Welkom by RSG, Elsje


Elsje van Jaarsveld, RSG se nuwe Senior Vervaardiger Kontinuïteit, het in Oktober by ons aangesluit.

Elsje was voorheen verbonde aan Pretoria FM.

Elsje van Jaarsveld

Elsje het in die plattelandse dorp, Brits, sowat 60 km van Pretoria af grootgeword. Hier kon sy baie tyd buite bestee en aan elke denkbare aktiwiteit op skool deelneem. Na skool het sy  kommunikasiestudies in haar visier gehad, maar sy wou eers ʼn haarkapperykwalifikasie agter haar naam kry. Dié kuns beoefen sy steeds as stokperdjie en sorg dat die familie altyd skaflik lyk.

Tydens haar studentejare as kommunikasiestudent aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroom is haar voorliefde vir uitsaaiwese ontgin. Sy het nooit ʼn geleentheid om ʼn radio- of televisieklas by te woon laat verbygaan nie. Na afloop van haar studies was die uitsaaigeleenthede skaars en was sy ʼn geruime tyd in die korporatiewe wêreld as kommunikasiebestuurder. Hier het sy te doen gekry met projekbestuur, begrotings, spanwerk en vergaderings.

In 2014 slaag sy ʼn stemtoets by Pretoria FM en word aanbieder van ʼn gesels- en kontinuïteitsprogram wat sy vir sewe jaar aanbied. Gedurende hierdie tyd is sy ook by televisie betrokke as gasaanbieder van Landbouweekliks op VIA TV en nuusskrywer van eNuus vir Kyknet. In 2021 doseer sy ook joernalistiek aan Akademia.

Elsje is ʼn ywerige avonturier wat hou van reis en die buitelewe.

Sy is baie opgewonde oor haar nuwe reis by RSG en sien veral daarna uit om deel te wees van programbeplanning en skakeling met die luisteraars en kollegas by RSG.