WGSA-eer vir drie skrywers.


Die skrywer van ‘n   RSG radiodrama, Wilmi Wheeler , is pas aangewys as wenner van die WGSA se Muse-toekenning vir ‘n radioteaterteks.  Wilmi Wheeler van Bellville se drama Die Huisbesoek, is verlede jaar uitgesaai.  Nog twee skrywers wie se dramas ook op RSG uitgesaai is, was semifinaliste.  Hulle is  Janie Ligthelm vir Bring vir Karli;  en Johann Smith vir Boetie ontmoet ‘n alien. 

Die WGSA (Writers Guild of South Africa) het die toekennings in 2013 ingestel. Dit is daarop gemik om uitnemendheid in skryfwerk vir rolprent, televisie, die verhoog, radio en die web te erken en te bekroon.

Wilmi Wheeler

Wilmi Wheeler, skrywer van die wenteks,  Die huisbesoek  vertel meer van haarself en haar werk: “ Die mees uitdagende deel van skryf, is om ‘n idee te kry oor iets wat jy as skrywer kan vertel wat sin maak en kan vermaak. Nadat ek die Slypskool van 2019 in Seepunt bygewoon het, het ek met soveel inspirasie en motivering gesit, maar het geen idee gehad waaroor ek wil skryf nie. Ek het vir dae gesukkel om aan iets oorspronklik te dink, maar een dag het die storielyn van Die Huisbesoek my getref soos ‘n tien pond hamer teen die voorkop.  My man is ‘n predikant by De La Bat gemeente vir Dowes in Bellville  en tydens my soeke na ‘n storielyn was hy op huisbesoek. Voor ek my verbeelding kon keer, het ek begin dink aan wat ‘n jong predikant by ‘n huisbesoek kan oorkom. Celia, Paul en Dominee is toe gebore. Ek het die einde heel eerste geskryf en eers daarna die res van die verhaal ingekleur. Met visuele mediums, soos televisie, is jy beperk tot wat jy kan sien, maar by radio is dit glad nie die geval nie. Ek het grootgeword in ‘n huis waarin die radio altyd aan was.  Radioteater het my gedagtes in ‘n pretpark omskep terwyl ek na al die opwindende stories geluister het!  Ek het al probeer om stories in ander genres te skryf, maar dit kom nie so natuurlik soos rillers nie. My vriende spot altyd dat ek sweet and innocent lyk en eerder soetsappige stories oor skoenlappers en eenhorings behoort te skryf, nie oor donker temas nie. Maar dit is vir my vreeslik lekker om verhale propvol spanning te skryf.  Daar is min platforms vir jong skrywers om blootstelling te kry in Suid-Afrika en ek wil graag my netwerk verbreed en soveel moontlik mense in die skryfwêreld ontmoet. Toe ek hoor van die WGSA Muse Awards, het ek gedink dit is die ideale geleentheid daarvoor en ek kon dit eenvoudig nie deur my vingers kan laat glip nie!  Ek skryf, want daar is krag in ‘n storie. Daar is min dinge so lekker as om na ‘n goeie storie te luister, die realiteit soms net vir ‘n rukkie te ontsnap en deel te raak van iemand anders se verhaal.

Jani Ligthelm

Janie Ligthem, ‘n semifinalis, sê: “Ek skryf gewoonlik oor iets wat werklik gebeur het. Ek verander so baie besonderhede rakende my karakters, tye, plekke en omstandighede dat mens kan sê dit is fiksie wat geïnspireer is deur ‘n ware gebeurtenis.  Die hartseer wat as gevolg van hierdie gebeure vir baie jare voortgeduur het, het my laat besluit om die Bring vir Karli  te skryf om ouers hopelik tot die besef te bring dat ons nie áltyd die beste weet wat ons kinders nodig het, of wat hulle gelukkig sal maak nie. Dit is dalk belangriker dat ons hulle, met hulle (soms dom) besluite en al, liefhet en aanvaar.  Ek is baie lief vir radio. Ek het ‘n baie visuele verbeelding, en tong-in-die-kies kan ek sê die beelde op radio is vir my duideliker as diè op TV. En ek probeer so skryf dat ander mense dit dalk ook so kan ervaar. Ek skryf ook artikels vir die Gereformeerde Vroueblad. Aangesien ek ‘n afgetrede sielkundige is, skryf ek vir die tydskrif artikels oor aspekte in die sielkunde, asook ligte “leefdinge” – artikels.  Ek is deel van ‘n groep wat Christelike dagstukkies vir “Oorgrense Veiligheidsgroepe” keur, vertaal en Bybelgetrou hou. Die stukkies word daagliks via WhatsApp en Telegram aan meer as 100 veiligbeidsgroepe landswyd gestuur.  Ek skryf omdat ek nog altyd lief was vir taal. Afrikaans veral.  Ek het baie geskryf as sielkundige, maar een van die voordele wanneer mens ouer word is dat jy naderhand kan uitkom by liefdes waarvoor daar voorheen nie tyd was nie. En vir my is dit is die skryf van dialoog.”

