Luister weer: Die Diep Donker Web


Die Diep en Donker Web bevat webwerwe wat nie deur gewone soekenjins gevind kan word nie. Hulle is nie geïndekseer en nie in soek-enjins geargiveer nie.

Die wêreldwye web wat ons deur Google en ander soekenjins kan ontgin, beslaan slegs 4% van alle inligting op die groter internet. Dit is letterlik die puntjie van die ysberg wat uitsteek, die oortjie van die seekoei.

Die volgende vlak is die Diep Web, wat sowat 90% van alle Internet inhoud bevat. Hier word akademiese inligting, mediese rekords, subskripsie-inligting en staatsdokumente gestoor. Die databasisse is nie bereikbaar deur gewone soekenjins nie.

Die diep web is die eenvoudigste deel van die verborge en donker internet.

Die Donker Web is nog dieper versteek en veel donkerder. ‘n Mens kry toegang tot die Donker Web via ‘n private blaaier genaamd Tor.

Die Donker Web word deur sy eienaars versteek agter ‘n betaaldiens, en dit bevat gekodeerde inligting, nuuslekkasies, internasionale geheime, netwerke vir hacker-opvoeding en verbode toepassings. Voeg hierby skrikwekkende en ontstellende inligting, kinderpornografie-netwerke, dwelmhandelwebwerwe en webwerwe vir handel in menslike organe.

Internasionale agentskappe probeer die donker webwerwe wat gesteelde, onwettige en geheime dokumente uitlek, of strydig is met plaaslike en internasionale wetgewing, sluit om inligting te beveilig.

In die dokumentêr  “Die Diep Donker Web” ondersoek Jody Hendricks en sy gaste, Pieter Geldenhuys, Prof Basie von Solms en Jacques van Heerden die verskilende vlakke van die internet, hoe dit werk en die gevare wat daarmee gepaard gaan.

Die Diep Donker Web word op 27 Januarie om 20:00 die aand uitgesaai.

Lees meer oor die Diep en Donker Web:

https://www.azfamily.com/what-exactly-is-the-deep-web/article_f24a581c-9203-5b49-a0da-969ebc5502ed.html

https://www.britannica.com/story/whats-the-difference-between-the-deep-web-and-the-dark-web

Prof Basie von Solms

Pieter Geldenhyus.