Verfraai jou dorp met mooi tuine


Gundula Deutschlander

Een van die maniere om jou dorp en jou eie omgewing te verfraai en en jou siel en liggaam te voed, is deur tuine aan te plant, of dit blomtuine, kruietuine of groentetuine is.

Op Tuindag deel Gundula Deutschlander, die meestertuinier van Babylonstoren wyshede, wenke en inspirasie.

Dié vriendelike groep het vrolike blommekranse gevleg op Babylonstoren.

Lees blogs van Gundula Deutschlander:
https://blog.babylonstoren.com/tag/gundula-deutschlander/

Wil jy op ‘n spesiale toer deur Babylonstoren se tuine gaan?
https://babylonstoren.com/visit-our-garden

Meer oor Tuindag

Hou jou blommekroon styf vas

Maak die tuin nat, snoei die struike en begin solank beplan aan die partytjiespyskaart. Tuindag 2022 vind op Sondag, 9 Oktober, plaas, en ons wil alle Suid-Afrikaners uitnooi om dit saam met ons te vier en te spog met hul pragtige groen ruimtes.

Jou tuin kan enige grootte of styl wees – of jy nou omring is deur ’n oorvloed monstera deliciosa op ’n nederige vensterbank of ’n boomdigte wildernis besit – almal word genooi om deel te neem.

Maak gereed vir feesvier

Kom ons begin by die begin. Dit is ’n vereiste dat almal ’n blommekroon dra, aangesien dit die amptelike simbool van Tuindag is. So raak kreatief en maak jou eie kroon. Sodra dit klaar is, kan jy hulde aan jou tuin bring deur familie en vriende oor te nooi vir ’n heerlike feesviering. ’n Skattejag, rustige braai, pronkerige teeparty, skemerkelkies op die balkon of ’n luilekker piekniek… kies wat ook al jou hart bly maak. Al wat ons vra, is dat jy jou blommekroon trots vertoon en jou feesvieringe met ons deel deur #GardenDaySA te tag.

Ondersteun jou gemeenskap

Suid Afrikaners is maar alte gewoond aan stygende kospryse en daarom plaas Tuindag die fokus op gemeenskapstuinprojekte en prys hulle vir die werkgeleenthede wat hulle skep en die kos wat hulle teen billike pryse aan plaaslike inwoners verskaf. Hierdie jaar werk ons saam met talle gemeenskapstuine waar jy kan gaan inloer om jou week se vars groente asook ’n pragtige blommekroon te koop. Jou bestanddele kan dan sommer onmiddellik in jou spesiale, (stedelike) plaas-tot-tafel Tuindag-middagete geniet word.

  • Tim Nectar Food Farmssal die dag by die Arekopaneng-sentrum, Uitbreiding 8B, Hoofweg, Orange Farm vier waar hulle saad en groente sal verkoop en die gemeenskap nooi om te kom leer om plante te kweek. Die feesvieringe sal van 10h00-12h00 plaasvind. Kontak Tim Abaa by 082 639 6621 vir meer inligting.
  • Die Moja Gabedi-tuinprojekop die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus, Feesstraat 389, Pretoria sal vrugte en groente wat deur studente en gemeenskapslede gekweek word, verkoop. Die vieringe is van 10h30-12h30. Kontak  Innocent Chauke by 084 7770 291 vir meer inligting.
  • Victoria Yards, geleë by Viljoenstraat 16, Lorentzville, Johannesburg sal daglank tuinaktiwiteite vir kinders aanbied. Besoekers kan ook vars vrugte en groente, asook saad en saailinge uit die tuin koop. Hulle is oop van 10h00-16h00. Vir meer inligting kontak Mike Walker by 083 6296 892.
  • Streetscapes-gemeenskapstuin in Bloemhofstraat, Distrik Ses, Kaapstad gaan ’n braai hou en sal van 10h00-12h00 boereworsrolle asook vars vrugte en groente verkoop. Vir meer inligting kontak Andrew Tulloch by 082 3060 533.

Nog ’n manier om ’n saadjie in jou gemeenskap te plant, is om aan te sluit by die nuwe Tuindag-vereniging, waar mense met groen vingers en ’n passie vir hul buurt aangemoedig word om die gees van Tuindag te versprei deur ’n groot feesviering in hul area te reël en soveel gaste moontlik te nooi. Stuur asseblief ’n e-pos na info@gardenday.co.za om meer uit te vind oor hoe jy betrokke kan raak.

Idees om jou tuin (feesvieringe) te help groei

Indien jy enige blink idees of groenvinger-inspirasie benodig, besoek die handige webwerf tuindag.co.za waar jy alles sal vind wat nodig is om ’n asemrowende, natuurskone dag te beplan – dit sluit in resepvoorstelle, aflaaibare uitnodigings, kunstige idees vir aktiwiteite om met die kinders in die tuin te doen en vele meer wenke om jou kreatiwiteit te laat blom.

Talle plaaslike tuinsentrums, kwekerye, botaniese tuine, plantwinkels, bloemiste, markte, restourante en kafees het almal beloof om Tuindag 2022 te ondersteun met spesiale veldtogte, met alles van uitstallings tot opwindende kompetisies. Is jou gunsteling-winkel/kuierplek betrokke? Besoek ons webwerf en vind uit. Indien nie, moedig hulle aan om betrokke te raak.

Vind inligting, nuusflitse en inspirasie by @GardenDaySA op alle sosialemedia-platforms. Volg @GardendaySA & #GardenDaySA en deel jou groen-geestige kuier en die wondere van jou tuin deur ons te tag in al jou sosialemedia-plasings.