Luister weer: Daar’s iets omtrent Daisy


LUISTERAARS! MAAK JULSELF GEREED!, skryf regisseur Denver Vraagom:

“Ons inwoners van Aftreeoord Vredendal is terug en hierdie keer met meer opwinding. Let wel. . . Dis ‘n aftreeoord en nie ‘n ouetehuis nie, want daarvoor is hierdie klomp gans te jonk. Wel, dalk nie almal nie!  As jy gedink het “Doller as kop-af” was snaaks, moet jy “Daar’s iets omtrent Daisy” beleef.

In “Doller as kop-af” het Freek gedink dat ‘n opblaaspop net die ding is om dinge bietjie op te kikker. Hierdie keer het die skrywer, William Oosthuizen, seker gemaak dat Freek vir meer opwinding sorg. . . ‘n Kaalfoto. . . Vir ‘n kalender. . . Om fondse in te samel. Én, asof dit nie genoeg is, kom krap Daisy ook dinge vir vriend, Hardus, om.

William Oosthuizen se komedie tydsberekening, as dit by skryf kom, is iets om te beleef. Dan, met ‘n geselskap, so deurwinterd, kan hierdie radioteater net lig in ‘n mens se lewe bring.

So gepraat van geselskap. . .

Al het ek oor die jare baie tyd voor die mikrofoon, met baie van die akteurs spandeer, was hierdie projek bietjie oordonderend vir hierdie jong regisseur. Kobus Burger, baie dankie vir jou vertroue in my en baie dankie vir ‘n uitmuntende geselskap. Meer, kon ek nie voor vra nie. Dis sielsvoedend en sielroerend.

Ek hoop ons luisteraars geniet dit net so veel as wat ons dit geniet het, om te skep.

 

Die spelers van Daisy. Vlnr: Bettie Kemp, Patrick Monnana ( byklanke), Louis van Niekerk, Ria Smith, Lochner de Kock, Rika Sennett, Rina Nienaber, Elsabe Zietsman. Agter: Tobie Cronje. Voor: Denver Vraagom,( regisseur)