Luister weer na Spooktrein


Een maal per jaar hou hy stil met dik rookwolke wat stoom.. die spooktrein. Twee spookjagters, ook dolverlief, besluit om die trein daardie aand op ’n syspoor op Bronkhortspruit in te wag…. want hy kom net op daardie spesifieke aand. Dan hou die trein stil…. en die deur gaan oop…  maar wat hierna gebeur, kon die twee verliefdes nie in hul wildste drome verwag nie… Spooktrein, deur die bekende spookverhaalskrywer Albert Short, neem jou op ‘n spookreis soos jy nog nooit tevore op radio gehoor het nie.

Luister op 27  Mei 2021 om 20:00 na Spooktrein deur Albert Short

Regisseur: Leon van Nierop

Rolverdeling:

Cindy Swanepoel

Cindy Swanepoel, Louis van Niekerk, Sulette Thompson en Casper Lourens

Louis van Niekerk en Cindy Swanepoel

CASPER LOURENS

Sulette Thompson

Spooktrein akteurs by regisseur Leon van Nierop. Van links na regs: Cindy, Sulette, Leon, Louis en Casper.

Die skrywer van Spooktrein, Albert Short aan die woord:

Albert Short

“Toe ek in 2019 Australië toe getrek het, moes ek aanvanklik treinry. Dit het gou sy bekoring verloor – die gewag, die hoesende mense en die frustrasie om net te kan gaan na plekke wat loopafstand van ‘n stasie is. Te midde hiervan het die idee vir Spooktrein begin groei en het ek ‘n groot deel daarvan sommer so op die trein geskryf.

Ek het besef hoe eenders ‘n treinstasie en ‘n verhoog is. Beide is stil en verlate, en dan kom die karakters, gevolg deur aksie en drama – en dan is dit oor. Die gordyn sak en die trein verdwyn om die draai. En dan sluimer als, totdat dit later weer van vooraf gebeur. En ek het besef hoe radiomatig ‘n trein kan wees.

Ek reken mense is bang vir spookstories want hulle is bang hulle word bang. Maar spookstories gaan oor soveel meer – oor tragedie en verlies en verlange. Ek glo ‘n goeie spookstorie moet jou nie laat gil nie, maar laat dink.

Dis is moeilik om oor Spooktrein te praat sonder om als weg te gee. Die meeste spookstories is seker so. Dit was VREES-lik lekker om te skryf en hopelik is dit VREES-lik lekker om na te luister.”

Spooktrein was ’n finalis in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2019.  In 2017 was hy met n Voorlopige begrafnis, ‘n medewenner.   Van sy spookstories is in 2009 deur Renske Jacobs voorgelees in haar program oor spookstories op RSG. Daarna het hy verdere spookstories geskryf wat  in ‘n bundel, Donker, opgeneem is.  Short skryf ook lirieke en van sy tekste is al deur Steffie le Roux en Frikkie van Biljon gebruik.