“Wat klap dasoe oppi Kaapse Vlakte”


“Wat klap dasoe oppi Kaapse Vlakte”

14-28 September 2023

Bendegeweld, skote wat klap en sosiale onrus. Dit is hoe die Kaapse Vlakte beskryf sou kon word. Trouens, die woord “klap” in die titel verwys na die skote wat klap, maar ook na die gebeure op die Vlaktes.

In die dokumentêre reeks: “Wat klap dasoe oppi Kaapse Vlakte,” wat op drie agtereenvolgende Donderdagaande, 14, 21 en 28 September, uitgesaai word, word dié omstandighede ondersoek.

 

Die onderhoude wat in verskeie dele van die Vlakte met bendelede, dwelmverslaafdes, gebroke ouers, onderwysers, sosiale werkers, predikante en polisielede gevoer is, beskryf die hartseer van mense wat op een of ander manier met die Kaapse Vlakte geassosieër word.

Bendegeweld, diefstal, moord, die probleem van die afwesige vader, asook die stryd wat kerke, skole en die polisie het om die voortslepende kanker van onrus en onstabiliteit in die gebiede teen te werk, word dikwels hartverskeurend oorgedra. Dit gryp jou veral aan die hart wanneer dit soos ’n goue draad deur die gesprekke loop dat jong kinders so oud soos 8 jaar met dwelms en die bendes deurmekaar raak.

In die drie aflewerings van die reeks, word stilgestaan by die huidige situasie op die Kaapse Vlakte, watter invloed die omstandighede op veral gesinne het, en watter moontlike oplossings daar is.

Dié dokumentêre reeks is vervaardig deur Flip Loots in samewerking met mense wat ten nouste betrokke is by die gebeure op die Kaapse Vlakte … en veral die mense wat daar woon.