Amore se laaste antwoorde op kollegas se vrae


Amore Bekker

Die bekroonde radio-omroeper Amore Bekker, tans aanbieder van die oggendprogram Alhoebekker op RSG, gaan ná sowat twee dekades ’n paar nuwe horisonne betree, weg van die radiomikrofoon.

Bekker sal op Vrydag 28 April 2023 van 09:00 tot 12:00 Alhoebekker vir die laaste keer aanbied.

Haar RSG-kollegas het vir oulaas ‘n paar vrae aan haar gestel.
Sy sê toe sy antwoord kort want sy is ‘n DJ wat baie sê met min woorde.

Vra asb vir haar oor die keer toe sy ‘n ou tannie moes laat weet dat sy ‘n bootreis gewen het in die Beeld-Kinderfondswedstryd. Hoe meer Amore die goeie nuus probeer oordra, hoe meer besware het die tannie gehad. “Moet ons volgende week gaan, want ek kan nie?”. Dis een van die heel snaaksste stukke radio wat ek in my lewe gehoor. Hoe het sy daardie dag haar ‘pose’ gehou?
Amore: Luisteraars moes inskryf om ‘n rit op ‘n boot te te wen. Ons trek die die gelukkige wenner. Ek bel toe die “gelukkige wenner” en hy sê summier hy wil nie die prys hê nie. Ek probeer toe die prys aan hom “verkoop”, en hy weier volstrek. Ek vra toe vir hom om die foon asseblief vir sy vrou te gee, want dalk wil sy gaan, hy sê toe sy sny tans die gras. Ek vra hom toe om die foon na haar te neem, kom ons sê haar naam was “Lettie”, toe is Lettie so doof soos ‘n kwartel.  Sy verstaan my nie, en toe sy uiteindelik hoor hulle het ‘n bootreis gewen, toe sê sy ook nee dankie, sy wil liewer Kalahari toe gaan…

Was jy al spyt oor iets wat jy op lug gesê het en wat was dit?
Amore: Ja, baie, en dankie tog, ek het dit vergeet.

Hoe motiveer jy jouself as jy ‘af’ voel voor jy jou program aanbied?
Amore:  Ek huil kliphard, en eet iets.

Wat gaan jy die meeste mis van RSG/Radio?
Amore: My kollegas en die luisteraars

Watter musiek genre is jou gunsteling?
Amore: Wêreldmusiek

Hoe kry jy dit reg om elke dag so gelukkig en energiek te klink wanneer jy uitsaai, al voel jy dalk nie aldag so nie?
Amore: Ek sorg dat my maag vol is, en vind iets baie interessants om oor te praat.

Wat is die grootste flater wat jy al op lug gemaak het en hoe het jy jou daaruit gewikkel?
Amore: Ek het ‘n grap vertel oor paasnaweek van ‘n toeris wat dood is in Jerusalem….ek kon nie daar uitkom nie.

Wat was die aangrypendste op-lug oomblik vir jou?
Amore: Toe ‘n vrou vir my bel, en sê sy gaan selfmoord pleeg, en my vra om haar asseblief nie te keer nie. Ek dink baie oor haar.

Hoe bly jy so forever young, beeldskoon en flatervry?
Amore: Ek weet nie van die beeldskoon en flatervry nie, ek volg maar net my instink. Ek  doen dit nog altyd, en ek is nou 58jr oud, en my instink het my nog nooit in die steek gelaat nie.

Wat het jy teen gemaksones?
Amore: Dit maak mens oud

Hoe weet mens wanneer dit finaal tyd is om die mikrofoon af te sit?
Amore: Ek weet nie van “finaal” nie, want ek wil tog eendag weer uitsaai.

Wat sal jou altyd bybly van RSG en sy mense?
Amore: RSG het die hulpvaardigste omroepers, en die mees lojale luisteraars.

“Ek is dankbaar dat ek vir twintig jaar by RSG kon uitsaai. Ek het soveel geleer en beleef, dit was die perfekte leerskool vir my op alle vlakke. Dankie, dankie!”

RSG se Sakebestuurder, Louise Jooste, het gesê: “Amore Bekker is ‘n radiolegende in die Afrikaanse uitsaaibedryf. Sy verstaan die intimiteit en mag van die medium, en is ‘n oorrompelende storieverteller wat vir soveel onvergeetlike uitsaai-oomblikke en -projekte gesorg het. Sy laat ‘n reuse-leemte en diep voetspore wat vir lank onthou sal word.”

Haar kollegas sê: Alles van die beste, Amore!

Lees meer oor Amore:

Amore Bekker – Tyd om te groet