Johann Smith

Boetie ontmoet ‘n alien is geskryf deur Johann Smith:  Hy vertel: “ Ek is nie seker of ek meer geïnteresseerd is in planete en die heelal en of dit my liefde vir reis is wat my dikwels laat droom oor interplanetêre reise nie. (Ek vermoed dit is laasgenoemde). Maar ek het een dag gesit en wonder hoe ons as ‘n spesie vir ‘n besoeker van die buitenste ruimte sou voorkom – eintlik heel bisar. En toe wonder ek hoe dit sou wees as ‘n wese uit die buitenste ruimte ‘n gesin op ‘n Suid-Afrikaanse plaas ontmoet. Radiodramas is in ‘n sin onbeperk. Daar is nie ‘n begroting nodig om ‘n gebou te laat ontplof, ‘n ongeluk met duur motors te laat plaasvind of ‘n ruimtetuig te laat kom land nie. Al hierdie wonderlike dinge gebeur in die gedagtes van die luisteraar. En die ervaring is anders vir elke luisteraar. Dit is eintlik ongelooflik!  My skryfwerk het eintlik met lirieke begin. Ek het later saam met twee kollegas (Cobie Smit en Erna Grové) kabarette vir tienertonele geskep. Dit is eintlik waar ek my tande begin slyp het. Ek het eers later begin om suiwer komedie of drama te skryf.  Daar is iets baie spesiaals om erkenning van ander skrywers te ontvang. Hulle ken die skryfproses goed genoeg om deur al ‘n mens se foefies te kyk, so jy kan hulle nie om die bos lei nie. Maar hulle verstaan ook die uitdagings – die wroegings en eensaamheid – wat ‘n skrywer ervaar. Skryf as sodanig is selde lekker. Dit is harde werk. Dit is eensaam. En soms is dit ondankbare werk. Maar die kreatiewe proses wat dit voorafgaan en die “magic” wat daarna gebeur, maak dit die moeite werd. Dit is ‘n ongelooflike gevoel om te sien hoe fantastiese kunstenaars lewe aan ‘n teks gee. ‘n Akteur spandeer ure om jou woorde te leer en jy voel skuldig dat jy nie meer tyd aan elke woord of sin of spreekbeurt spandeer het nie. ‘n Kunstenaar soos ‘n klankingenieur of stelontwerper stort hul hart in ‘n projek wat die subteks van jou skryfwerk inkleur. ‘n Hele span mense kom bymekaar om lewe te gee aan iets wat jy in jou studeerkamer geskep het. Dit maak skryf die moeite werd. Dit is “magic”!

Al drie die dramas is as potgooie beskikbaar by ww.rsg.co.za as jy weer daarna wil luister – of dit nog glad nie gehoor het nie!

Luister ook na Skrywers en Boeke van 19 Mei:

Vind meer uit oor die skrywer CJ Langenhoven se geheime liefde, Sarah Goldblatt, wanneer Ilse Salzwedel met die skrywer Dominique Malherbe gesels oor haar biografie OP SOEK NA SAARTJIE. Ilse gesels ook met Wilmi Wheeler oor haar radiodrama, DIE HUISBESOEK, wat met ‘n Writers Guild of South Africa-toekenning bekroon is. Johan Myburg gesels in sy bydrae oor die internasionale letterkunde onder andere oor die Dylan Thomas-prys en die wenners van die Britse Book Awards.