D staan vir Derrich, dmikrofone, dtuine, dfotografie en dfiks


Derrich tydens die verfilimg van Tuintoere

RSG se luisteraars ken almal die stem vam Derrich Gardner. Hy spog met ‘n reuse aanhang as hy Sateroggende in RSG se ateljee agter die miskrofoon inskuif en luisteraars vermaak met Vat Vyf, tuinmaakwenke en baie meer. Hy is ook bekend as televisie-aanbieder. Maar wie is Derrich as hy by die huis is?

Derrich vertel self:

Op Vader Krismis se skoot.

“Ek is gebore in Johannesburg en het groot geword op Lawley. Vandag is dit deel van Ennerdale en die groter Johannesburg.

Almal het almal geken. My Pa was saam met die skoolhoof en posmeester, die enigste mense wat “commisioners of oath” was in die gemeenskap. Hy was die stasiemeester.

Twee van sy medewerkers was my ander pa’s, en Frank en Molefi het my eintlik grootgemaak en vandag kan ek myself stewig verdedig in Sotho en Zulu. Hul kinders was my maatjies. Lenasia was om die draai, so ek ken die Indiërkultuur ook baie goed. My vormingsjare het daar begin.

Kleintyd

Op skool het ek in die algemene handelaar, Oom Kiefer, se winkel gewerk vir ekstra sakgeld. Ons het ‘n groot vrugteboord gehad en persketyd was ek op die perron om my vakansiegeld te verdien deur vrugte te verkoop aan die pendelaars wat huistoe gekom het. Gandhi se huis was ook daar naby.

Agter die mikrofoon

Agter die mikrofoon

Ek speel al radio van dat ek kan onthou. My Afrikaanse skooljuffrou en ek het steeds kontak, want ek het haar mal gemaak omdat ek net wou gaan uitsaai en sy moes elke opname luister…

Ek is RAU toe want daar was ‘n kampusradio en dit was naby die SAUK. So ek het gereeld by Fanus Rautenbach en ander in die ateljee gaan kers opsteek en leer.

Ek was later vir lank die hoof van “RAU Radio” en baie bekendes was saam my daar. Martinus van Schalkwyk was ons SR voorsitter, Darryn Scott, Mark Gleeson, Mike Schussler, Collins Rex, en baie van ons wat nou nog uitsaai het daar saam begin.

My eerste radiowerk was by SAUK se “Radio Hoëveld” waar ek 12 jaar voltyds gewerk het. My pos was dié van Evie Martin (Van LM Radio/Sprinkbok/Hoëveld) wat afgetree het. Ek was deel van die span wat die SAUK gehelp het met veranderinge, om die stasie later te verkoop en vandag is dit 94.7.

Daarna is ek 6 jaar Jacaranda toe waar ek weereens deel was van die groep om Radio Jakaranda in die moderne tyd in te trek na waar dit vandag staan. RSG het my toe nader getrek en hier is ek nog steeds en geniet elke oomblik op lug.

Tuine, fotografie en ander liefdes

Tuine: een van groot liefdes

Derrich is ook ‘n ywerige fotograaf

Ek sou heel moontlik tuinboukundige, fliekmaker of fotograaf word as ek nie uitgesaai het nie. Ek het nogal so kuns-streep en het myself geleer om ook grafiese ontwerp te doen en my pad leer vind met editing van TV materiaal.

Ek raak soms so besig dat ek op drie rekenaars gelyktydig werk…. Kantoorwerk is nie vir my nie.

Musiek

Ek werk al tien jaar deeltyds vir een van die grootste internasionale digitale musiekorms. Ek het gehelp om die eerste “streaming” speellyste uit te werk en help steeds en verskaf van die notas vir die nuwe musiek. Dis nogal ‘n pluimpie dat internasionale maatskappye mens se musiekkennis gebruik.

Fiks en gesond

Ek oefen baie hard en leef gesond. Gimnasium is my wegkruipplek want die selfoon en werk bly tuis. Daar is dit net jy en jou kop wat kan skoonmaak so tussen die sweetdruppels. En in ons beroep is dit ook belangrik om bietjie op jou voorkoms te let want dit verleng mens se raklewe op TV.

Ek is ook so iewat ADHD-erig en die rooimiere trap ek dood in die gym. Ek en Tannie Google lees omtrent als wat nuus en van belang is. Ek is altyd nuuskierig. Die wêreld se inligting is deesdae net ‘n muis-klik weg.

En ek hou van vars nuus en inligting. Die koerante moet by my hoor wat is môre se gebeure.

Brêfkfis met Derrich is spesiaal vir RSG-luisteraars geskep

Foto: Derrich Gardner

Brêkfis met Derrich is aanmekaar gesit om by my gehoor te pas. Ek ken die luisteraars baie goed want ek is een van hulle.

Ek het nie ‘n regisseur nie. Ek doen als self. Die tegnies ook. Navorsing, alles!. Ek ry self die karretjie in die rigting  wat ek dink werk. En Vat 5 is vir my alles want jy hoor die beste stories van die beste mense wat vir 20 minute die land tot stilstand bring. “Memories” is seker een van ons sintuie wat ruik, hoor, voel en als insluit. En dit word ontsluit die oomblik wat ‘n storie aan musiek gekoppel word op Vat 5. En vir my is dit al soos weeklikse terapie. Ontsnapping in tyd. Verbasend is hoeveel jongmense saam met hulle ouers na my program luister.

Op een van sy reise

Orals op my reise maak hulle ‘n punt daarvan om dit aan my te noem. En dis ‘n groot pluimpie vir  RSG dat ons programme so wyd geluister word.

Ek het onlangs ‘n uitstalling van my fotos gehad in Rosebank Mall in Johannesburg. En wow, dis dieselfde plek waar Peter Magubane uitgestal het. Wat ‘n eer en voorreg om in sy voetspore te mag trap. Die reaksie was ongelooflik. Fotografie leer mens om met ander oë na die wereld te kyk. Dis amper kinderlik. Soos ‘n kleuter wat elke dag en sekonde iets nuuts raaksien en gaan ondersoek instel. Met fotografie moet mens net die tegniese deel kan bemeester om daai oomblik so vas te vang dat ander mense dit ook kan sien. Ek raak nog opgewonde elke keer as ‘n bytjie op ‘n blom kom land. Ek moet beklemtoon, fotografie is net ‘n stokperdjie!. Einde Maart gaan hulle weer 59 van my fotos hang vir twee weke.

Ek werk ook hard aan ‘n reeks oor eksklusiewe tuinfotos van tuine wat gewoonlik nie oop is vir die publiek nie.

Hy is mal oor die wildlewe. Hier is Derrich by Jabulani.

En ek is gek oor wildlewe en kan met my kamera wegraak in Kruger Wildtuin.

EK het sopas nog ‘n TV reeks voltooi van “TuinToere 2” vir VIA TV. Dit gee die kyker toegang tot SA se mees ongelooflike tuine en die mense daaragter. Ek is die aanbieder. En ons hoor daar is dalk ‘n derde reeks aan die kom. Versoeke is ontvang dat ons dit ook in Engels moet doen vir buitelandse netwerke… ons sal maar sien.

Derrich tydens ‘n opname van Tuintoere.

Derrich by een van die japluiperde op Kapana

Foto: Derrich Gardner

Een van Derrich se foto’s met die Goudstad as tema.

Foto: Derrich Gardner