Ampie is nou radio-vervolgverhaal


Op Donderdag 8 Desember om 14:45 het ‘n nuwe vervolgverhaal op RSG begin: Die Ampie-Trilogie, deur Jochem van Bruggen; vry vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.  Dit word in Kaapstad opgevoer deur Joanie Combrinck, en die hoofkarakter, Ampie, word vertolk deur DeKlerk Oelofse.

Dit is een van die klassieke werke in Afrikaans, en is voorheen op die verhoog en vir televisie verwerk en opgevoer.  Nou is dit op radio,

Die veteraanregisseur en -verwerker, Dr. Eben Cruywagen, gee agtergrond oor die verwerking en Van Bruggen se werk:

Die verhoogstuk, Ampie, wat in 1971 deur die destydse streekrade, TRUK en KRUIK op die planke gebring is, het aanvanklik heelwat vrae en onsekerheid ontlok: Sal die publiek nog belang hê by die vraagstukke van bykans ’n halfeeu tevore?

Die karakters wat deur Van Bruggen geskep is, is lank nie meer verarmde, landelike ongeskooldes wat hulle plase verlaat en na die stede verhuis op soek na ’n beter kans op oorlewing in ’n snelveranderende wêreld nie. Hulle is nou welvarende, suksesvolle stedelinge. Sou só ’n verhoogstuk, so vroeg na die opening van die Nico Malan Teater in Kaapstad en die Staatsteater in Pretoria, nie té ’n groot waagstuk wees nie? Veral ná die mislukte toer wat Van Bruggen sélf met sy teatergeselskap in die dertigerjare onderneem het met die verwerking van sy boek, Met Ampie deur die depressie, waar die stuk kwalik ondersteuning ontvang het.

Met Marius Weyers as Ampie, het die teaters in 1971 egter uit hulle nate gebars en kon niemand uitgepraat raak oor dié wonderlike toneelstuk nie.

Nou, een en vyftig jaar later, word die verwerking van die Ampie-trilogie as ’n radiovervolgverhaal deur RSG aangebied. Miskien kan dieselfde vrae weer gevra word as in 1971, maar uit ondervinding weet ons dat RSG-luisteraars hulle verlustig aan goeie stories. ’n Soortgelyke eksperiment op RSG was in 2018 met die verwerking van C.M. van den Heever se Hertzogprys-bekroonde Laat Vrugte, wat in die negentiende eeu op ’n plaas afspeel. Dié verhaal is gunstig ontvang.

Die Ampie-trilogie bestaan uit die drie romans, Ampie: Die natuurkind (wat in 1925 met die Hertzogprys bekroon is), Ampie: Die meisiekind (wat in 1927 ook met die Hertzogprys bekroon is) en Ampie: Die kind, wat in 1942 uitgegee is. Al drie romans is deur die eertydse Afrikaanse Persboekhandel gepubliseer.

Alhoewel die romans (in alle waarskynlikheid) in die eertydse Wes-Transvaal afspeel, is die verwerking vir die radio vry, deurdat die verhaal verplaas is na die Klein Karoo se Oudtshoorn/De Rust-omgewing, met bruin- in plaas van swart karakters.

Ter wille van opvoerbaarheid en geloofwaardigheid, het naamlose plase, karakters en lokaliteite van die romans in RSG se vervolgverhaal name gekry: Ampie, Goor Dawid en Ma Nortjé se murasie word WASGAT in die verwerking; Kasper en Grieta Booysen is van die plaas AANGENAAM; die eienaar van die plaas, Vlakplaas, waarop Tys en Annie met hulle kinders Bart en Annekie as bywoners woon, is HERMAN BRANDT, alhoewel hy nie as karakter gehoor word nie, maar dikwels na verwys word. Ook Tys se van word nie genoem nie, maar daar word na die Tysfamilie verwys. Ter wille van geloofwaardigheid het die gesin die van LOMBAARD, in die verwerking gekry.

Ander naamlose karakters in die romans is JOSHUA EISEN, ’n Joodse handelaar op die dorp en sy arrogante seun, ELI; PIET (die jong dranksmokkelaar) en JAN (die ou dranksmokkelaar) met wie Ampie ’n nag in die polisieselle op die dorp deurbring, en BOB, die diamantkoper op die delwerye.

