Luister weer: Die Begrafnis


Rudie van Rensburg vier vanjaar sy 70e verjaardag – ‘n man wat al die lewe geloop het. Hy skryf oor ouderdom. Die dood. Hy skrik nie vir moeilike temas nie. Sy invalshoek is kenmerkend komies.

Donderdagaand (20 Mei) om 20:00 in RSG se Radioteater kan jy luister na  sy drama, Die Begrafnis – vir ‘n ligte perspektief op ‘n gewigtige onderwerp.

‘n Langdradige lykbesorger, ‘n Pretoriase paaldanseres en ‘n skottel sousboontjie bredie is maar ‘n paar van die dinge wat ‘n weduwee kan beproef met die ter aardebestelling van haar ontslape eggenoot…

In die rolverdeling is…

Margit Meyer-Rodenbeck, Antoinette Kellerman, Roeline Daneel, Petrus du Preez, Gerard Rudolf, Zenobia Kloppers, Amor Tredoux.

Antoinette Kellerman as die bedroefde en beproefde weduwee, Ant Vossie.

Zenobia Kloppers gee bekkige bystand as haar getroue huishulp, Vytjie.

Nuuskierige buurvrou en ma van nege, synde Konyntjie, word gespeel deur

Margit Meyer-Rodenbeck.

Roeline Daneel kan gehoor word as die opportunistiese paaldanseres van Pretoria, Patsy.

Petrus du Preez is die langdradige lykbesorger, Balsening.

Ant Vossie se verloopte zef telg, Smous, word gespeel deur Gerard Rudolf.

Petrus, Margit, Antoinette as Balsening, Konyntjie en Ant Vossie.

Margit, Petrus, Antoinette, Gerard as Konyntjie, Balsening, Ant Vossie en Smous.

Roeline en Zenobia as Patsy en Vytjie.

Die regie is behartig deur Amor Tredoux.

Die Begrafnis is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.

Akoestiese en tegniese versorging is deur Cassi Lowers.

Regisseursnota

Ons is almal op ‘n avontuurreis tussen geboorte en dood. En die onvermydelike begrafnis. Dis nou maar die lewe. Hy ontsien ‘n mens nie noodwendig sy absurditeite in sy pynliker oomblikke nie.

Dit is dan ook Ant Vossie se ervaring met die oorlye van haar eggenoot, Vierman, in Rudie van Rensburg se lekkerlag komedie, Die Begrafnis. Gou begin die situasie uitrafel as die langdradige, dog onbekwame begrafnisondernemer, Balsening, plan moet maak om die swaarlywige ontslapene uit die agterste kamertjie, waar hy die tydelike met die ewige verwissel het, te verwyder. En as Ant Vossie se ‘verlore seun’ opdaag vir sy pa se begrafnis, saam met sy paaldanseres stukkie, begin die poppe behoorlik dans…

Ek was bevoorreg om ‘n gedugte span talent te kon bymekaar maak vir die projek: Antoinette Kellerman, Zenobia Kloppers, Margit Meyer-Rodenbeck, Gerard Rudolf, Roeline Daneel en Petrus du Preez.  Dit was suiwer pret om met sulke pro’s wat soveel genot put uit wat hulle doen, te kon saamwerk. Dankie aan hulle. En dankie aan Cassi Lowers vir haar fyn tegniese en akoestiese versorging.

Lekker luister. Lekker lag.

Amor Tredoux.

Hier is video materiaal uit Die Begrafnis. Jaloerse Smous (Gerard Rudolf) foeter vir Balsening ( Petrus du Preez) as hy hom in die donker betrap met sy pop (Roeline Daneel).