Donderdagaand: Die Laaste Woord


Kom luister weer na Die Laaste Woord, deur Lee Doubell.  In Kaapstad opgevoer deur Johan Rademan.

Die regisseur, Johan Rademan aan die woord:

Die Laaste Woord deur Lee Doubell speel oor drie tydperke af.  Kom verlustig jou in ‘n eeu se omswerwinge van Eugene Marais se geliefde en alombekende gedig: Winternag.

Eers is daar die oordadige vertolking in 1938, dan die realistiese, naturalistiese 2021 en uiteindelik die gefabriseerde rekenaarstemme in 2138.

In 1938 – kort na die aanvang van die eerste radio-uitsendings in Afrikaans as die destydse B-diens,  met ‘n historiese geborgenheid, selfs in die melodramatiese vertolkings uit die era. In 2021 – met die realisme waaraan ons vandag gewoond is, die uitsaai in huidige vorm en die pestillensie wat ons omring. En dan in 2138 – ‘n apokaliptiese gerobotikaseerde stem en stemmingstydperk wat geprojekteer word, maar met ‘n menslike kinkel in die ontsluiting van die IT-gedrewe omgewing.

Jacques Bessenger , Rolanda Marais en Deon Lotz die enigste 3 akteurs in Lee Doubell se skitter teks “Die Laaste Woord. Tussen die drie akteurs vertolk hulle 10 rolle in drie tydvakke.

Drie akteurs vertolk 10 akteurs in 3 tydvakke waarin die luisteraars  hulle sal kan verkneukel. Nie net word vaardighede uit die boonste rakke ten toon gestel nie, maar word die spelers direk gekonfronteer oor hulle loopbane vandag. Word die menslike vlees  ook op kreatiewe wyse “oorgeneem”  deur IT, robotika, en algoritmes wat algoritmes kan lees, verander en selfs herskryf om emosies te simuleer?  Een van die akteurs hou die sleutel tot ‘n moontlike uitkoms in die wedloop tussen Masjien en Vlees.

Kom ervaar 3 ateljees se klanke en werksaamhede in drie tydsgewrigte in  Die laaste woord.

Akteurs:  Rolanda Marais, Jacques Bessenger en Deon Lotz.

Akoestiese versorging:  Cassi Lowers

Regie:  Johan Rademan.

Die Laaste Woord word akoesties gelei deur Cassi Lowers met agter haar Rolanda Marais, Jacques Bessenger, Johan Rademan(regisseur) en Deon Lotz.

Die akteurs in aksie:

Die skrywer, Lee Doubell  aan die woord:

Lee Doubell

“Ek het in Pretoria grootgeword, en as kameraman en musikant in amper elke stad en dorp in die land al gewerk en gewoon. Teater het nog altyd ʼn groot deel van my lewe uitgemaak, en radiodrama is al van kindsbeen af vir my belangrik. Ek is natuurlik oud genoeg om deur my kinderjare te kon kom sonder televisie, selfone en sosiale media.

 Die laaste woord het gekom na ʼn gesprek oor klank en die toekoms van stemakteurs. Die teks kyk terug na die begin van radio-opnames, en praat ook oor waar ons vandag is, en waar ons dink ons in die toekoms mag wees.”

Doubell het in 2017 die RSG/Sanlam Radiodramaskryfkompetisie gewen met ‘Rommel, rommel.’; in 2018 was hy ʼn finalis in die kompetisie, en in 2019 het hy die derde plek in die kompetisie beklee. In 2020 was hy weer ʼn finalis met ‘Amsterdam adagio’.  Hy het  ook tydens die inperkingstyd ‘Krag’ geskryf,  en so gewys dat radiodrama wel kan werk al mag daar net een akteur in die ateljee wees. Sy eerste middagvervolgverhaal was ‘Wild en Woeker’ wat in 2021 uitgesaai is.