Melt Sieberhagen

 ’n Pragtige voorbeeld van verwarde identiteit. Herman is ’n onvergenoegde, middeljarige sakeman wat ná meer as drie dekades nie die bevordering kry wat hy meen hom toekom nie. Iemand van die straat af, ’n meneer Jacobs, word as sy bestuurder aangestel. Wat Herman nog erger laat voel, is dat hy bloot ’n e-pos gestuur het om die man geluk te wens met sy aanstelling. Intussen is die veel jonger Donovan en Bianca Jacobs op pad terug huis toe ná ’n misverstand met ’n gatsby-aand by vriende, waar Donovan dog dis ’n viering van die Gatsby-karakter met kleredrag van daardie era. Bianca is té verneder en dring aan om huis toe te gaan. Maar hulle verdwaal en toe hulle by ’n huis stilhou om hulp te vra, is dit juis by Herman en Heleen se huis wat die nuwe bestuurder enige oomblik verwag… Die komedie met sy slim woordspelings bou op tot ‘n sterk klimaks.

 Byna 160 inskrywings

Uit die bykans 160 inskrywings is daar in die eerste ronde van beoordeling ‘n totaal van 21 finalistekste aangewys wat toe deur ‘n nuwe paneel beoordelaars gelees is. 

Merietepryse

 Buiten die twee wentekste is daar ook twee merietepryse toegeken aan Benjamin Kock vir Eerbare intensies en Niel Steenkamp vir Kamma spesiale vriende

 Kock is ‘n predikant en filosofie-dosent van Mthatha. Hy is getroud met die skrywer Zenobia Kock. Eerbare intensies handel oor ‘n getroude paar wat na Italië reis om die  man met wie hul dogter aanlyn gesels het, te gaan ontmoet. Hulle wil net die “regte” man vir haar kies, maar in ‘n gesprek blyk dit daar veel meer aan die gang is, wat sorg vir talle komiese kinkels. 

 Steenkamp woon in Sandbaai naby Hermanus en het al twintig keer aan die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie deelgeneem. Hy was al vyf keer ‘n finalis en het die tweede prys in 2005 gewen. Sy Kamma spesiale vriende handel oor ‘n man en vrou wat mekaar in die supermark ontmoet en besluit om hul eensame, bejaarde ouers aan mekaar voor te stel. Dit is ‘n romantiese komedie propvol misverstande. 

Meer oor dramas wat die MERIETEPRYSE verower het

Eerbare intensies deur Benjamin Kock
Katrien is ’n 27-jarige aktuaris wat baie bekommerd is oor haar ouers, Basie en Ella, twee sout-van-die-aarde plaasmense wat na Italië gereis het, maar toe skielik verdwyn het. Uiteindelik spoor Katrien hulle per telefoon op waar hulle baie opgewonde vir haar vertel hoe heerlik hulle kuier by Lorenzo se ouers, Luigi en Sofia in Palermo, Sicilië. Lorenzo was ’n jong man wat Katrien op die internet ontmoet het wat baie graag by haar in Suid-Afrika wou kom kuier. Basie en Ella het toe heimlik besluit om dié jong man én sy ouers te gaan ontmoet om seker te maak hulle is goeie mense. Hulle is só ingenome met die Italianers, dat hulle sommer al begin reëlings tref vir die troue! Maar hoe meer opgewonde Basie en Ella raak, hoe meer bekommerd raak Katrien, omdat sý besef dat die weelde en die rykdom waarin Luigi en sy familie leef, spruit uit Luigi se bande met die Mafia! ‘n Heerlike teks met kostelike en komiese momente wat die luisteraar hardop sal laat lag.

Kamma spesiale vriende deur Niel Steenkamp
Frans en Anita loop mekaar in ’n supermark raak, begin gesels en kom tot die gevolgtrekking dat Frans se weduwee-ma, Susan Uys, en Anita se wewenaar-pa, Blackie Swart, albei die behoefte het om weer iemand spesiaal te ontmoet, maar hulle erken ook dat hulle ouers baie hardkoppig is en nie ’n ontmoeting met iemand ter wille sou wees nie. Só spreek Frans en Anita toe af om te maak asof hulle op mekaar verlief geraak het, om op dié manier hulle ouers aan mekaar voorgestel te kry. Min weet hulle dat hulle ouers mekaar op skool reeds geken het, maar toe kontak verloor het. En in die proses van maak asof, raak Frans en Anita toe régtig verlief op mekaar. ‘n Lekker-speel teks met vinnige en goeie radiomatige dialoog.

Laat daar lag wees

 “Met die slagspreuk ‘laat daar lag wees’, het die eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie ongekende belangstelling gelok,” sê Kobus Burger, RSG se senior regisseur mandaat. “Danksy NATi se borgskap kan luisteraars solank begin uitsien na vier kort, maar kragtige lekkerlag-komedies.” 

 “Laat daar lag wees, inderdaad,” sê Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi.  Wat ’n wonderlike skatkis van komiese tekste het RSG met die kompetisie bymekaar gemaak.  Baie geluk aan die wenners wat deur ’n paneel van kenners aangewys is.  Ons kan nie wag om hierdie komedies op die lug te hoor nie – ons weet luisteraars gaan dit verskriklik geniet.  Weer eens geluk aan RSG met die fantastiese inisiatief.” 

 Die vier wendramas sal in RSG se eerste Radioteater-seisoen van 2022 – van April tot Junie – geskeduleer en uitgesaai word. 

RSG en NATi wil land laat lag