Die verwerking speel af, nes in die publikasies, iewers tussen 1919 en 1923. Alhoewel diamante reeds in 1867 ontdek is in die omgewing van Hopetown en langs die Oranjerivier, word daar nooit na spesifieke diamantvelde in die derde roman verwys nie. Dit is dus baie moontlik dat die naam, Donkerpos, wat deur Van Bruggen gebruik is, fiktief is. Die plasing van die nuut-geproklameerde delwery word in die verwerking daarom in die omgewing van Douglas, naby die samevloeiing van die Vaal- en die Oranjeriviere geplaas, waar daar wel diamante in die vorige eeu ontdek is.

Oor Jochem van Bruggen se langer prosa en romans:

  • Van Bruggen skryf hoofsaaklik oor die verarmde Afrikaner se stryd met die politieke, maatskaplike en ekonomiese klimaat aan die begin van die twintigste eeu.
  • Hy is een van die eerste skrywers in Afrikaans wat geloofwaardige, ronde karakters skep in sy prosa (in teenstelling met sg. plat of eendimensionele karakters).
  • Sommige van sy karakters is onvergeetlik in Afrikaans: Liepie Stols (in: Teleurgestel); Oom Lood (in: Die Burgemeester van Slaplaagte); Lambertus Bredenhand (in: Die Sprinkaanbeampte van Sluis) en Org Basson (in: Org Basson). Die bekendste karakter en sekerlik die mees geliefde van al Van Bruggen se karakters, is Abraham Nortjé, alias Ampie. Die Ampie-Trilogie word deur vele kenners as Van Bruggen se Magnum Opus beskou, ten spyte van die feit dat die eerste deel van die trilogie, Ampie: Die natuurkind, sy ontstaan gehad het as ’n kortverhaal in Die Brandwag van 10 Desember 1921. Daarna verskyn ook nog twee Ampie-kortverhale in Die Burger. Dit verklaar grotendeels waarom die struktuur van die eerste publikasie fragmentaries voorkom en deur kritici van daardie tyd betreur is.

Kritiek op Jochem van Bruggen se werk:

Kritiek teen Van Bruggen se werk was die duidelike skeiding tussen goed en kwaad en die dikwels moraliserende aanslag onderliggend aan heelwat van sy verhale. Nog kritiek was juis die episodiese of gefragmenteerde bou wat in die meeste van sy romans en novelles voorgekom het. Die gebrekkige logiese opeenvolging van handeling en gebeure is destyds veral as sy grootste swakpunt uitgewys.

Slotopmerking:

Ten spyte van die kritiek teen Van Bruggen se werk en ten spyte van die era waarin die Ampie-trilogie afspeel, glo ek die gegewe sal luisteraars meevoer en een van die kleurrykste karakters in die Afrikaanse letterkunde laat herleef en aan die oningewydes bekendstel. Ek is opreg dankbaar dat ek die geleentheid gegun is om een van my gunstelingkarakters in die Afrikaanse letterkunde na die radio te bring en nie net één publikasie in die trilogie te verwerk nie, maar die volle verhaal van Abraham “Ampie” Nortjé.

Dit bly altyd ’n reuse eer en voorreg om van Afrikaans se voorste skrywers en romans vir RSG te mag verklank!

Die nuwe middagvervolgverhaal, Die Ampie-Trilogie, begin 8 Desember om 14:45 op RSG

LUISTER

Eben Cruywagen gesels oor die verwerking van ‘n boek tot ’n radiovervolgverhaal, en die uitdagings van ‘n periodestuk soos die Ampie-trilogie.

 

Deel 1. Episode 1
Ampie word deur sy hardvogtige pa, Goor Dawid Nortjé, een van die moeilikste take opgelê wat ’n jongman van 19 jaar opgelê kán word.

 

Deel 1. Episode 2

Ampie se beste vriend en metgesel, ou-Jakob, die donkie, word vir net twee pond verkoop aan die welgestelde boer, Kasper Booysen van die plaas Aangenaam. Ontsteld oor die verlies van sy vertroueling én die feit dat hy nie vyf pond vir ou-Jakob gekry het nie, sien Ampie nie kans om huis toe te gaan nie.